1847: SJ DU TOIT, 1e AFRIKAANSE NASIONALIS

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 9 OKTOBER

Stephanus Jacobus du Toit is op hierdie dag op Dal Josafat by die Paarl gebore. Hy het sy skool- en teologiese opleiding respektiewelik aan die Paarlse Gimnasium en die Kweekskool op Stellenbosch ontvang.

SJ du Toit was onder die invloed van Arnoldus Pannevis 'n vurge voorvegter vir Afrikaans as selfstandige taal. Sy politiek-nasionaale doelstelling – "om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land" – het hy deur die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus in 1875, met as spreekbuis Die Afrikaanse Patriot, die Afrikanerbond in 1879 en sy aandeel in die opstel van die Afrikaanse Volkslied, bevorder. Hy kan daarom as die eerste Afrikaanse Nasionalis beskou word.

In 1882 het hy Superintendent van Onderwys in Transvaal geword. Sy onderwyswet het die onderwys in die Republiek bevorder. Sy eersug en betrokkenheid by Transvaalse politieke aangeleenthede soos die Wesgrens-kwessie, die Pretoria-Konvensie, aandele-spekulasies in die Goudstad, leerstellige aangeleenthede en sy teenkanting teen die regering se konsessiebeleid, het hom in regeringskringe ongewild gemaak.

In 1888 het hy as Superintendent van Onderwys bedank en hom weer in die Paarl gaan vestig waar hy hom met die vertaling van die Bybel in Afrikaans, 'n taak deur die GRA in 1885 aan hom opgedra, besig gehou het. Hy het dus ook 'n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse Bybelvertaling geword.

Na sy terukeer na die Paarl het hy die beleidsrigting van Die Patriot gewysig. Sy kritiek op die Krugerbewind en pleidooie vir konsiliasie tussen Brits- en Afrikaanssprekendes het hom verder van sy mede-Afrikaners vervreem.Die gevolg was dat die Eerste Taalbeweging waarvan hy die vader was, teen 1900 doodgeloop het.

In sy tweede Paarlse tydperk het ds SJ du Toit egter verbasend veel ter bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde sowel as oor algemene en godsdienstige onderwerpe gepubliseer. Hy het verskeie Afrikaanse boeke geskryf soos Die Koningin van Skeba in 1897, die eerste Afrikaanse gepubliseerde drama. Hy het ook gedigte geskryf, maar hulle is nooit gebundel nie.

Hy is algemeen beskou as die Vader van die Afrikaanse taal, Stiger van die Afrikanerbond, en Stryder van die Calvinisme - die inskrywing op sy graf.

In sy lewe was hy predikant van die NG Kerk, Calvinistiese teoloog, Bybelvertaler, leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, skrywer, Superintendent van Onderwys in Transvaal, en koerant- en tydskrifredakteur.

Op besoek aan Calvinia in Augustus 1910 het sy perdekar omgeval. Die ernstige beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het, het uiteindelik gelei tot sy sterwe op 28 Mei 1911 op Kleinbosch, Dal Josafat.