1948: SA NEEM DEEL AAN BERLYNSE LUGBRUG

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 17 OKTOBER

Op 24 Junie 1948 het Rusland alle verbindingsweë na Wes-Berlyn gesluit in 'n poging om die Westerse moondhede te dwing om hulle aan die stad te onttrek. As gevolg van die sluiting van die verbindingsweë is die toevoer van voedsel en brandstofvoorrade na 2,3 miljoen Duitsers afgesny. Om 'n gereelde toevoer van hierdie voorrade te verseker het die VSA en Brittanje onmiddellik 'n lugbrug ingestel.

Toe Brittanje sy dominiums in Augustus 1948 in hierdie verband om hulp nader het Suid-Afrika 31 vlieëniers na Brittanje gestuur. Op 17 Oktober 1948 het hulle met behulp van Britse Dakotavliegtuie hul eerste voorrade voedsel en brandstof in Wes-Berlyn afgelewer – iets wat hulle die volgende sewe maande, totdat die blokkade opgehef is, gedoen het.

Met hierdie optrede het die Nasionale Regering, wat pas aan die bewind gekom het, sy bereidwilligheid getoon om met die Weste saam te werk, onder meer in sy bestryding van Russiese Imperialisme.