KULTUURDAGBOEK 21 OKTOBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Genl JHM Kock, met die Johannesburg-kommando en die Duitse en die Hollandse korps onder hom, het op 19 Oktober daarin geslaag om die Britse spoorverbinding tussen Ladysmith en Glencoe gedeeltelik te ontwrig. Daarna het Kock so oormoedig geraak dat hy besluit het om die spoorwegstasie Elandslaagte, sowat 24 km noord van Ladysmith, te beset.
Dit was 'n growwe flater want sy mag was hiervoor veels te swak. Lt-genl sir George White, bevelvoerder van die Britse mag by Ladysmith, het na ontvangs van die tyding van Kock se aantog 'n sterk afdeling onder genl-maj JPD French gestuur om die Boeremag tegemoet te gaan.
By die aanskoue van die Britse oormag, het die hardkoppige Kock nietemin besluit om in plaas van terug te trek, vas te skop en te veg. Dit was 'n rampspoedige besluit. Slegs sestig persent van sy mag het ontkom terwyl die res òf gesneuwel òf gewond òf krygsgevange geneem is.
Onder die gesneuweldes was dr HJ Coster, voormalige Staatsprokureur van die ZAR en stigterslid van die Hollanderkorps, 'n man wat hom buitengewoon dapper gedra het in die veldslag.
Genl Kock self het, swaar gewond, in die hande van die Britte geval en is tien dae later op Ladysmith oorlede.