1683: OLAF BERGH, ONTDEKKINGS- REISIGER

KULTUURDAGBOEK 24 OKTOBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag het hierdie Sweedse ontdekkingsreisiger van sy tweede binnelandse reis, in opdrag van Simon van der Stel, in Kaapstad aangekom. Olaf Bergh is in 1643 in Swede gebore en het hom in 1665 aan die Kaap gevestig in diens van die VOC. Deur sy bekwaamheid en ywer het hy die belangrike posisies van lid van die politieke raad en kaptein van die garnisoen beklee.

In opdrag van goew Simon van der Stel het hy verskeie ontdekkingstogte na die binneland onderneem, sonder om die geheim van die Namakwalandse Koperberge of die Gariep op te klaar, maar met 'n magdom betroubare en noukeurig aangetekende inligting oor die landstreek tot noord van die Olifantsrivier.  Iets meer oor van Olaf Bergh se wedervaringe:

In die vroeë ure van 8 Junie 1682 het die Britse skip, die Joanna, wat oppad was na Surat in Oos-Indië, noordwes van die Kaap Agulhas gestrand.

Toe die son opkom, het die skip nog op die rotse vasgesit en kaptein William Browne en sy manne het noodvlotte begin bou waarmee hulle die strand kon bereik. Nadat hulle 10 dae al langs die strand gestap het, het die eerste drie Britte by die nedersetting van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie in die Kaap aangekom. Kommandeur Simon van der Stel het onmiddellik die moontlikheid van bergingswerk gesien, en toe vir vaandrig Olaf Berg, 'n wakker leier, en sy groep manne na die wrak gestuur. Die skip was erg deur die golwe beskadig maar Bergh het daarin geslaag om 'n aansienlike buit, ter waarde van ongeveer 28 000 gulden, terug te kry en die manne het 'n rojale vergoeding ontvang. Teen hierdie tyd het die dankbare bemanning van die Johanna met 'n verbyvarende Britse skip vertrek. Hulle was onverskillig teenoor die lot van hul goud – 'n minder belangrike kleinood as hul lewens.

'n Soortgelyke episode het hom 'n paar jaar later met die Portugese skip, die Nossa Senhora dos Milagros, herhaal. Hierdie keer was daar egter 'n paar interessante komplikasies. Die skip het, om mee te begin, 'n aantal buitengewone passasiers aan boord gehad naamlik 'n kontigent van Siamese afgesante, wat belaai was met duur geskenke en goeie wense vir Lodewyk XIV van Frankryk en die Portugese hofhouding. Onder hulle was daar ene Occum Chamnan, wat 'n verslag van die wrak en die wrang nasleep daarvan nagelaat het.

Die skip het naby Kaap Agulhas gestrand, nie ver van die plek waar die Joanna vier jaar vroeër vergaan het nie. Sonder kos het die oorlewendes na Tafelbaai begin stap, en so goed soos hulle kon van rou skulpvis geleef. Hulle het wel 'n stam Hottentotte langs die pad teëgekom maar die ontmoeting was blykbaar veral vir die Siamese, 'n groot teleurstelling. Dit was die gebruik onder vroeë reisigers om die kus, om slegs in muntstukke van 'n lae waarde met die Khoisan ruilhandel te dryf om die mark sodoende nie te bederf nie. Die Portugese het 'n koei met hul koperkleingeld gekoop, maar die verbysterde Siamese se goud en diamnte is met minagtig van die hand gewys!

Toe die groepie betakelde manne die Kaap uiteindelik bereik, het Simon van der Stel, aangespoor deur gerugte van goud en juwele op die wrak, in die geheim aan die werk gespring en Bergh en sy manne vir nog winsgewende bergingswerk begin organiseer. Toe die bergingsgroep na die Kasteel terugkeer, was die resultate egter nie na verwagting nie. Van der Stel het droewig na die paar klein kanonne en die bale neteldoek en seildoek wat teruggebring is, gekyk – van die goud en diamante waarvan daar gerugte was, was daar geen teken nie. Die Kommandeur moes iets aan die uitdrukkinglose gesig van Olaf Bergh bespeur het wat hom agterdogtig gemaak het. Die gerugte van diefstal het toegeneem en die Kommandeur het verskeie van die bergingskenners, ook vir Bergh, laat aankeer en volgens die sewentiende-eeuse gebruik behoorlik laat ondervra. Met hierdie aanmoediging wat geensins sag was nie het Bergh met die plek in sy tuin waar 'n koppie, twee goue pierings en 'n fles muskus begrawe was, vorendag gekom.

Sy hartstog na die skatte van die Ooste het Bergh verskeie jare van ballingskap in Oos-Indië gekos. Hy was egter van nature 'n opgeruimde mens en het gou daarvan herstel.

In 1695 was hy terug in die Kaap, in bevel van die garnisoen. Asof dit nie ironies genoeg was nie, het hy ook sy lewensideaal verwesenlik en Van der Stel se modellandgoed, Constantia, ná Van der Stel se dood, opgekoop. Daar het hy die res van sy lewe gewoon as lewende bewys van die grille van die noodlot, en is in 1724 oorlede.