KULTUURDAGBOEK 25 OKTOBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
In die namiddag van 25 Oktober 1949 vertrek 'n kommando Rapportryers van die Moederstad op die derde van vyftien roetes, wat uit elke uithoek van die land gestrek het, na die inwydingsfees van die Voortrekkermomument op 16 Desember in Pretoria. Die vertrek uit Kaapstad is voorafgegaan deur drie dae van feestelikheid, waarby ruim 7 000 mense byeen was.
In die begin van 1949 is die Uniale Rapportryersreëlingskomitee gestig, bestaande uit verteenwoordigers van die ATKV en die FAK. In 'n omvattende landwye program het die Rapportryeraantog na die Voortrekkermonument die geesdrif van die volk beetgepak en die volk se boodskappe vir die toekoms na die Monument gedra. Die boodskappe is uit elke gemeenskap langs die roetes versamel en in tradisionele kommandobladsakke van dorp tot dorp aan die afloskommando's onder leiding van veldkornette, oorhandig.
Benewens boodskappe, wat kultuurstrewes, godsdienstige oortuiginge, opvoedkundige ideale, volksdeugde, verhewe opvattinge en nasionale beskouinge bevat het, het elke kommando 'n Bybel in een bladsak gedra omdat dit steeds die rigtinggewende boodskap vir die Afrikaner ingehou het.
Die Rapportryersaantog was 'n treffende voorspel tot die Inwydingsfees by die Voortrekkermonument – 'n feestelike aantog oor 14 000 roetemyle, wat amptelik op 10 Oktober by Hartenbos begin het, hoewel die eerste kommando op 29 September al uit Ovambo vertrek het.
Op 14 Desember het die Rapportryersaantog by die Voortrekkermonument geëindig, toe die boodskappe voor dr EG Jansen, voorsitter van die Inwydingskomitee, neergesit is.