1910: 1e UNIE- PARLEMENT OPEN

KULTUURDAGBOEK 4 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Kaapstad was ryklik versier vir hierdie geleentheid. Dwarsoor Adderleystraat is talle boë opgerig met slagspreuke in Engels en Nederlands. Oor laasgenoemde was baie mense ontevrede want die Afrikaner moes hierdeur sy onderdanigheid aan veral Brittanje toon.

Verder was orkesuitvoerings, danspartye, uitstallings en historiese voorstellings aan die orde van die dag. Ironies genoeg, die embleem vir die feesverrigtinge was die later bekende Nazi-swastika.

Burggraaf Gladstone het as eerste goewerneur-generaal, die hertog van Connaught, sy vrou en hul dogter, prinses Patricia, ontmoet. Oud-president FW Reitz was die eerste President van die Senaat en James Molteno die eerste Speaker van die Volksraad.

Toe Molteno sy plek die eerste keer inneem het baie mense hande geklap en volgens Britse protokol was dit 'n ernstige fout.

Duisende mense het Connaught en sy vrou toegejuig, onwetend dat dit ontoelaatbaar is vir die hooghartige Engelse toe hulle met die perdekoets gery het om die amptelike opening namens die Britse vors te behartig.

Om 12:05 is die simboliese ampstaf die pas vergrote Parlementsgebou binnegedra, gevolg deur die Swart Roede, speaker Molteno, GR Hofmeyr as Klerk van die Volksraad, die President van die Senaat, FW Reitz, die Senaatsklerk, die Aartsbiskop van die St George-katedraal en ds AI Steytler, Moderator van die Kaapse NG Kerk, militêre lui, en die Goewerneur-generaal in sy blou-en-silwer-uniform. Daarna het gevolg die ampsdraers van die hertog van Connaught. Hulle voorkoms, hulle uniforms, hulle eretekens, alles was Brits en het getuig van hul hovaardigheid. Die pikswart geklede prinses Patricia was kenmerkend 'n Engelse meisie. Die Hertog self het die uniform van 'n Britse veldmaarskalk aangehad. Toe hy die spesiale verhogie bereik is die Britse volkslied vir die soveelste keer in die afgelope dae gespeel. Met sy rede het hy die gehoor tot verdere Britse bewondering weggevoer...

Nadat koning George V se kabelgram van gelukwense voorgelees is wou die aanwesiges nogmaal toejuig maar dit het in die kiem gesterf want Britse koninklikes word nie op so 'n wyse toegejuig nie... Arm Suid-Afrika sou nog heelwat moes leer voordat hy 'n goeie Britse onderdaan sou wees!

In sy openingsrede het die hertog aan die Britse koningshuis hulde gebring. Om 12:30 was alles afgeloop en kon die skare weer eens die hertoggesin – hierdie keer in die strate – toejuig.

Genadiglik het die oorheersend Britse parlementêre tradisies geleidelik plek gemaak vir ons inheemse rituele en tradisies. Ons eie volkslied, eie Weermagslui, die Afrikaanse taal en ons eie belange het later 'n besondere plek in ons seremonies beklee – en jammerlik verdwyn nadat die ANC in 1994 onwettig beheer van ons land geneem het.

Die Westminsterstelsel was later ook nie meer die alfa en omega van ons politiek nie, maar wel 'n republikeinse volkestelsel waardeur die Afrikaner sy suiwer staatkundige denke aangaande volkeverteenwoordiging, en nie bloot burgerverteenwoordiging nie, in die praktyk beklemtoon het.