Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons beleef in hierdie dae soveel dinge wat pyn veroorsaak dat ons gerus kan leer om daarna op te let by diegene vir wie ons omgee; en dit is nie moeilik om raak te sien nie want pyn is anders as dinge soos hardheid van die hart wat agter geveinsde vreugde en gelag weggesteek kan word – pyn dra nie 'n masker nie, dit wys duidelik in die vensters van 'n siel.
1938: FAKKELLOOP BY MONUMENT
KULTUURDAGBOEK 30 NOVEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) was verantwoordelik vir die reëlings by die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. Met die organisasies van die program en die uitnodiging van sprekers het al spoedig die grondliggende politieke verskille van die tyd baie duidelik deurgeskemer.
Genl JBM Hertzog het genoeë geneem met die lys van sprekers wat by die hoeksteenlegging sou optree,dog het gemeen dat genl JC Smuts ook gevra moet word om as spreker op te tree, en hy het verder daarop gewys dat die Goewerneur-generaal amptelik by die hoeksteenlegging aanwesig moet wees. Uit alle oorde van die land is egter hierteen protes aangeteken omdat die indruk bestaan het dat by so 'n byeenkoms, wat dan 'n staatsplegtigheid sou wees, die Britse volkslied gespeel en die Britse vlag gehys sou moes word.
Die komitee was eenparig van oordeel dat die weglating van alle volksliedere by die verrigtinge alle moeilikhede uit die weg sou ruim. Indien die Britse volkslied wel gespeel sou word, sou 'n groot deel van die Afrikaanssprekende bevolking hulle aan die verrigtinge onttrek en die program sou dan in duie stort.
Die komitee het die regering diensooreenkomsitg ingelig. Om verdere onaangenaamhede in hierdie verband te voorkom, het genl Hertzog besluit om hom aan die verrigtinge te onttrek. Nie hy of die Goewerneur-generaal sou die verrigtinge bywoon nie. Aanvanklik is eenparig besluit dat genl Hertzog gevra sou word om die hoeksteen te lê. Hy was ook bereid om dit te doen. Daar het egter opnuut aanvalle gevolg toe hierdie kampvegter vir Afirkaans aangewys is om dit te doen. Genl Hertzog is naamlik deur sommiges van te veel vrees, of dan weer te veel liefde, vir Engeland beskuldig.
Die FAK het hom daarvoor beywer dat die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument deur regstreekse nasate van die Voortrekkers waargeneem sou word. Die SVK het toe 'n keuse gedoen uit stukke aan hulle voorgelê van drie vroue wat hierdie taak sou vervul: Mev (ds) DP Ackerman van Bethlehem, 'n agterkleindogter van kmdt-genl AH Potgieter; mev JC Muller van Winterton, 'n kleindogter van kmdt-genl AWJ Pretorius; en mev GS Preller van Pretoria, 'n agterkleindogter van Pieter Retief. Die fees is feitlik uitsluitend deur Afrikaners bygewoon en die voertaal van die verrigtinge was met enkele uitsonderinge Afrikaans.
Die Eeufeesprogram het amptelik op 13 Desember 1938 begin met die ontvangs van die ossewaens in Pretoria,die verwelkoming op Kerkplein, die optog van die waens na die universiteitsterrein, waar die laaste nag op die Pad van Suid-Afrika deurgebring is.
Op 14 Desember het die besonder indrukwekkende ontvangs van die fakkeldraers van die Voortrekkerbeweging plaasgevind. Twee vuurpyle het die aankoms van die fakkels aangekondig. Die twee fakkels is gevolg deur 3 000 kleiner fakkels, wat deur die Voortrekkers uit alle dele van die land gedra is. Die feeskomitee het die fakkels in ontvangs geneem
Net voordat die hoogtepunt van die feesviering met die hoeksteenlegging bereik is, het adv EG Jansen vir prof JD Kestell, in die afwesigheid van mev MT Steyn, versoek om die oorkondes in die hoeksteen te plaas. Dit was die Dagboek van Jan van Riebeeck, 'n afskrif van die Traktaat tussen Retief en Dingaan, 'n vergulde afdruk van die Gelofte van Danskraal, 'n afdruk van Die Stem, verseël in 'n waterdigte loodkoker en die eksemplaar van die Stateblybel geskenk deur die HB Klopper-gesin.