1837: 1e KERKRAAD IN OVS

KULTUURDAGBOEK 3 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Voortrekkers was pioniers in die sin dat hulle die beskawingspad na die binneland van Suid-Afrika te midde van groot gevare en ontberings met heldemoed, dapperheid en durf oopgebreek het.

Nog 'n ander karkatertrek van die pionier is te bespeur naamlik 'n sterk neiging tot selfstandigheid en individualisme, wat dikwels tot koppigheid en partyvorming gelei het en taamlik probleme in die Voortrekkerlewe veroorsaak het, veral ten opsigte van effektiewe kerklewe en administrasie.

Maar die ander, minder goeie karaktertrekke van pioniers naamlik wetteloosheid en losbandigheid wat gewoonlik gepaardgaan met (en voortspruit uit) veragting van God en sy gebod, soek 'n mens tevergeefs by ons Voortrekkermense.

Hoewel die Kaapse Kerk die Groot Trek nie erken het nie, bly die Voortrekkers gelowige mense met die vaste oortuiging dat "de openbare Godsdienst de eerste grondslag moet zijn waarop een Christelijke maatschappij moet gegrondvest worden".

Elke trekkerleier was nie alleen in burgerlike sin 'hoof' van sy groep nie maar was ook verantwoordelike hoofman wat godsdienstige sake betref. Hy het self nie die eredienste gelei of die sakramente bedien en huwelike bevestig nie maar hy het wel verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en gebruik gemaak van manne soos Lindley, Sarel Cilliers en Erasmus Smit. Laastenoemde was nie so geliefd nie, veral by leiers soos Potgieter en Uys, onder meer omdat hy nie ten volle geordende predikant was nie oor hy aan die Londense Sendinggenootskap verbonde was asook vanweë sekere persoonlikheidsgebreke.

Hoewel die Voortrekkers deur die binding van die Kerk aan die owerheid in die Kaap min ondervinding van kerklike organisasie gehad het, het hulle reeds op 16 November 1836 besluit tot die daarstelling van "eene goede Godsdienstige en burgerlijke maatschappelijke inrichting".

Op 8 Februarie 1837 is 'n kerkraad, bestaande uit ouderling JS Maritz (wat veral siekebesoek en huisbesoek moes doen) en diakens Sarel Cilliers en C Viljoen gekies en bevestig. Omdat daar geen predikant was nie, het hierdie kerkraad nooit byeengekom nie.

Nadat Retief se trek by dié van Maritz in Thaba Nchu aangekom het is daar op 17 April 1837 'n algemene vergadering gehou om die sake op kerklike en politieke terrein te orden. Na veel teenstand is Erasmus Smit wel op 21 Mei 1837 as predikant georden en ses maande later, op 3 Desember 1837, is die eerste kerkraad wat werklik gefunksioneer het en 'n heilsame invloed gehad en orde geskep het, bevestig, naamlik Francois Retief en Carel van der Merwe as ouderling, en C Liebenberg en R Dreyer as diakens.