1899: SLAG BY MAGERSFONTEIN

KULTUURDAGBOEK 11 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Tweede Vryheidsoorlog se rumoer naby Stormberg-stasie ten noorde van Molteno, het skaars bedaar toe een van die grootste veldslae in ons geskiedenis by Magersfontein plaasgevind het.

Deur sommige historici word dit as een van die merkwaardigste slae in die wêreldgeskiedenis beskou. Die knou wat die Boere die Britte, hoofsaaklik Skotte, hier toegedien het, het die Britse Ryk en die hele Skotland in rou gedompel. Die eienaardigste aspek van die slag is dat die opperbrein agter die hele operasie, genl Koos de la Rey, nie teenwoordig was nie. Hy was op Jacobsdal by sy seun wat dodelik gewond was. Die beveldvoerder was dus genl Piet Cronjé. Hy het hom goed van sy taak gekwyt omdat hy aan De la Rey gehoor gegee het.

Die strategie wat gevolg is was iets heel nuuts, revolusionêr eintlik, want plaas van op die koppies te wees soos die gewoonte was, het die Boere onder vóór die koppies verskans, en het die Britte na 'n hewige bombardering van die koppies, reg in die bekke van die Boere se Mausers ingemarsjeer en is honderde afgemaai voordat hulle besef het wat aan die gang is.Die Boere se loopgrawe was onlangs nog daar duidelik sigbaar.

Magersfontein het die Boerevolk se harte laat swel van trots; indien die Britte oorlog gesoek het, het hulle dit gekry, en baie meer as wat hulle ooit kon verwag het. Magersfontein as simbool van die uitoorlê van 'n vyand op die vernuftigste wyse, is een van die grootste oorwinnings in ons geskiedenis.