ONTSTAAN EN INSLAG VAN DIE GELOFTE

Dr Pieter vd Dussen

Die ontstaan en bestaan van die Gelofte van Bloedrivier word in talle boeke en artikels in besonderhede beskryf. Oor die geskiedkundige werklikheid daarvan bestaan geen twyfel nie. Daarvan getuig geskrifte van ooggetuies en ander betroubare persone, ook van Zoeloekant. Dit is egter noodsaaklik om oor die inslag van die Gelofte te besin ten einde die saai van twyfel teen te werk.

Die Gelofte was deel van die gebed van Sarel Cilliers op Sondag 9 Desember 1838 tydens die aanderediens. Later, en tot vandag toe, word dit as 'n verklaring herdenk. Dit kan nie weer in die gebed opgeneem word nie, aangesien dit op 16 Desember 1838 volbring en die belofte van jaarlikse herdenking tot in die opkomende geslagte bevestig is.

  Meestal word dit vandag tydens 'n erediens herhaal en bevestig en word in die gebed en prediking op die onderhouding daarvan in die volkslewe klem gelê, tot bemoediging en aansporing van die Afrikaner. Die nakoming van die Gelofte is en bly 'n vereiste vir elke Afrikaner, hetsy van bloedafkoms of dat hy uit vrye wil hom by die Afrikanervolk gevoeg het en voeg.

Oor die wese van die Gelofte is en kan daar dus geen twyfel wees nie. Die drie vernaamste bronne is:

1. Die amptelike notulering van die Gelofte deur J G Bantjes, privaat-sekretaris van Pretorius en klerk van die Natalia-Volksraad, in die Kommandojoernaal opgeteken tydens die Bloedrivierekspedisie  en op versoek van dieselfde Volksraad in De Zuid-Afrikaan gepubliseer.

2. Die Kommandantverslag van A W J Pretorius aan die Volksraad, opgeteken ‘n week na die Slag van Bloedrivier en twee weke na die eerste dag waarop die Gelofte afgelê is.

3.  Die herinneringe van Sarel Cilliers rakende die Gelofte, in 1871 kort voor sy dood gedikteer, meer as dertig jaar na die Slag van Bloedrivier.

Hierdie bronne is oor die volgende eenstemmig:

*  God se genadehulp is in geloof afgesmeek.

*  God word geroem deur die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

*  'n Kerk sou tot gedagtenis van sy Naam opgerig word.

*  Die verhaal sal aan die opkomende geslagte oorgedra word sodat hulle daarin kan deel.

*  Die dag sal elke jaar as 'n dankdag soos (zoo als) 'n Sabbat (Sondag) gehou word. Daar is onbetwisbare getuienis uit vroeër tye dat dit wel so gevier is. Die Kerkraadsnotule van die Gereformeerde Kerk Pretoria van 22 Desember 1902 stel: Op Zondag 14 December 1902 wordt besloten, te doen afkondigen dat in getrouwheid aan de eed door de vaderen gedaan, Dingaansdag kerkelijk zal worden gevierd. Hierdie besluit is in 1903 herhaal en ook in 1904, toe die diens na die aand verskuif is omdat President Kruger vroeër daardie dag begrawe is. Die Gereformeerde Kerk Pretoria volg die laaste tien jaar of so weer die kerklike viering. Vermoedelik was Sabbat destyds die aanvaarde woord vir Sondag.

Die voorgaande word in die algemeen erkende bewoording van die Gelofte vervat wat voor in hierdie Bundel verskyn. Om aan die gebedsaard en die twyfel by Sarel Cilliers oor die binding van die nageslag (en die kommando-lede self) uitdrukking te gee, is 'n kort inleiding en slotwoord bygevoeg wat aan die oorspronklike gedagte uiting gee.

Binding aan die Gelofte

Wie is en word deur die Gelofte gebind? Hoe het die Trekkers dit gesien? Hulle het familie en vriende en gemeenskappe in die Kolonie agtergelaat. Van die Trekkers het vir hulle gaan kuier en is deur van hulle besoek. Die Trekkers het hulle nie aan die Afrikanervolk onttrek nie. Daarom het hulle die beskrywing van die gebeure voor en met Bloedrivier in De Zuid-Afrikaan uiteengesit, en in briewe aan vooraanstaande volksgenote soos ds H D van Broekhuizen. Die Trekkers het in hulle gemoed alle Afrikaners van die Kaap tot aan die Zambesi en van Weskus na Ooskus by hulle lotge-valle betrek. Dit blyk ook daaruit dat die Suid-Afrikaanse Republiek onder M W Pretorius (seun van Andries) 16 Desember in 1865 as amptelike feesdag erken het. Die Potgietermense het hulle daarmee vereenselwig ten spyte van gespanne gevoelens tussen Hendrik Potgieter en Andries Pretorius wat juis uit die Natalse gebeure voortgespruit het.

Na 1838 het talle nuwe aankomelinge na Suid-Afrika en veral na Transvaal gekom en hulle met die Afrikaner vereenselwig en as Afrikaners in die volk opgeneem. In 1838 was die Afrikanervolk nie eers agt geslagte oud nie. Baie het nog verbintenis met Europa gehad en was dus eintlik immigrante en immigrantekinders en -kleinkinders.

Die nuwelinge was dikwels getroue nakommers van die Gelofte en talle van hulle kinders en kleinkinders is dit ook. Vanne soos Van der Dussen, Wüst, Penning, Spoelstra, Dykstra, Veldman, Mansvelt, Van der Laan, Van der Kooi, Gottschalk, Bartleman, Lofty-Eaton, MacDonald, Hindon, O'Grady, O'Kennedy, Robinson, Slegtkamp, Biessenbach en dies meer is net so Afrikaner as Van der Merwe, Kruger, Du Plessis, Swart en Du Toit. 'n Versameling uit die beste bronne toon dat daar sowat 4 000 erkende Afrikanervanne is: 42% Duits, 40% Nederlands, 10% Brits, 4% Frans en 4% Skandinawies, Pools, Russies, Portugees/Spaans/Italiaans en onbekend. Meeste hiervan het eers ná 1838 deel van die Afrikanervolk geword en hulle met die Gelofte vereenselwig.

Is Afrikanerskap sonder vereenselwiging met die Gelofte moontlik? Jy kan ook vra of ongelowiges as Afrikaners beskou kan word. In elke geval is daar 'n afstand tussen volksgeskiedenis en volksaard soos dit deur die tyd gevorm is. Tog is in elke geval 'n onomwonde ja of nee nie moontlik nie.

Daar is in ons volk se geskiedenis ongelowiges wat goed en bloed vir die Afrikanervolk geoffer het, dit tot vandag toe doen. Is hulle Afrikaners? Die Calvinisme is volgens H G Stoker die grondslag, die wortel van die Afrikaner se volksaard. 'n Ongelowige Afrikaner verwerp deur sy lewenshouding hierdie grondslag. Maak dit van hom minder Afrikaner? Tog kan hy hom as ongelowige nie met die Gelofte vereenselwig nie. Sy tekortkoming lê nie in sy Afrikanerskap nie, maar in sy ongeloof. Sy verwerping van die Calvinisme as grondslag van sy volksaard maak hom nie iets anders as Afrikaner as sy hele ingesteldheid ten opsigte van taal en lewenswyse op die belange van die Afrikaner gerig is nie.

Wat van die gelowige Afrikaner wat hom nie met die Gelofte of die Calvinisme vereenselwig nie? Hieraan het die Afrikaanse kerke groot skuld omdat hulle onder die humanistiese invloed van die afgelope eeu aardse koninkryke en volksbinding as sonde afmaak asof dit teenoor hemelse burgerskap staan. Om vir jou Godgegewe aardse grond te lewe en te sterwe word met die valse stelling afgemaak dat jy net vir die Koninkryk van God mag sterf. Wat dan van die geskiedenis? Van die Tagtigjarige Oorlog, van Hendrik Potgieter se trek so ver moontlik van die Kaapse Kerk se liberalisme en van Britse imperialisme af, van die stryd om behoud van identiteit van die Afrikanervolk teenoor Britse imperialisme, liberalisme en humanisme?

Uit die Ou Testament is dit deurgaans duidelik dat dit vir die Israeliete om nasionale voortbestaan en volksvryheid gegaan het. Dat die HERE hulle as Sy volk bewaar en beskerm het, doen hieraan geen afbreuk nie. Inteendeel het Hy hulle houding opgewek en gebruik om sy Verbondsvolk en daarmee sy Verbond te laat voortgaan. Hiervan is die Rigtersgeskiedenis, Dawid se stryd om die destydse staat Israel te vestig, die treurgeskiedenis van die Ballingskap (Psalm 137) en baie meer, voorbeelde. Ook in die Nuwe Testament word die aardse burgerskap nie verkleineer of vernietig nie. Die Here Jesus huil oor die toekoms van Jerusalem en tot aan die einde van Openbaring toe word taal, volk en nasie beklemtoon. Volksliefde, volksverbondenheid, nasionalisme, word nêrens in of deur die Woord tot sonde verklaar nie. Ook die Vyfde Gebod spreek sterk daarvóór.

Die Trekkers het nie daaraan gedink dat hulle die deur na Afrika moet oopmaak waardeur die Evangelie moet gaan nie. Vir hulle het dit enkel en alleen om hulle aardse voortbestaan gegaan in die besef dat daar geen rus en vrede kan wees solank Dingaan en sy barbare nie tot besinning gebring word nie. Maar te midde van hulle diensplig aan hulle aardse koninkryk was hulle óók buite hulle wete besig met diensplig in die hemelse koninkryk, iets wat later al duideliker na vore gekom het.

Laat ons ons egter nie met langdurige gesprekvoering oor hierdie en verwante sake van die wese van die Gelofte en van Bloedrivier aftrek nie. Laat elkeen sy plig doen, sy roeping nakom, terwille van die aardse koninkryk en uiteindelik van die hemelse koninkryk.