Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons maak so maklik geloftes teenoor die HERE. Soms is daardie geloftes onverskillig soos Jefta in Rigters 11. Hy het groot hartseer veroorsaak omdat hy nie deeglik gedink het wat hy die HERE belowe het nie. 'n Gelofte is so 'n ernstige saak dat ons baie seker moet wees hoe God daaroor oordeel sodat ons in ons gewete verseker is dat ons niks onbesonne aanpak nie – die breek van 'n gelofte teenoor God bring ernstige gevolge.
GEBEURE BY BLOEDRIVIER
Opgestel deur die Geloftevolk Koördineringskomitee
Dit is 15 Desember 1838, Saterdag namiddag laat.
Teen die skuins helling van die Ntibane berg wat afloop na die Ncomo-rivier, beweeg 64 kakebeenwaens, in rye van vier langs mekaar, getrek deur 10 osse elk, af na die rivier.
Op en langs die waens, te voet en te perd, beweeg 464 Boere, hul voorlaaiers op hul skouers, gelaai en gereed vir gebruik.
Dit is die Boere- strafkommando op pad na Umgungundlovu, die Plek van die Groot Olifant, om die Zoeloe-koning, Dingaan, te gaan straf vir al die wreedhede teenoor die Trekkers sedert hulle intog in Natal in Januarie daardie jaar.
Aan die spits van hierdie optog, fier en regop op sy perd, ry Andries Pretorius, leier en kommandant.
Sy gedagtes gaan terug na die lotgevalle van sy mede-landgenote sedert Januarie 1838...
...die Trekkers wat rustig oor die Drakensberge in die omgewing van die huidige Oliviershoekpas die “Beloofde Land “ ingetrek het... hoe hul leier, Piet Retief na Dingaan is om oor grond te gaan onderhandel, hoe hy en sy 69 makkers verraderlik wreed op 6 Februarie deur Dingaan in sy hoofstad doodgeslaan en hul verminkte lyke op Dhlomo Amabuto (Moordkoppie) buite die stat gegooi is... hoe die Zoeloe-impi’s op 17 Februarie die niksvermoedende Trekkers by Moordspruit, Blaauwkrans en Weenen aangeval en 485 mans vrouens en kinders uitgemoor het...baie van die klein kindertjies aan die voetjies gegryp en hul koppies teen die wawiele vergruis het...
Hy dink aan die strafkommando van kommandant Piet Uys wat by Italeni in ’n hinderlaag gelok is en waar hy en andere gesterf het, asook sy 12-jarige seun, Dirkie ’n heldedood gesterf het toe laasgenoemde doodsveragtend ingejaag het om sy vader te gaan help toe dié reeds geval het!
Hy dink aan ander Zoeloe-aanvalle, die nood, die honger, die siektes en die koue wat sy mede-Trekkers in die daaropvolgende maande moes ly en hy dink met trots aan die standpunt wat die Boervrou ingeneem het toe daar sprake was dat die Trekkers die land moes verlaat...terug oor die berge. Hul het gesê, “Ons bly net hier... die dood van ons kinders moet gewreek word!”
Hy onthou die dringende boodskap wat hom op die verre Oosgrens van die Kolonie bereik het waar hy self besig was om reg te maak om ook te trek… ”Jy moet dringend kom help!”
Hy het dadelik reageer en slegs 23 dae daarna was hy by sy mense aan die bo-lope van die Tugela-rivier en binne dae is ’n strafkommando georganiseer en na beste vermoë toegerus. Hulle was verarm, klere verslete, kos en medisyne min, maar daar was ’n brandende gees om onreg te gaan regstel. In die wakis was daar die voorlaaiers, die buskruit en die Bybel... maar geen wit vlag nie!
Hy kyk oor sy manne waar hul afdaal na die plek waar, toe nog aan hom onbekend, ’n veldslag sou plaasvind waarvan die gevolge tot in die verre toekoms nog sou uitkring!
Agt dae gelede by ’n plek, nou bekend as Danskraal, naby Ladysmith, het ’n paar Engelse uit Port Natal (Durban) onder leiding van Alexander Biggar hul opwagting by hom gemaak.
Biggar wou weet, “What are you doing here, Commandant?”
Sy antwoord: “We are going to punish Dingaan for the atrocities committed by him on my people!”
Die Engelsman het so oor die groepie Trekkers gekyk en met ’n handgebaar oor hulle heen, opgemerk, “With this, Commandant?...you don’t know what you are doing! Dingaan has got a well-trained army of between 32,000 and 40,000 men...you might be outnumbered by about 50 to 1 in an armed conflict!”
Die man het sin gepraat.
Daardie aand, op 8 Desember het hy, Andries Pretorius en Sarel Cilliers, die geestelike leier van die ekspedisie, sy watentklappe agter hulle twee toegemaak en vir mekaar die vraag gevra, “Wat nou?!”
Gedurende die nag het ’n gedagte wat reeds ’n geruime tyd gelede al by hom opgekom het, gestalte gekry toe hul albei besef hulle taak is menslik onmoontlik... alleen sou hulle kommando nie kon slaag nie, en mislukking sou die totale uitwissing van die Trekkers in Natal tot gevolg kon hê.
Daar was net EEN uitweg! Vertikaal na Bo...Na die Almagtige!
Daardie nag worstel Sarel Cilliers, bewus van die ernstige implikasies van ’n gelofte aan God (gebaseer op die Skrif), oor die inhoud van ’n gelofte, en die volgende oggend op 9 Desember by Danskraal word dit, na ernstige oorleg, ook met die ander Trekkers, as Gelofte aan God, aanvaar en so ook staande, met die hoof ontbloot en die hoed op die bors, die eerste keer gelees en met ’n “Amen”, bekragtig.
Pretorius dink aan hoe die Gelofte die afgelope sewe dae elke oggend met eerbied en oorgawe afgelê is.
Die eerste waens is reeds deur die rivier toe van die verkenners wat elke dag vooruit gestuur is, van oorkant die bulte oos van die rivier op dolle vaart aangejaag kom. Hans de Lange (Hans Dons) rapporteer met die naderkom, net agter die bult, van ’n reuse-Zoeloemag... duisende van hulle!
Pretorius beveel dadelik dat hulle ’n walaer moet trek. Maar waar?
Sarel Cilliers wys na die oorkant van die rivier, waardeur hul sopas gekom het na waar ’n reuse-donga van 4 tot 5 meter diep reghoekig by die rivier aansluit, neffens ’n baie diep, kilometer lange seekoeigat, dig met riete begroei.
“Daar is die plek wat God reeds vir ons jare van tevore al begin voorberei het!” sê hy.
En Pretorius beveel: “Terug deur die rivier en trek laer in die hoek wat die donga met die rivier vorm.”
Hyself ry die bult uit in die rigting van die aankomende Zoeloes, en staan dan in verstomming by die aanskoue van die aankomende mag...netjies en ordelik, assegaaie glinsterend in die ondergaande sonlig, die pluime op hul koppe lig wiegend in die aandwindjie, die voete trap ritmies op die grond; Wit-, Swart- en Rooi skilde — elke regiment apart!
Tussen 15 en 20,000 in getal skat hy hulle.
Terug by die waens word die laer haastig, maar geordend getrek... hoe dikwels moes hulle dit nie al in die vorige dae op die trek doen nie? Veghekke word tussen en onder die waens geplaas en met kettings geheg. Doringtakke en ander versperrings word aangebring. Die drie kanonne (twee klein breëbek- kanonne en een skeepskanon) word strategies geplaas, die byna 1 300 stuks grootvee (perde en trekosse) word in die binnekring van die laer met rieme (neusrieme vir die osse) aan pale wat in die grond gedryf is, vasgemaak. ’n Stormloop deur verbouereerde diere sou fataal vir die ligte kakebeenwaens wees!
Oplaas word alles weer nagegaan:
Gewere word gelaai... daar is drie tot vier gewere per man. Dit is voorlaaiers wat van vooraf in die loop met net die regte hoeveelheid buskruit gelaai moet word, dit kry dan ’n pluis op om die kruit vas te hou en daarna word dit met ’n laaistok vasgestamp. Dan kom die loodkoeël of ’n aantal lopers (ronde loodballetjies) wat ook met ’n pluis vasgestamp word... ’n uiters omslagtige proses, veral nog as die vyand met groot spoed nader storm...dan word die ontbrandingbakkie by die vuursteen gereed gemaak, die haan word oorgehaal en dan eers kan die skoot afgetrek word! ’n Goeie skut kon weer herlaai vir n volgende skoot.... binne ongeveer 2 minute! (Vergelyk dit met vandag se masjiengewere!)... en hoe ver hardloop ’n fikse swart kryger nie in daardie tyd!
Na ongeveer 6 tot 8 skote was die geweer onhanteerbaar warm en indien nie baie versigtig nie, kon nuwe kruit wanneer dit in die loop gegooi word, ontplof en ernstige wonde of selfs die dood veroorsaak.
’n Voorlaaier skop ook geweldig. Daar kan nie uit ’n lê-posisie geskiet word nie... want die kolf kan jou sleutelbeen afskop.
Die lopers is reeds gedurende die afgelope dae in die regte hoeveelhede in afgemete stukkies skaapderm toegeknoop sodat dit maklik gelaai kon word.
Die buskruit (swart kruit) word sorgvuldig uitgemeet en noukeurig toegemaak sodat water nie daarby kan kom nie. Dit is higroskopies en trek derhalwe maklik water, en word dan swart modder en is onbruikbaar.
Sou dit gedurende die aanval reën, kan dit fataal wees vir die Trekkers.
Lang sweepstokke met lanterns bo-aan, gevul met dierevet, word net buite die wa-kring in die grond geplant om lig te verskaf in die geval van ’n nagaanval.
Die Zoeloemag, duidelik verdeel in drie afdelings, het oorkant die rivier ontplooi.
Die aanvoerders, Dambuza en Ndlela, lg. hoof van die Generale staf was nie heeltemal gelukkig nie. Hulle advies aan Dingaan was dat ’n afsonderlike groot Zoeloe-leër gestuur moes word om die walaers met die ou manne en vrouens en kinders in, aan die Tugela te gaan uitwis. Hulle het ook gedink aan beleëring van die Strafkommando op ’n terrein waar hulle maklik uitgehonger kon word en waar hulle ammunisie deur skynaanvalle uitgeput kon word. Hierdie raad is deur Dingaan in die wind geslaan.
Alles was gereed en saam met die aandson, het die stilte oor die laer en ook die Zoeloes neergesak, so ook die miswolke wat skielik vanuit die ooste die laer en omgewing begin oordek het en klewerig aan die watent-seile begin kleef het.
Binne die laer is daar “Boeke Gevat” en aandgodsdiens gehou en vir oulaas is die Gelofte weer afgelê.
Toe het die aand- en lofgesange uit n groot mannekoor uit die laer opgeklink en was dit ironies genoeg, die eerste aanhoor van die Evangelie deur die duisende swart manne wat daar buite in die donkerte op hul skildvelle gesit het.
Ná huisgodsdiens is elke man, elkeen met sy eie gedagtes, na sy voorafbepaalde plek en het die lang wag op môre begin, want môre was die Dag van Beslissing, of Lewe, of die Dood, niks tussen-in nie — en geen Wit vlag nie!
Die nag van 15 Desember 1838 was ’n koue mistige nag. So dig was die mis dat ’n mens nie jou hand voor die oë kon sien nie.
Soos die nag gevorder het, het dit digter en natter geword... waar die klammigheid eers net die watentklappe nat gemaak het, het dit meer en meer geword totdat dit in klein stroompies begin afloop en poeletjies op die grond begin vorm het.
Vrees het ontstaan dat dit kon begin reën, dat die kruit nat kon word !
Teen dagbreek was die mis nog net so dig.
Toe eensklaps, asof deur n reuse-hand, word die miswolke weswaarts weggeveeg en breek die mooiste Desemberoggend aan!
Dit was asof God vir almal wou wys dat Hy ’n God van sy Woord is en sy kant van die Ooreenkoms sou nakom!
Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan Jes.30:18:
“En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is ’n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!”.
Sou dit verkeerd wees om, met groot respek, te sê dat God Self daardie nag met groot ongeduld gewag het dat die dag moes breek om sy getrouheid te bewys?
Die windjie het gaan lê en voor die trekkers was daar die vreesaanjaende gesig, duisende der duisende swart krygers wat op hul skildvelle sit (die Rooies), slegs 50 meter van die laer af.
Na die westekant, die Swartskilde ook in duisende en oorkant die Ncomo die Witskilde, ook in hul duisende, wagtende op die bevel om aan te val.
Die bekende oskop-halwe-maan taktiek van die Zoeloe leër sou ook hier geld!
Vanweë die posisie van die laer, aan twee kante begrens deur die donga en die rivier, is die aanvalsterrein van die Zoeloes beperk tot slegs die westekant van die laer. Hulle aanvalle sou soos in ’n nouerwordende tregter moet geskied, met noodwendige opeenhoping van krygers en gebrek aan behoorlike beweeglikheid; terselfdertyd ’n beter teiken vir verwoestende geweer- en kanonvuur.
Pretorius som die situasie vinnig op en besluit om die inisiatief te neem.
“Maar laat ons begin”, beveel hy, ”lê aan en vuur!”
Met die eerste sarsie stort die eerste swart golf op die laer aan, maar die akkurate vuur uit die voorlaaiers, eers koeëls en dan lopers, maai die aanvallers af... sommige val feitlik teen die waens, maar niemand breek deur nie.
Die Zoeloes val tydelik terug, hergroepeer en val met hernude ywer aan... weereens word hulle teruggeskiet, lyke begin ophoop naby die laer.
Die lug word so donker van die kruitrook van die gewere en kanonne dat Pretorius bevel gee om vuur tydelik te staak sodat die sig kan verbeter!
Van Zoeloekant gesien, het sake nie juis in hul guns verloop nie:
In die eerste plek het die digte nat miswolke ’n nagaanval uitgeskakel en moes hul, skraal gekleed, in die nat en koue op hul skildvelle bly sit. Hulle was koud en styf na die vorige dae se opmars en die koue.
Die nat misweer wat die tentwaens aangeklam het, het ook die grond oppervlak nat gemaak en die potklei grond op die gevegsterrein glibberig laat word. In hul stormlope moes hul gaandeweg meer en meer oor die lyke van hul gevalle kamerade spring en op die gladde grondoppervlakte het dit moeiliker geword.
Maar weer en weer storm hulle in... net om elke keer deur die haelbuie koeëls, lopers en die skroot van die drie kanonne afgemaai te word... dit word ’n slagting!
Die Ncomo-rivier word Bloedrivier.
Hulle probeer om deur die diep donga te kom waar hul op mekaar se skouers moet klim om deur te kom, maar tevergeefs. Sarel Cilliers kry die bevel om die donga skoon te skiet, en na die slag verby was, is oor die 400 lyke daar getel.
Die drie kanonne saai verwoesting; en deur oral oor op die aanvallende sowel as die reserwemagte wat wag om aan te val, te skiet word verwarring gesaai.
Oorkant die Ncomo wag die Witskilde, die Elite-mag van Dingaan, vir die regte oomblik om aan te val maar die tydstip breek net nie aan nie... die Rooiskilde, nou versterk met die aankoms van die Swartskilde, maak nie genoeg vordering nie; om die waarheid te sê, die aanvallers is tot stilstand gedwing! .
Regs van die Witskilde, oorkant die rivier, is die Generale Staf van die Zoeloeleër in ’n klein groepie bymekaar vanwaar boodskappers heen en weer na verskillende plekke op die slagveld hardloop om boodskappe te neem.
“Maar steek hulle daar los”, beveel Pretorius sy skeepskanon-operateur.
“Jammer kommandant, maar die kanon kan nie so vêr skiet nie,” is die antwoord.
“Dit MOET vandag so ver skiet!” kom die antwoord. “Skiet!”
Die kanon word herlaai, op die Generale Staf gerig en gevuur!
Die skoot val tussen hulle en dood ’n aantal waaronder twee van Dingaan se seuns!
Op hierdie tydstip besef Pretorius dat die geveg dié dag beëindig moet word. Indien dit nie die geval is nie en die Zoeloes val net tot buite bereik van die geweervuur terug, kon daar die komende nag ’n nagaanval wees, of die laer kon beleër word met noodlottige gevolge.
Pretorius maak ’n gaping in die walaer en 150 berede Boere onder leiding van Bart Pretorius, broer van kommandant Pretorius, bestorm die vyand. Hulle word egter teruggedryf in die laer en die geveg gaan voort.
Die Zoeloes val weer terug en hierdie keer bestorm ongeveer 300 ruiters hulle, dryf ’n wig tussen die vyand in en verdeel hulle in twee groepe; vertwyfeling pak hulle beet en hulle slaan skielik op ’n wilde vlug!
Die Zoeloe-opperbevel sien wat gebeur en stuur die Witskilde in. Hulle moes egter eers deur die driwwe bo- en onderkant die walaer gaan en met hul aankoms daar bots hulle met die wildvlugtende, verslane afdelings van die Rooi- en Swartskilde. Pandemonium breek los en die volgende oomblik, onder hewige kanon en geweervuur, slaan almal op die vlug!
Die slag was gelewer. Vir etlike ure nog agtervolg die ruiters die vlugtende massa en word daar nog baie Zoeloes gedood.
Die oorwinnaars keer eers teen die namiddag moeg en gedaan terug na die laer.
Rondom die laer en in die donga lê die lyke van ongeveer 3 000 swart krygers!
Aan Boerekant is daar geen verlies nie, slegs drie man waaronder ook die kommandant, is lig gewond.
Voorwaar ’n wonderwerk!
Vanuit die laer die aand rys daar die lof- en dankgesange van ’n oorstelpte en dankbare volk, ’n volk wat op daardie dag, 16 Desember 1838 Geloftevolk geword het tot vandag toe, voorwaar ’n wer, maar ook ’n onomstootlike verantwoordelikheid.
Al die eer aan die groot en Almagtige God van Bloedrivier! Loof en verheerlik sy Naam!
Waarom die “WONDER” van die slag van Bloedrivier?
- Die besondere ligging van die laer tussen die donga en die rivier.
- Dat met die lompe ou voorlaaiers die aanvalle gestuit kon word
- Dat dit nie gereën het nie en die buskruit droog gebly het.
- Dat die mis die nag so dig was dat ’n nagaanval onmoontlik was.
- Dat die 1 300 stuks groot diere in die laer relatief rustig gebly het.
- Dat die nat potklei die aanvallers se bewegings belemmer het.
- Dat die Zoeloe-aanvoerders se planne om die agterlaers te gaan aanval deur Dingaan geveto is.
- Dat die kanonskoot op die Generale staf so ver getrek het.
- Die “wit ruiters” wat gedurende die nag deur die Zoeloes oor die laer sien sweef het (Zoeloe-oorlewering)
- Die “roofvoëls” wat deur die Zoeloes “gesien” is wat tydens die geveg op hul afgeduik het (Zoeloe-oorlewering)
- Die byna onverklaarbare wyse en tyd waarop die mis oopgetrek het.
Vandag kan ons saam met die digter (Dr Louw du Toit) bely...
“Kinders van ’n duur Gelofte
Aan die God wat steeds bestier
Hier staan ons geslag ontredderd
Voor ’n groter Bloedrivier.
Kom ons kniel nou soos weleer
In die ou Gelofte neer
Bid dat God Hom nog ontferm
En ons in die stryd beskerm”.
Ongeveer ’n week later kom die kommando by die afgebrande en verlate Umgungundlovu aan... die Zoeloe-volk het gevlug!
Buite die stat in die bosse lê die lyk van Ndlela, opperbevelhebber van die dapper Zoeloe-leër, met ’n osriem verwurg... die dank van Dingaan aan een van sy Zoeloe-helde!
Op die koppie, Dhlomo Amabuto, om die wit geblykte beendere van Retief, hang nog sy bladsak met die ondertekende en wettige koopbrief van die duur gekoopte grondgebied, Natalia.
(Die dokument word vandag nog veilig bewaar in die Argiewe in Pretoria.)