Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Só lief het God ons dat Hy ons na sý beeld geskape het en ons daardeur 'n vennoot van liefde gemaak het, 'n wese met wie Hy praat, wat Hy soos 'n kind liefhet en wat Hom kan antwoord en as ons Vader kan liefhê.
KERSTYD VIR DIE CHRISTEN- AFRIKANER
DIE CHRISTELIKE KERSFEES
Ons het die voorreg om weer vanaand en môre die geboorte van Jesus Christus te herdenk. God het sy enigste Seun gestuur omdat dit noodsaaklik was dat Jesus waarlik volkome mens word sodat Hy as't ware saam met ons onder die oordeel oor die sonde kon inskuif, ten spyte daarvan dat Hy sondeloos is. Dit was juis sy sondeloosheid wat gemaak het dat Hy sy groot lyding en God se toorn kon verduur – iets wat geen sondaar kan doen nie. So het Hy die sonde oorwin en vir ons verlossing gebring.
En vanaand op Ou Kersaand, wanneer ons graag 'n Kersboom met mooi liggies en persentjies daaronder in die meeste van ons huise het, maak seker dat jy weet waarom die persent-uitruilery gaan: die geskenk van God aan die mensdom – sy Seun; en die geskenk van die mens aan God – wanneer ons ons harte vir Hom gee.
Deur die eeue is daar telkens berekenings gemaak om die datum van die geboorte van Christus vas te stel. Hoewel die plek van Christus se geboorte in Betlehem met redelike sekerheid aangewys kon word, kon die presiese datum van sy geboorte nog nooit vasgestel word nie.
Een van die groot struikelblokke van navorsers was die feit dat die mens se sterfdatum in die ou tyd baie belangriker geag is as sy geboortedatum.
Ons lees ook nêrens in die Bybel van 'n Kersviering nie.
Vir die Christene was Christus se opstanding baie belangriker as sy geboortedag. Eers in die vierde eeu, sedert die tyd van keiser Konstantyn, het die kerk daartoe oorgegaan om 'n Kersdag af te sonder as feesdag. Die Christene in die Weste het op 25 Desember besluit terwyl die Oosterse Christene 6 Januarie as Epifanie, 'die verskyning van die Here', geneem het.
Oor die spesifieke jaar van Christus se geboorte is nooit finale uitsluitsel gegee nie hoewel onderskeie geskiedskrywers onder meer die jare 3 v.C. en 4 v.C. as die geboortedatum bepleit.
Intussen kan daar nie ontken word dat die Christelike feesviering tog verband hou met die ou heidense winterfees ter ere van die Persiese godheid Mithras nie – die sogenaamde onoorwonne songod. Die ou Germane het verder ook die draai van die son, die sonnewending, as 'n belangrike verskynsel beskou omdat teen die 25e Desember die dae in die noordelike halfrond weer langer word. Dit het vir hulle beteken dat die son weer oorwin het!
Die westerse kerk het in hierdie ou beskouing 'n aanknopingspunt gevind en dit toegepas op Jesus se koms na 'n donker wêreld. Hy is die Son van geregtigheid wat die duisternis oorwin het (Mal 4:2).
Maar wat beteken Kersfees vir die Christen-Afrikaner? Vir hom is Kersfees eerstens 'n Christusfees waar Christus voortdurend in die middelpunt moet bly. Kersfees sê dat Christus gebore is as Verlosser en Saligmaker van die wêreld. Daarom is dit 'n vreugdefees - omdat ons die goeie tyding van groot blydskap ontvang het (Luk 2:10)
Hoe moet dit gevier word? Kersfees het gelukkig vir baie ook 'n familiefees geword. Soos Josef en Maria by hulle Kindjie Jesus, so moet ons as gesinne saam feesvier op Kersaand tuis, Kersoggend saam in die kerk en Kersdag gelukkig saam as intieme familiekring. So was dit dan ook in die beter tye van die Afrikanervolk gevier. Dan is daar nie ruimte vir uitspattighede wat die aandag wegtrek van die Goeie Boodskap van Kersfees nie.
En as gesinslede aan mekaar geskenkies wil gee as blyke van liefde en waardering in die tradisie van die wyse manne uit die ooste wat aan die Christuskind en sy ouers die geskenke van goud, wierook en mirre gebring het, sal ook dié geskenke 'n heenwysing wees na die groot Geskenk wat ons uit die hemel ontvang het.
Maar laat ons veral onthou dat daar aan klein kindertjies 'n belangrike plek gegee word sonder om die fees te verbind aan 'n kersvader wat in Europese lande as Sinterklaas of Santa Claus bekend staan. 'n Kersvader moet ontmoedig word omdat dit geen verband hou met die Bybelse geboorte van Christus nie. Ofskoon die kersboom ook verband hou met ou nie-Christelike gebruike, voel baie Christene dat 'n kersboom met liggies en versierings tog 'n bydrae lewer tot die feesatmosfeer van Kersfees. Daar kan selfs 'n saak gestel word vir die heenwysing na Christus as die Boom van die Lewe.
Wat wel van belang word is dat daar by die kersboom, vóórdat geskenke oorhandig word, die verhaal van Jesus se geboorte vertel moet word en selfs Kersliedere gesing word ter gedagtenis aan die groot Geskenk wat God aan ons gegee het, sy enigste Seun Jesus Christus, Wie vir ons gebore is sodat Hy in óns plek vir óns sondes aan die kruis sou sterf – sodat ons die grootste geskenk van alle tye, die Ewige Lewe, kon verkry.
Wanneer ons dan wel 'n Kersboom met mooi liggies en persentjies daaronder in ons huise het, maak seker dat jy en jou kinders weet waarom die persent-uitruilery gaan: die geskenk van God aan die mensdom – sy Seun; en die geskenk van die mens aan God – wanneer ons ons harte vir Hom gee. Dán sal Kersfees, te midde van 'n kersboom, nog steeds 'n Christusfees bly.