1912: "MISHOOP"- VERGADERING; HERTZOG SE WAAKSAAMHEID- KOMITEE

KULTUURDAGBOEK 28 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Met die samestelling van die eerste Unie-kabinet wou die aangewese premier, genl Louis Botha, nie graag sy vroeëre mede-generaal van die Engelse Oorlog, genl JBM Hertzog, insluit nie. Dit was polities egter onvermydelik. Van die begin af het Hertzog, die Afrikaner in Suid-Afrika, en Botha, die konsilialis in Britse skaduwee, die toekomspad gesoek.

In 1912 het die politieke bom ná Hertzog se De Wildt-toespraak gebars. Die gevolg was dat hy uit genl Botha se nuwe Kabinet gelaat is. Maar die getroue Afrikaners het hulle om Hertzog geskaar en hom hulle persoonlike steun, voorbidding en politieke hulp aangebied.

Tielman Roos het landwyd 'n volksprotes teen Hertzog se weglating gereël. Ongeveer 5 000 Afrikaners het op hierdie dag in Pruisepark, Pretoria, regoor die standbeeld van pres Paul Kruger, byeengekom. Die platform was 'n hoop verrotte gras wat vir bemesting in die park gebruik sou word.

Adv Roos het as voorsitter opgetree en genl CR de Wet het as spreker opgetree. Hy het gesê dat hy trots is om daar te wees want die geskiedenis het reeds bewys dat geen volk verhoog sal word voordat hulle verneder is nie; "... daarom wil ek mij liever op een mesthoop onder mijn volk bevinden, dan op een schitterend platform onder vreemdelingen." Daarna het die skare na Hertzog se woning gegaan, hom op 'n tafel gelig en toegejuig. Volksliedere is gesing en Hertzog is na sy toespraak waarin hy die slagspreuk "Zuid-Afrika eerste" vir die eerste keer uitroep, skouerhoog sy woning ingedra.

'n Waaksaamheidskomitee het hierna sake verder gevoer – dit was die begin van 'n politiek-kulturele Afrikanergebondenheid wat op elke lewensterrein Afrikanerheil bevorder het.