KULTUURDAGBOEK 30 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Jan Hendrik Hofmeyr (Jannie) de Waal, is op hierdie dag op Bakkerskloof, Somerset-Wes, gebore. Nadat hy sy opleiding in Kaapstad voltooi en 'n tyd lank in die onderwys gestaan het, vertrek De Waal in 1894 na Londen om hom daar as advokaat te bekwaam.
Terug in Suid-Afrika sedert 1897, sou hy die eerste advokaat word wat 'n saak in die hooggeregshof in Afrikaans bepleit.
In April 1903 aanvaar hy die redakteurskap van die maandblad De Goede Hoop. Aangesien hy 'n groot voorstander van Afrikaans as skryftaal was, maak hy wel deeglik gebruik van sy posisie om self verhale te skryf, onder meer Johannes van Wyk, wat eers as vervolgverhaal in sy tydskrif verskyn onder die skuilnaam 'Jannie'. In 1906 verskyn dit in boekvorm as eerste Afrikaanse historiese roman. So verskyn ook 'n aantal toneelstukke waarvan Anjelina die eerste is.
Adv De Waal was 'n stigterslid van die Afrikaanse Taalvereniging, wat in 1906 in Kaapstad gestig is. Hy word in 1907 lid van die ATV se Spellingskomitee wat die Afrikaanse spelreëls moes vasstel. Nieteenstaande teenstand het De Goede Hoop onder De Waal se leiding in krag toegeneem en het hy die Afrikaanse taalsaak trou gedien tot 1914 toe hy as redakteur afgetree het.
Van 1915 tot 1933 is hy die Nasionale Party se Volksraadlid vir Piketberg. Nadat hy sedert 1924 Adjunkspeaker was, word hy in 1929 tot Speaker van die Volksraad verkies.
As erkenning vir sy volksdiens ontvang hy in 1936 'n eredoktorsgraad in die lettere van die Universiteit van Pretoria.
Adv De Waal is op 30 Oktober 1937 in Kaapstad oorlede. Sy geskrifte in Afrikaans, soos ook Oupa en sy kleindogters en Die tweede Grieta, het ons taal op 'n belangrike tydstip help vestig en verryk.