TRADISIONELE OUJAARS- GEBRUIKE

KULTUURDAGBOEK 31 DESEMBER

Dit is 'n baie ou Afrikaanse gebruik wat reeds uit die eerste kwart van die negentiende eeu dateer om op Oujaar fees te vier en die nuwe jaar in te lei met jolyt. Dit is egter 'n ouer en goeie gebruik om die jaar met 'n kerkdiens af te sluit en die nuwe jaar op dieselfde wyse te begin. By dié geleentheid kyk gelowiges in ootmoedige dankbaarheid teenoor die Here terug oor die afgelope jaar en vertrou hulle hul aan God se sorg en leiding toe vir die komende jaar. Dié diens strek daarom gewoonlik vanaf die laaste gedeelte van die ou jaar tot in die eerste minute van die nuwe jaar.

Middernagdienste is deur baie jare gewoonlik in groot getalle bygewoon en bied die geleentheid om deur die prediking menige gelowige tot hernieude toewyding te lei. Vroeër jare toe ons nog 'n relatief veilige land gehad het, was mense ook nie bang om selfs ver afstande te ry of te stap om 'n middernagdiens by te woon nie. Vanaf 1994 het die landstoestand veral met betrekking tot veiligheid so versleg dat mense dit nie meer wil waag om snags blootgestel te wees aan die barbaarse elemente nie, maar selfs nou nog is daar nog 'n beduidende aantal kerkgangers dwarsdeur ons land om middernag, terwyl ander die diens nou eerder vroegaand hou. Waarskynlik is daar nou groter rede as ooit vir ons lydende Afrikanervolk om weer soos een man by so 'n verootmoedigingsdiens op te daag. Mens kan nie aan 'n beter wyse dink om die ou jaar af te sluit nie – in die teenwoordigheid van God waar Hy sy Verbond met ons wil hernu om ons te beskerm in die nuwe jaar, en ons ons trou aan Hom kan belowe.

Terug by die jolyt: Die gebruik om die nuwe jaar met kanonskote, geweervuur en vuurwerke aan te kondig, is deur Van Riebeeck en sy mense na Suid-Afrika gebring. Kwajongstreke op Oujaarsaand was ook 'n tradisie, maar die Boeredans was seker die mees diep gewortelde gebruik, met die Boere-orkes en die konsertina onafskeidbaar. Dit was die aand waarop die vroue uitgehang het met hulle melktertjies, nuwejaarsbolle en soveel ander soorte tradisionele gebak.

Nuwejaarsdag was tradisioneel 'n piekniekdag met Boeresport en perderesies. Dit is vandag nog die gebruik dat familie en vriende op Nuwejaarsdag saam kuier en eet, en soms speletjies saam speel. Laat ons hierdie mooi tradisies behou en só ons gesinsbande versterk sodat ons as gesinne saam weer die volk sal word wat sterk in sy geloof staan en getrou aan sy Skepper leef sodat God sy Verbond met ons sal wil voortsit.