1818: PROF D POSTMA

KULTUURDAGBOEK 10 JANUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Dirk Postma is op hierdie dag in Dokkum, Friesland, gebore uit die huwelik van Pieter Pieters Postma en Lolkje Arjens Boekhout. Die gesin het die Gereformeerde geloof van harte liefgehad en vreemd gestaan teen die opkomende liberalisme en modernisme ná die Franse Revolusie.

Hy kon weining skoolgaan en moes reeds op 15-jarige ouderdom as loodgieterskneg sy weduwee-moeder help onderhou.

In dieselfde jaar verskyn die geskrif Verdediging van de ware Gereformeerde leer... van ds Hendrik de Kock in Ulrum, wat lei tot die kerklike Afskeiding van 1834 en die stigting van die Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland.

Die Postma-gesin het ook met die protes teen die gees van die 19e eeu meegegaan. Hierdie mense wou buig onder die algehele gesag van die Bybel en die Belydenis van die Hervorming in die sestiende eeu onverswak handhaaf. Terwyl die Nederlandse Regering die Afskeiding hardhandig onderdruk het, het Postma die roeping gevoel om predikant te word. Ná een jaar studie by die huis van die Semitikus, ds TF de Haan, word hy op 19 Junie 1840 as predikant toegelaat en bekwaam hy hom verder deur selfstudie.

Hy het vier gemeentes in Nederland bedien en 'n leidende rol ten opsigte van die opleiding van predikante, die Christelike onderwys en kerklike aktiwiteite gespeel. Die Sinode van 1857 het gevolglik vir ds Postma, toe 'n wewenaar, afgevaardig om aan die Transvaalse Regering in hulle nood aan predikante en onderwysers hulp namens die Sinode te gaan aanbied en tegelyk ook sendingmoontlikhede te ondersoek. Hy het moeite gedoen om 'n kerklik skeuring te verhoed en het hartlike verhoudinge met die enigste predikant in Transvaal, ds D van der Hoff, onderhou.

Die Algemene Kerkvergadering het hom op 11 Januarie 1859 kragtens die grondwet ondersoek of hy Gereformeerd is en verder oor aan sy standpunt oor die sing van Gesange uitgevra. Postma wou dit aan die vryheid van predikante oorlaat. Die vergadering het die gebruik daarvan egter verpligtend gestel.

Postma het hom bereid verklaar om predikant van die te stigte Gereformeerde Kerk op Rustenburg op 11 Februarie 1859 te word. Hy het as engiste predikant tot 1862 uit Rustenburg-kerke in Transvaal, die Vrystaat en Noordoostelike Kaapkolonie bedien.

Vanaf 1863 het hy kragdadig aan die onderwys van die jeug en oprigting van skole aandag gegee. Vanaf 1864 het hy begin om aanhuis-uitgesoekte manne, onder andere 'n onderwyser soos Jan Lion Cachet, opleiding as predikante te verskaf. In 1866 het hy met die oog daarop 'n beroep na Burgersdorp aangeneem en saam met Cachet in 1869 die predikante-opleiding aan die pas gestigte Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika behartig. Hy het feitlik in die tuig op 28 Desember 1890 gesterf.

Postma se groot bydrae was nie beperk tot die opleiding van roepingsbewuste predikante, besiel met liefde vir die gereformeerde geloof nie; hy was ook vurige pleitbesorger vir die regte van Hollands in die Engelse Kaapkolonie. Dit is veelseggend dat die Taalmonument ter herdenking van die verkreë reg om Hollands in die Kaapse Parlement te besig, in Burgersdorp opgerig is.

Hy was ook 'n voorstander van plaaslike sending en het in 1870 daarvoor 'n breë beleid uitgewerk.

Sy grootste betekenis na buite lê egter in sy onvermoeide ywer en volharding om vrye Christelike skole vir Christelik-nasionale Onderwys op die plase en dorpe op te rig en toe te sien dat daar oortuigde Calviniste en Afrikaners voor die kinders staan. Sodoende het hy 'n bydrae tot die Afrikaanse volkswording en kultuur gelewer wat van onskatbare waarde was.