Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal moet soms op 'n ver afstand van die wêreld se gejaag staan sodat daar in stilte geluister kan word na wat binne die persoon afspeel. Dan leer mens om te luister na dít wat die oor nie kan hoor nie – ons orden ons waardes so, besin, beraam deurdagte planne, word verlig van innerlike spanning en druk, en droom so ons ideale sodat ons dit kan nastreef. Laat ons die Here vra om ons te help om genoeg stilte in ons lewens te kry sodat ons hierdie dinge kan doen.
1876: 1e KOERANT WAT AFRIKANERS LEER SKRYF
KULTUURDAGBOEK 15 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 in die Paarl is 'n tydvak van georganiseerde stryd om die Afrikaanse taal ingelui.
In Artikel IX van die Genootskap se bepalings word beoog om 'n Afrikaanse maandblad uit te gee. Op hierdie dag in 1876 verskyn die eerste uitgawe van die maandblad Die Afrikaanse Patriot, wat die orgaan van die GRA sou wees. CP Hoogenhout was die eerste redakteur onder die skuilnaam Oom Lokomotief, wat deur redakteurs ná hom oorgeneem is.
In Die Afrikaanse Patriot, later net genoem Die Patriot, dek die GRA die terreine van hul doelstelling naamlik dié van land, volk en taal. Daarin is leiding gegee ten opsigte van landsake, die Afrikaanse taal, geskiedenis en belangrike nuus. 'n Rubriek van vrae en antwoorde is ontwerp om weetgierigheid op te wek en te bevredig. Afrikaners is aangemoedig om bydraes te stuur sodat hulle kon leer om hulle taal ook te skryf.
Die redaksie het lesers aangespoor om gedigte, hoe foutief ook al, in te stuur. Deur taalbepreking wou die GRA liefde, eerbied en belangstelling opwek vir die Afrikaanse taal. In eenvoudige spreektaal sou die lesers ingelig word oor die vernaamste nuus. So kon plattelandse Afrikaners bereik en opgevoer word vir wie die Hollandse en Engelse taal moeilik leesbaar was.
Die Patriot het sterk teenkanting ontvang sowel van Hollandse as van Engelse kant. Medewerkers het onder skuilname geskryf en moes dikwels onder growwe spot deurloop. Die sterkste teenkanting het van die voorstanders van Hollands gekom wat Nederlands as die volkstaal gesien het en Afrikaans as 'n "patois", 'n Hotnotstaaltjie beskou het.
Ten spyte van teenkanting het die redaksie soms met groot opoffering voorgegaan, en teen 1880 was Die Patriot die mees gelese blad in Suid-Afrika. Dit was veral te danke aan die politieke houding wat die blad aangeneem het, gebaseer op Christelike beginsels en die strewe om die Afrikaanse volksaak te bevorder. In 1904 is die blad gestaak ná kwynende belangstelling, veral as gevolg van die veranderde politieke beleid van SJ du Toit wat sy steun aan Rhodes toegesê het.
Die redaksie van die Die Patriot het insig in die behoeftes van die volk gehad en was daarop ingestel om by die eenvoudige Afrikaners die behoefte aan geestesvoedsel op te wek en daarin te voorsien. Die blad het leiding gegee in landsake en die Afrikaner laat belang stel in die politiek.
Die Patriot het baie bygedra tot die ontwaking van 'n Afrikanernasionalisme deur die Afrikaner bewus te maak van die skoonheid van sy taal, sy eie grootse geskiedenis en sy unieke geestesbesit. Dit het die Afrikaner leer lees en skryf en hom laat besef dat sy spreektaal nie vir Hollands as skryftaal hoef terug te staan nie. As die eerste Afrikaanse koerant, het Die Patriot 'n onbereknbare bydrae gelewer tot die opheffing van Afirkaans tot skryf- en volkstaal.