Die Slag by Opatekloof en die Umfolozivlakte: 'n groep van ongeveer 300 Voortrekkers, in die veld uit om beeste terug te wen wat op 17 Februarie 1838 by Blaauwkrantz geroof is, word in 1838, 11 dae na die Slag van Bloedrivier, deur Zoeloes in 'n hinderlaag gelei maar hul slaag daarin om te ontsnap danksy Hans de Lange, (Hans Dons) wat gejaag het om hulle te gaan waarsku. Nogtans sterf vyf Boere en die Engelsman Alexander Biggar.
Emily Hobhouse, Britse maatskaplike werkster onder Boerevroue en –kinders tydens en ná die Tweede Vryheidsoorlog, arriveer in 1900 aan die Kaap om noodlenigingswerk in konsentrasiekampte te kom verrig. Op dieselfde dag, 27 Desember, in 1926, ná haar dood in Brittanje op 8 Junie van daardie jaar, word haar oorskot by die Vrouemonument buite Bloemfontein herbegrawe.
Die Reserwebank en vernaamste Suid-Afrikaanse handelsbanke rig in 1932 'n skrywe aan die Minister rakende die goudstandaard wat teweegbring dat Suid-Afrika daarvan afstap op 28 Desember 1932. Rentekoerse daal binne twee weke en dit bring ekonomiese verligting tydens die Depressie.