Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

 

Versoekings is soos ‘n muisvalletjie – altyd makliker in as uit.   Een verkeerde stap kan jou van glorie na vernedering laat tuimel.  Daarom moet versoekings nooit soos koek nie, maar soos gif hanteer word!

17 MAART 1992: HET DANIE ROODT SPYT OOR SY JA-STEM?

KULTUURDAGBOEK 17 MAART

Dr Danie Roodt het 'n baie interessante satire op sy webblad Praag geskryf om die Afrikaner se kultuurdagboek, of sal ons dit die volksmoord van die Afrikaner noem, te herdenk op hierdie dag, 17 Maart 1992, toe die foefie van 'n referendum voor die volk se neus gehou is met FW de Klerk se leuen dat hy na die volk sal terugkom vir verdere gesprek as hulle tog maar net 'Ja' sou stem op die vraag of De Klerk met die vyandelike terroriste mag onderhandel - nie die vraag of hy die land mag weggee nie – wat die volk toe gedoen het naamlik ja gestem het: en natuurlik het De Klerk nooit teruggekom om met die volk te praat nie maar direk vir Mandela vrygelaat – onwettig, sonder mandaat, en die land sonder die volk se toestemming vir sowat R50 miljoen in sy sak vanaf sy internasionale geldbroers asook 'n nobelprys vir vrede wat nooit vrede kon bring nie, aan 'n swart kommunistiese regime weggegee het.

Daar was heelwat kommentare op Danie Roodt se skrywe maar soos gewoonlik was Afrikaners so besig om met mekaar te baklei op sy blad, Praag, soos een kommentator dit opsom: "- ek sit lekker in die middel terwyl julle met mekaar rusie maak –"  , dat die kern van sy skrywe verlore mog gaan.

Nietemin was daar ook in die kol-kommentare soos hierdie een: "Dink nou net as jy en ander akademici in die 19 tagtigs en negentigs reeds hierdie insigte gehad het... Dan was jou sprokie dalk ons werklikheid!"

Lees gerus doktor Danie Roodt se pynlike ervaring van die Nuwe Suid-Afrika hier verder:

Die 'nee'-stem red Suid-Afrika, 'n sprokie

Dr Dan Roodt

"Dis maklik om haar nou te antwoord, met die voordeel van terugskouing. Maar ek en haar ma het destyds “ja” gestem... Hoe verkeerd was ons nie! Min het ons geweet wat FW de Klerk se ware bedoelinge was met sy onskuldige vragie: 'Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op 'n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?' "

Vandag, twintig jaar ná die lotsbepalende referendum van 17 Maart 1992, kan ‘n mens net spekuleer oor hoe dit sou gewees het indien mnr. FW de Klerk sy sin sou gekry het en die “ja”-stem sou geseëvier het. Soos ons in die maande ná die referendum gesien het, het FW reggestaan om sy land en sy mense te verraai. Hy het selfs saamgewerk met die Britte om so byna-byna ‘n staatsgreep met die hulp van umKhonto we Sizwe te veroorsaak, maar gelukkig is hy gestuit. Hy is in Pretoria-sentraal vir hoogverraad gehang en vandag word hy as die mees berugte verraaier in die Afrikanergeskiedenis gereken.

Dis ysingwekkend om daaraan te dink dat die ANC wel die land in die vroeë negentigerjare kon oorgeneem het. Waarskynlik sou hulle rassewette ingestel het om blankes op alle gebiede te benadeel. Hulle sou ook beheer oor ons skole en universiteite geneem het. Omdat die ANC, wat eintlik maar ‘n skepping van die Anglikaanse Kerk en die linkervleuel in Groot Brittanje was, nog altyd teen Afrikaans gekant was, sou hulle teen ons taal gediskrimineer het. Ons kinders sou, soos in voormalige kommunistiese lande, op skool deur middel van vakke soos geskiedenis en sosiologie gebreinspoel gewees het om hul eie geskiedenis te haat en skuldig te voel.

Die ANC sou die SAUK-TV en -radio oorgeneem het en met ideoloë van hul keuse gevul het. Afrikaans sou grotendeels van die televisie verwyder gewees het. Uitsendings oor die klassetryd en die heroïese Kubaanse revolusionêre met wapperende hamers-en-sekels sou gereeld op die televisieskerms te siene gewees het. Alle plaasgrond, myne en banke sou genasionaliseer gewees het. Indien die “ja-stem” geseëvier het, sou die land vir alle praktiese doeleindes ‘n Afro-sosialistiese of -kommunistiese staat geword het. Daar sou geweld, moord en doodslag gewees het soos wat die lede van Umkhonto we Sizwe, bewapen met wapens van ons eie weermag en betaal met ons eie belastings, toenemend plaasboere en ander burgerlikes op die platteland goedsmoeds aangeval het. En natuurlik, soos in alle kommunistiese lande, sou ‘n korrupte nomenklatoera bestaande uit hoëlui van “die Party” die land se bates geplunder het, en hulself en hul families op allerlei onderduimse maniere verryk het.

Die oorblywende dele van die privaat sektor sou insgelyks afgepers gewees het om aandele in genoteerde maatskappye aan die apparatsjieks te oorhandig. Swart kitsmiljardêrs sou in Duitse limousines of Italiaanse sportmotors in die strate van Johannesburg en Pretoria rondgery het. Op die snelweë, soos in menige Afrikaland, sou gewone motoriste moes padgee as lede van die politiburo, of die nasionale uitvoerende komitee, soos dit genoem word, in hul swart Mercedesse en BMW’s met loeiende sirenes en flitsende blou ligte hulself meester van die paaie gemaak het. Te oordeel aan toestande in ander Afrikalande, sou daar ook heelwat slaggate in die paaie gewees het...

Meer as ‘n miljoen Afrikanervlugtelinge sou deur die lughawens landuit gestroom het, na Australië, Nieu-Seeland, die VSA, Kanada, Europa. ‘n Al kleiner en ouer wordende blanke bevolking sou in toenemende armoede en werkloosheid hul lot in ‘n mislukkende Afrikastaat afgewag het.

Maar gelukkig het dit nooit gebeur nie! Danksy die dapper “nee”-stemmers wat tot aan die einde geveg het om dié nagmerrie-scenario te stuit, het Suid-Afrika ternouernood aan ‘n gewisse ondergang ontkom.

Net gisteraand sit ek en vroulief lekker snoesig voor die televisie en kyk na ‘n oorgeklankte Duitse speurverhaal wat in heerlike Afrikaans deur die luidsprekers van ons tuisteaterstelsel weerklink. Al wat ons effens steur, is die advertensies waarmee die program elke nou en dan onderbreek word. Luuksemotors en kosmetiekware word in Afrikaans gereklameer.

Flussies het Riaan Cruywagen, nadat hy die nuus klaar gelees het, gekwinkslag dat hy darem bly is dat die “ja”-stem nie twintig jaar gelede gewen het nie, anders het hy dalk teen die agtergrond van die ANC-vlag of die hamer en sekel die nuus moes lees. Of dalk sou hy nie eens die nuus kon lees nie en het ‘n ideologies suiwere persoon, maar met ‘n swak uitspraak, dié taak waargeneem.

Terwyl ‘n koel, Afrikaanse vrouestem die lof van Franse gesigroom op die TV besing, kom my agtjarige dogter by die vertrek ingedrentel.

“Pappa, wat is die ANC?”

Ek kon nie anders as om te lag nie. “My kind, waar kom jy daaraan?”

“Netnou toe Oom Riaan die nuus gelees het, het hy gesê die ANC kon dalk twintig jaar gelede ons land regeer het. Wie was hulle?”

“My kind, die ANC was ‘n terroriste-organisasie wat deur die destydse Sowjetunie, wat ‘n kommunistiese land was, opgelei is om mense in ons land te kom doodmaak. Ander lande wat hulle gehelp het, was Brittanje en Swede, wat vir hulle baie geld gegee het. Toe het daardie verraaier, FW de Klerk, saam met hulle gekonkel om die land oor te neem en ‘n referendum gehou, maar gelukkig stem die mense toe daarteen.”

My dogtertjie in haar pajamarokkie met haar sagte bruin hare frons terwyl sy dít alles inneem. “Wat is ‘n referendum, Pappa?”

“‘n Referendum word ook ‘n volkstemming genoem. Dit is wanneer al die mense in ‘n land oor ‘n belangrike ding stem, ‘ja’ of ‘nee’. Op 17 Maart 1992 het al die wit kiesers in die land daaroor gestem of FW de Klerk namens hulle moes voortgaan om met die ANC te onderhandel of nie. Maar hy was ‘n skelm en gelukkig het ons hom nie vertrou nie, toe stem die meeste mense ‘nee’.”

Haar frons verdiep. “En wat sou gebeur het as die mense ‘ja’ gestem het? Sou hulle weermag ons land oorgevat het soos in Call of Duty?” Call of Duty is die naam van haar ouer boetie se oorlogspeletjie op sy rekenaar. Dis ‘n eerstepersoonskieterspeletjie waarvan verskeie weergawes onderskeidelik in die tweede wêreldoorlog, koue oorlog en eietydse oorloë afspeel.

“Ja, my kind, baie slegte goed sou gebeur het. Hulle weermag sou ons land ingeneem het en ek huiwer om te dink wat hulle alles aan ons sou gedoen het. Dinge wat ‘n mens nie aan klein dogtertjies kan vertel nie. Hulle sou die meeste van ons goed ook gevat het. Maar gelukkig het ons daai skelm ou De Klerk laat ophang en het ons ons man gestaan teen die Britte en die Kubane. En vandag is alles veilig. En ons is almal ryk, Afrikaans en gelukkig, net soos in jou sprokies.”

“Sal Pappa weer vir my kom lees totdat ek aan die slaap raak?” kom dit met ‘n pruilmondjie.

“Maar alte seker, my kind, ek en Mammie kyk net gou ons gunstelingspeurreeks klaar. Dan sal ek kom lees. Gaan klim solank in die bed en lees jy so ‘n bietjie. Dan kom lees ek sommer nou-nou vir jou.”

“Goed, Pappa. En... en ek is bly die ANC het nooit ons land oorgevat soos in Call of Duty nie.”

“Ek ook, my kind. Ons kan almal baie bly daaroor wees.”

Dis maklik om haar nou te antwoord, met die voordeel van terugskouing. Maar ek en haar ma het destyds “ja” gestem... Hoe verkeerd was ons nie! Min het ons geweet wat FW de Klerk se ware bedoelinge was met sy onskuldige vragie: "Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op 'n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?"

Hoewel die media en veral die Nasperskoerante die “ja”-stem fanaties ondersteun het, het iemand by Nasionale Inligting op die vooraand van die referendum die nuus laat uitlek dat De Klerk eintlik beplan het om Nelson Mandela president te maak en al die staatsbates, waaronder die weermag, lugmag, vloot en alle militêre wapentuig, aan die ANC oor te dra. Nie almal het die gerug geglo nie, maar uiteindelik was dit genoeg om die referendum in die guns van die “nee” te laat kantel. Terwyl die mense nog by die stembusse in toue gestaan het, het hulle van gedagte verander en op ‘n groot skaal “nee” begin stem.

Ekself, wat in ‘n liberale huis in Johannesburg grootgeword het, was teleurgesteld met die uitslag. Die Volksfront het egter van genoegdoening gekraai en die druk het onmiddellik begin ooplaai vir De Klerk om ‘n verkiesing uit te roep met ‘n potensiële neerlaag wat vir hom voorlê. Die Britse pers het amper histeries geraak en voorspooksels van ‘n “burgeroorlog wat kom” begin maak, as die Afrikanerleiers nie onmiddellik met die onderhandelinge voortgaan nie.

Dis toe dat De Klerk sy fatale fout gemaak het. Terwyl die Konserwatiewe Party, die HNP en AWB hul tande slyp vir die komende algemene verkiesing en die ANC dreig met verdere “massa-aksie”, ontvang FW de Klerk ‘n oproep van Downingstraat 10. John Major is aan die woord.

“Mnr. De Klerk, ons kan nie toelaat dat die onderhandelingsproses nóú skipbreuk lei nie. Ek glo u sal weet wat om te doen. Daar is altyd plan B.”

De Klerk kug effens, want hy verkeer in ‘n vyfsterhotelkamer in Kaapstad met sy Grieks-Britse minnares wat al daarvan verdink is dat sy ‘n MI6-agent is.

“Ja, mnr. Major, ek weet wat om te doen. Die ANC móét ons land regeer en ons wil baie graag weer lid van die Statebond word sodat ons voor u koningin mag kniel,” antwoord De Klerk gedienstig.

‘n Uur of wat later lui die telefoon uit die VSA. George H.W. Bush is aan die ander kant van die lyn.

“FW, ou vriend, ek sien julle Afrikaners was toe nie sulke kalkoene wat vir Kersfees gestem het nie! Geluk, man. Ek het onder Ronald gedien en hy het altyd gesê ons moenie die Suid-Afrikaners wat in die tweede wêreldoorlog aan ons kant geveg het, uitverkoop nie. Gee die ANC hel!”

Maar dis juis níé wat FW beplan nie. Hy stel plan B in werking. In die geheim kom hy en Mandela in die Britse ambassadeurswoning in Kaapstad bymekaar, tesame met ‘n paar vertrouelinge uit die SAW, Umkhonto we Sizwe, die Britse geheime diens en ‘n gesant vanuit Kuba. Van die Kubaanse troepe wat steeds in Angola gestasioneer is, sal oor die Namibiese grens beweeg en by die Oranje aansluit by ‘n weermagbrigade onder ‘n generaal wat aan De Klerk en Brittanje getrou is.

De Klerk plaas die weermag op ‘n gereedheidsgrondslag om die “regse gevaar” af te weer. Beeld en Die Burger basuin die propaganda uit: “Die rassiste, wat so kordaat was om ‘nee’ te stem, gaan die loesing van hul lewens kry. Elke regdenkende Afrikaner moet bereid wees om op sy broer te skiet, indien nodig.”

Generaal Constand Viljoen wik en weeg aan watter kant hy gaan wees, maar toe militêre inligting hom meedeel dat die Kubane op pad is om die Umkhonto-kaders te kom ondersteun, neem hy ‘n finale besluit: “Ek staan by my mense. Hierdie oorlog gaan ons nie verloor nie.”

Ongeveer tien dae ná die referendum breek gevegte in Johannesburg en Pretoria uit. Die ANC gebruik van die aanvalsgewere wat Britte in safari-voertuie oor die grense aangery het, met die Sunday Times-joernalis Muff Anderson wat die verspreiding in Kaapstad en Johannesburg behartig het.

Brittanje stuur ‘n fregat wat in die geheim Simonstad aandoen. Aan boord is verkennersoldate van die Britse S.A.S. wat die amateuragtige Umkhonto we Sizwe moet kom ondersteun. De Klerk en die verraaiergeneraals in die S.A.W. reël dat hulle in ‘n lugmaghelikopter na die Rand gebring word.

Mev. Marike de Klerk bel egter vir genl. Constand Viljoen by Voortrekkerhoogte en sê: “Generaal, dis vir my baie moeilik... Waarskynlik is u nie daarvan bewus nie, maar my man het reeds geruime tyd ‘n verhouding met ‘n Grieks-Britse vrou. Ek vermoed ook dat hy besig is om ‘n komplot met Groot Brittanje en Kuba te smee om die land met wapengeweld aan die ANC en SAKP te oorhandig. My plig is teenoor my volk, daarom vertel ek dit vir u in vertroue.”

“Mevrou De Klerk, hiermee het u ons moontlik van gewisse ondergang gered. U man mag geen held in ons volksgeskiedenis wees nie, maar u naam sal vir altyd onthou en hoog geag word.

Teen daardie aand neem ‘n militêre junta van die SAW beheer oor die land oor. ‘n Kabinet word saamgestel met lede van die regse partye, asook enkeles in die NP wat nie met De Klerk se verraad gediend is nie.

FW self word op ‘n klag van hoogverraad in hegtenis geneem en op ‘n onbekende plek aangehou. Intussen is die Britse vliegdekskip, HMS Ark Royal na Durban op pad, van waar lugsteun vir die oprukkende Kubaanse troepe gebied gaan word. Maar ‘n eskader Mirage-vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag met hul oranje-blanje-blou Prinsevlae op die sterte geverf, styg van Hoedspruit af op, bewapen met Franse Exocet-missiele. Ongeveer 80 seemyl van die kus af in die Indiese Oseaan word daar korte mette met HMS Ark Royal gemaak. Daardie aand lees Riaan Cruywagen die nuus met tonele van ‘n sinkende HMS Ark Royal wat vertoon word. Die nuus dat Brittanje ‘n militêre alliansie met Kuba en die ANC gesmee het, eggo tot in Brussel by die NAVO-hoofkantoor en tot in die Withuis, waar president George H.W. Bush dit as “ongelukkig” betreur.

ANC-bosterroriste, oftewel warlords soos dit in Engels heet, voer intussen ‘n skrikbewind in Soweto, dele van Natal en Bophutatswana. Hulle word ondersteun deur die Britse S.A.S. Gegewe die Kubaanse bedreiging, roep genl. Constand Viljoen alle blanke mans tussen sestien en vyf-en-vyftig vir militêre diens op, tesame met die Kaapse Korps, 32-bataljon en ander nie-blanke eenhede.

Die pantser, Ratels en Olifanttenks, vertrek van Tempe in Bloemfontein af om 50 000 Kubaanse troepe in die Noord-Kaap te gaan onmoet. By Waterklooflugmagbasis sit 300 Mirage-loodse gereed en ontvang finale bevele van hul bevelvoerders.

Net ná twee-uur die middag onmoet die grootste gevegsmag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis die Kubane naby Pofadder, suid van die Namibiese grens. ‘n Paar Angolese Migs met gehuurde Oos-Duitse vlieëniers het nog in die lug gehuiwer, maar toe die nuus hulle bereik van 300 Mirages wat van Pretoria, Hoedspruit en Louis Trichardt af op pad is, draai hulle summier om en vlieg terug Luanda toe.

Tydens die eerste Golfoorlog in Koewait het die Amerikaners gepraat van ‘n turkey shoot toe hulle met meerderwaardige optiese tegnologie die Irakese tenks een na die ander uitgewis het. Die Irakese is deur teentenkmissiele getref sonder dat hulle eens geweet het waar hulle vandaan kom. Op die haai vlakte van die Noord-Kaap, sonder lugsteun en ver van Angola, kom die trots van Kuba hul spreekwoordelike Moses teë. Dit begin met ‘n kalkoenjag vanuit die lug. Eers sak een eskader Mirages na die ander op hulle toe en laat bomme en missiele los. Hierna daal valkskermsoldate uit die lug neer om die eerste linies te vorm, alvorens die pantser en Bedfords vol infanteriesoldate opdaag.

Visioene van die sesdaagse oorlog tussen Israel en Egipte word nou verwesenlik as hordes Kubane, met hier en daar Swapo’s en Angolese Faplas, losbreek en hulself uit hul skoene uit begin hardloop. Lugfoto’s van duisende skoene in die droë landskap sou later in volkleur in Die Huisgenoot teregkom. Nadat Naspers genasionaliseer is, bygesê.

Teen laatmiddag is die Slag van Pofadder verby. Ongeveer 30 000 Kubaanse, Angolese en Swapo-lyke lê op die terrein besaai, terwyl 20 000 terug oor die Namibiese grens gehardloop het. Die volgende dag word ‘n hakkejagoperasie van stapel gestuur, die oorblywende vyandelike soldate almal gevange geneem en Suidwes sommer op die koop toe ontset, met Swapo wat onderhandeling oor grondgebied sal aanvaar.

Terug in Suid-Afrika, het ‘n kombinasie van troepe en onluspolisie weer beheer oor die lokasies verkry, met die ANC-leierskap wat gevange geneem word en saam met De Klerk en sy trawante vir hoogverraad in die Paleis van Justisie op Kerkplein, Pretoria, verhoor word.

Brittanje staan bont om haar rol te verduidelik en Frankryk besluit, nadat hul Mirages in aksie gesien is, om wapensanksies teen Suid-Afrika op te hef en die nuwer modelle Mirages aan die lugmag te kom smous in ‘n wapentransaksie sonder korrupsie.

Mandela word weer tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vanweë sy tweede hoogverraad saam met De Klerk. Hy gaan nie weer terug Pollsmoor toe nie, maar Robbeneiland waar hy hoort. De Klerk ontvang egter die doodstraf en word gehang, ‘n voorbeeld vir alle toekomstige Afrikaner-verraaiers. Omdat Naspers De Klerk se verraad gesteun het, word die mediagroep genasionaliseer en lede van die bestuur insgelyks vir hoogverraad verhoor. Die Huisgenoot word ‘n ordentlike tydskrif en Rapport se sirkulasie styg weer tot 500 000 met heelwat blaaie wat aan al die voortreflike produksies in teaters van die streekskunsterade gewy word, asook resensies oor Afrikaanse boeke en films wat by die duisende begin verskyn.

‘n Groot vredeskonferensie word belê, met Suidwes, Lesotho, Swaziland en Botswana wat as’t ware by Suid-Afrika ingelyf word in ‘n Gemenebes van Suider-Afrikaanse State (GSAS). Ook die tuislande word volwaardig erken, met die driekamerparlement wat ‘n vierde kamer vir stedelike, ontheemde swartes ontvang.

Ná die Brits-Kubaanse debakel, word sanksies teen Suid-Afrika sommer gou-gou opgehef. Beleggingskapitaal vloei die land binne en met al die inheemse tegnologie wat tydens die sanksiejare ontwikkel is, die goeie skole en universiteite, asook die internet en globalisering, begin die land groeikoerse tussen agt en tien persent per jaar behaal.

In die eerste algemene verkiesing ná die oorlog, word genl. Constand Viljoen van die Vryheidsfront tot president verkies. Maar in die tweede verkiesing word hy verslaan deur ‘n jong vroueleier met ‘n nuwe party, wat tydens haar studentedae in linkse kerklike kringe beweeg het, maar intussen gesien het hoe die res van Afrika weens sosialisme krepeer. Sy staan op as die Ron Paul van Suid-Afrika, net baie jonger en van die teenoorgestelde geslag. Kiesers wat moeg raak vir die bombasme van ouer Afrikanermans stem haar in en sy begin dadelik privatiseer en die staatsmasjien kleiner en doeltreffender maak.

Enkele ANC-lede wat aan die groot arrestasie ontkom het, begin weer ‘n kantoor in Londen wat soos gewoonlik deur die Britte finansieel gesteun word. Swede is egter nie bereid om ‘n tweede keer te help nie, want die land is minder links as voorheen en vrees ‘n regse opstand vanweë sy toenemende immigranteprobleem. Ook het Suid-Afrika intussen ‘n nuwe generasie interkontinentale ballistiese missiele ontwikkel en die Swede word vriendelik gewaarsku om nie weer ‘n keer in ons huishoudelike sake in te meng nie, tensy hulle wil sien hoe lyk Stockholm as ‘n paar Boerekernkoppe die plek getref het.

Vanweë die konstante gevaar van Britse inmenging, besluit die nuwe regering onder sy dinamiese jong libertaries-konserwatiewe vrouepresident om Engels sover moontlik uit te faseer. Geen staatsfondse sal meer vir Engelse onderwys beskikbaar wees nie. Wits, Kaapstad, Natal en Rhodes word voor die keuse gestel om voortaan na Afrikaans oor te skakel of alle staatsubsidies te verloor. Enkele onluste breek weereens in Soweto uit, maar die polisie is gou om dit te hanteer en daar word van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n paar belhamels na Zimbabwe toe te deporteer. In elk geval is Soweto so besig om TV-stelle te koop waarmee die inwoners na opbouende programme in die Bantoetale kan kyk, dat daar geen werklike teenstand is nie. Slegs enkele tienduisende Engelssprekende Suid-Afrikaners, voormalige ondersteuners van die ANC en die Progressiewe Party, emigreer na Groot Brittanje. Daar vorm hulle ‘n luiddrugtige dog skadelose groep ballinge wat vir ‘n tydverdryf in kroeë saam met die handjie vol oorblywende ANC-skurke komplotte smee om hul verbeurde nasionale demokratiese revolusie in die land toe te pas. Ná die verlies van HMS Ark Royal is die Britse regering egter lugtig vir verdere koloniale avonture en verdra die groep alkoholiese ballinge uit Soweto, Houghton en Constantia met toenemende minagting. MI6 begin selfs met die SA spioenasiediens saamwerk om hulle goed dop te hou en enige sprake van terreurplanne in die kiem te smoor.

Weens meer as ‘n dekade van hoë ekonomiese groei, byna soos in Verwoerd se tyd, het die Suid-Afrikaanse ekonomie in grootte verdubbel. Ons lê nou iewers tussen Kanada en Spanje op die wêreldranglys, dit wil sê die dertiende of veertiende grootste ter wêreld. Groter as Turkye, Australië, Pole of Nederland. En ‘n kortkop agter Suid-Korea, Italië en selfs Frankryk of Groot Brittanje. Trouens, ekonome voorspel dat ons binne die volgende tien tot vyftien jaar Frankryk en Brittanje verby gaan steek.

Om soveel rykdom teen die gierige oë van ons vyande te beskerm, het die Volksweermag, soos die SAW herdoop is, ‘n Suider-Afrikaanse Gebiedsmag, oftewel SAAG, op die been gebring. Dit bestaan uit die Volksweermag waartoe, soos in Switserland, elke weerbare man behoort, met ‘n R4 in elke huis. Die Volksweermag tel 500 000 Afrikanermans, terwyl nog 500 000 soldate van die TBVCK-state (Kwazulu is ook ‘n deelstaat van die gemenebes), asook Suidwes, Botswana, Swaziland en Lesotho insgelyks onder Afrikanerbevel en -beheer staan. Volgens Jane’s Defence Weekly het die land Brittanje as die vyfde sterkste militêre moondheid ter wêreld verbygesteek en verkeer ons nou net agter Indië en China, met slegs Rusland en die VSA wat ons werklik kan bedreig.

Verwoerdburg huisves een van die wêreld se belangrikste militêre en hoëtegnologienywerhede. As die poort na Afrika en ‘n opkomende supermoondheid, vry Amerika, Rusland, China en die Europese Unie aanmekaar na ons. Maar ons uitgeslape vrouepresident met ‘n span topdiplomate - geen Broederbonders nie! - wat die ambassades beman, speel hulle netjies teen mekaar af en handhaaf ‘n onversetlike onafhanklikheid.

Net voor die Sokkerwêreldbeker in 2010, is die bejaarde Nelson Mandela finaal om humanitêre redes vrygelaat, dog sonder fanfare. Hy het in Qunu gaan aftree, ‘n verbitterde ou Xhosa, wat net soos sy voorgangers van ‘n dag gedroom het wat die son rooi gaan opkom en sy krygers die Afrikaners in die see gaan dryf, maar dié visioen is nooit bewaarheid nie.

Die referendum van 17 Maart 1992 kon dalk lelik skeef geloop het. Gelukkig het die “nee”-stem oorwin en is FW de Klerk betyds in sy spore gestuit.

Elke jaar op 31 Mei word daar klokslag Republiekdag gevier. Dis nou reeds 41 jaar dat ons volkome onafhanklik van Brittanje en die Statebond is. Op sulke dae is elke stadsaal, die Ou Raadsaal op Kerkplein en die Uniegebou in oranje, wit en blou getooi. As die militêre optogte verby die Uniegebou marsjeer en ons aanvallige jong vrouepresident een van haar uithalertoesprake lewer waarin sy na N.P. van Wyk Louw, C.M. van den Heever, Paul Kruger en ander groot Afrikanergeeste verwys, voel ‘n mens jy kon nie in ‘n beter, mooier en meer geseënde land gebore gewees het nie.

Ons toekoms is so wolkloos soos die Hoëveldhemel gewoonlik op 31 Mei daar uitsien.

Maar nou moet ek eers die beloofde sprokie met ‘n gelukkige einde aan my dogter gaan voorlees.

Gelukkige referendumdag.

 

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1581 gaste aanlyn