Genl Christiaan Hendrik Muller, krygsman tydens die Tweede Vryheidsoorlog, bittereinder, 1914-rebel, voorsitter van die Landraad, direkteur van die Landbank en Nasionale Party LV (Pretoria-Suid), is in 1865 op Adelaide, distrik Somerset-Oos in die Kaap gebore.
Prof Daniël Hartman Craven (Dok) is in 1993 oorlede. Hy was provinsiale- en Sprinkbokrugbyspeler, kaptein, afrigter, administrateur, professor in Liggaamlike Opvoeding aan die Universiteit van Stellenbosch, voorsitter van die SA-Rugbyraad en betrokke by die stigting en bestuur van die SA-Rugbyvoetbal-unie (SARVU). Die Danie Craven Stadion is in Stellenbosch in die Kaap geleë waar daar ook 'n standbeeld ter nagedagtenis aan hom opgerig is.
Pres Marais Viljoen, telegrafis, vertaler (Pretoria Hoofposkantoor), joernalis, (Die Transvaler), politikus en laaste seremoniële staatshoof van Suid-Afrika, is in 2007 aan hartversaking in Pretoria oorlede. Hy ontvang 'n staatsbegrafnis. Uit sy huwelik met Marietjie Brink is 'n dogter gebore.
Dr Johannes Petrus Spies (Jan Spies) lektor (Transvaal Training Institute for Indian Teachers, Randse Afrikaanse Universiteit), koerantredakteur (Die Republikein), Afrikaanse skrywer, radio-omroeper (Monitor), TV-persoonlikheid (Spies en Plesie), digter, humoris en bobaasstorieverteller, is in 1996 in Windhoek oorlede. Uit sy huwelik met Beatrice is twee seuns gebore. Sy gedigte is deur die sangeres Arina de Witt getoonset en in 2008 bekendgestel.