KULTUURDAGBOEK 6 FEBRUARIE

Die Voortrekkerleier, Pieter Retief, 67 burgers, 4 seuns en sowat 30 agterryers word in 1838 wreed deur die Zoeloes vermoor aan die einde van onderhandelinge met die Zoeloekoning Dingane by sy stat Umgungundlovu in Natal.

Retief het na lang oorweging besluit om hom in Natal te vestig. Hy en vyftien man het toe in Oktober 1839 na Dingaan as Zoeloekoning vertrek. In Port Natal het hy met van die Engelse aldaar gesprek gevoer en op 5 November 1837 in Umgungundluvu aangekom. Kort hierna het Retief sy oogmerk aan Dingaan herhaal, naamlik om wettiglik grond vir sy mede-Trekkers te bekom. Dingaan het ingestem om die grond tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier af te staan mits Retief die vee wat deur Sekonyela van Dingaan geroof is, terugneem en aan Dingaan besorg.

Aan hierdie onredelike eis is voldoen. Daarop het Retief 'n mag van 200 man probeer byeenbring om die oordrag van die grond te beklink. Ander Voortrekkers, soos Sarel Cilliers en Gerrit Maritz, het die plan afgekeur en 'n drasties kleiner afvaardiging voorgestel. Retief het toe met 'n geselskap van 67 vrywilligers en vier seuntjies plus ongeveer 30 agterryers na Dingaan gegaan en op 3 Februarie 1838 by die koninklike hoofkraal aangekom.

Die akte van afstand is deur die betrokkenes geteken, 'n goeie gesindheid het geheers en vertonings is oor en weer gelewer. Retief het ook met mense soos Owen, Wood en Jane Bird as sendelinge geskakel. Dingaan weer het ongeveer 3 000 krygers by hom versamel en met hoofindoenas, soos Umhlela, onderhandel.

Oor die presiese verloop van wat gebeur het en gedagtes sal altyd gegis word maar op die môre van 6 Februarie is Retief, die Voortrekkers en die agterryers, wat almal sonder wapens was, onverwags deur die Zoeloekrygers oorval, gegryp, vasgebind, weggesleep, met stokke deurboor en buite die koninklike paradegrond op kwaMatiwane met kieries vermorsel en vir die aasvoëls gelaat. Volgens oorlewering is Retief die laaste doodgemaak en sy hart en lewer uitgesny en op die roete begrawe waarlangs die Boere gereis het. Nie 'n enkele lid van die geselskap het die dood ontkom nie.

Die beendere is later deur die Wenkommando in 'n gemeenskaplike graf weggelê, en 'n gedenkteken is veel later opgerig.