Dr Daniël Francois Malan, predikant, Afrikaanse taalstryder, leier van die Nasionale Party en die Herenigde Nasionale Party, universiteitskanselier, staatsman en op 74-jarige leeftyd tussen 1948 – 1953 Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, is in 1959 in sy huis Môrewag, Stellenbosch, oorlede.
Die Hugenote-setlaar, Paul Roux, geestelike voorganger en skoolmeester van die Franse gemeenskap in Drakenstein op die Kaapse wynroete, is in 1723 in die Kaap oorlede.
Rona Rupert, gebore Davel, musiekonderwyseres, stigter van die Karoo Boekehuis in Stellenbosch en Afrikaanse kinderboekskrywer, is in 1934 in Calvinia in die Kaap gebore. Sy ontvang oa die MER Toekenning in 1985 en die Scheepersprys vir Jeug-lektuur in 1979.