MORE IS GELOFTEDAG - DAG VAN DIE HERE

Hoe kom ons die Gelofte van 1838 na?

Jaar na jaar kom duisende volksgenote oor die lengte en breedte van ons land op verskillende plekke byeen om die gelofte van 1838 te herdenk, en om deur die gesamentlike herhaling daarvan of die stilswyende nasê van ’n voorganger, dit weer af te lê. Daarmee verbind ook ons geslag ons telkens tot die gelofte en aanvaar ons die verpligting om dit wat ons daarmee belowe, na te kom.

Die gelofte bevat vier ondernemings:

• Dat ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag, soos ’n Sabbat sal deurbring,

• en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zal, waar het Hem zou behagen (die standaard Afrikaanse vertaling hiervan laat te veel aan betekenis verlore gaan),

• en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte; en

• dat die roem en die eer van die oorwinning aan Hom gegee sal word.

 

Die vier ondernemings vorm ’n eenheid wat gesamentlik en elkeen afsonderlik één doel het, naamlik dat die eer van sy Naam verheerlik sal word. Versuim om ál die bepalings van die gelofte na te kom, word geag ’n verbreking van die hele gelofte te wees.

’n Soortgelyke beskouing word in die Bybel gehuldig met betrekking tot die Wet van God, oftewel die Tien Gebooie. Dit bestaan weliswaar uit 10 afsonderlike bepalings, dog die Bybelse uitgangspunt is dat dit één wet is wat in sy geheel oortree word wanneer die mens sommige bepalings daarvan ignoreer of oortree. Jak. 2:10 stel dit duidelik: “Wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.”

Gedagtig hieraan, is dit goed om vir onsself kortliks rekenskap te gee oor ons volk se nakoming van die 1838-gelofte.

Wat die deurbring van die dag en datum elke jaar as ’n dankdag betref, is daar geen verskoning vir enigiemand om nie die dag op gepaste wyse te herdenk nie. Daar is ’n groot aantal geloftefeeskomitees in die land wat jaarliks herdenkingsgeleenthede reël. Boonop is daar ook talle gemeentes wat dit doen, en as nie een daarvan binne bereik is nie, behoort individue en gesinne dit in hul tuistes te doen. Terwyl duisende volksgenote wel die dag onderhou, is dit voorwaar betreurenswaardig dat soveel mense wat hulleself Afrikaners noem, geen erg daaraan het nie en hulleself deur hulle ongeërgdheid prakties van ons volk afsny. Dit geld ook vir mense wat nie meer Geloftedag onderhou nie, maar in die plek daarvan ’n Versoeningsdag vier.

Die stigting van ’n tempel tot Gods eer was nie afgedaan met die oprigting van die geloftekerkie in Pietermaritzburg nie, en ook nie met die oprigting en inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 nie.

Daar is eenstemmigheid onder baie volksgenote dat die ietwat “vreemde” bewoording “dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zal, waar het Hem zou behagen”, ’n groter betekenis het as net die oprigting van ’n gebou. Aldus wyle ds. Mossie van den Berg:

“Deur die verbintenis om ’n tempel te stig, neem die Geloftevolk voor die Here medeverantwoordelikheid om, as hulle uitgered word, ’n kerk en ’n deurlopende heilsame kerklike versorging van die volksgemeenskap tot stand te bring, wat uiteraard ook die oprigting van ’n doelmatige plek van samekoms, dit is ’n kerkgebou, insluit; en nie net eenmalig op een plek nie, maar ‘waar dit Hom behaag’.

“Dat hierdie heilsame proses van ‘stigting’ voortdurend volgehou word in die lewe van die volk, daartoe is die Geloftevolk as volk (buite sy kerk om) teenoor die Here verbind”.

Kortom: dié bepaling word verstaan as ’n verbintenis van ons volk om ’n Godvresende en Skrifgehoorsame volkshuishouding daar te stel en te onderhou, met ander woorde om ’n lewende tempel tot eer van God te wees. “Word die volk hieroor traak-my-nie-agtig, raak hy versoen met godsdienstige neutraliteit... en het hy klaar opgehou om Geloftevolk te wees.”

Die feit dat ’n heidense oftewel antichristelike owerheid tans die land regeer, onthef ons volk nie van die verpligting om ’n Christelike volkshuishouding te bou nie. Al regeer volksvreemdes die land, is hulle in elk geval nie óns regering nie.

Die bepaling “dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte” verseker (indien ons dit nakom) dat elke volgende geslag met kennis van die gelofte en die erns en betekenis daarvan grootword. Maar waar hoor hulle daarvan? Danksy die CVO-skole word die leerlinge daar toegerus met kennis van ons volksgeskiedenis, dog verreweg die meerderheid van ons kinders bevind hulle in die staatskole waar ’n volksvreemde geskiedenis aan hulle opgedwing word.

Vorige geslagte het graag oor die volkslewe en die Goddelike wonders wat in ons geskiedenis plaasgevind het, gepraat. Ongelukkig is belangstelling daarin mettertyd verdring deur ander dinge soos geld en sport, want vir ’n materialistiese volk wat sy roepingsbesef kwytgeraak het, is die verlede verby, en wat kan tog belangriker wees as rugby?

Hedendaags is die jaarlikse Majuba-herdenking en veral die Geloftefeeste omtrent die enigste plekke en geleenthede waar ernstig oor die dieper dinge omtrent ons volk se roeping en bestemming besin word. Die gebruik om by geloftefeeste nie net ’n erediens te hou nie, maar ook ’n feesrede waartydens die historiese gebeure in besonderhede oorvertel en vertolk word, het ten doel dat ons en ons kinders sal leer watter belangrike plek die Gelofte in ons volkslewe inneem. Hieroor skryf prof. Adriaan Pont reeds in 1973: “Geloftedag (het), vanweë die toesprake wat op dié dag gehou is, al meer en meer aan inhoud en betekenis gewen. Daarby is dit opvallend hoe verskillende, belangrike momente in die geskiedenis van die Afrikaner ook by Geloftedag betrek is sodat dié dag algaande ’n steeds wyer en omvattende betekenis gekry het.” Tereg merk hy dan ook op dat “die gelofte van 1838... ’n baie belangrike, ja selfs ’n beslissende bydrae gelewer (het) om die Afrikanervolk in ’n bepaalde vorm te giet en hom op ’n bepaalde koers te hou.”

Om net ’n kerkdiens te hou (waartydens soms maar baie oppervlakkig en rakelings na die historiese besonderhede verwys word), verskraal Geloftedag tot ’n soort ekstra Sondag, terwyl die ryke bedoeling van die gelofte totaal gemis word. Dit is daarom ook ’n slegte en betreurenswaardige gewoonte wat sommige mense openbaar om op Geloftedag slegs die erediens by te woon en dan met hul kinders te verkas. Sodoende ontneem hulle hulleself en hul kinders van die geleentheid om daardie broodnodige kennis van die geskiedenis en die volle betekenis van die gelofte te hoor. Mens vra jou af: wat word dan van die onderneming om die opkomende geslag op te voed en met ons daarin te laat deel? Hoe sal die opkomende geslagte kan begryp hoe groot die bedreiging was wat die Voortrekkers, die Groot Trek en ons volk in sy wordingsjare op daardie tydstip in die gesig gestaar het as hulle dit nie hoor nie? En as hulle dit nie weet nie, wat sal hulle dan oortuig dat die oorwinning by Bloedrivier ’n wonderdaad van God was en nie maar ’n geval van vuurwapens teen assegaaie nie? Sonder dié kennis verarm mense se begrip van die saak tot die basiese wete dat êrens in die verlede die Voortrekkers ’n geveg teen die Zoeloes gewen het — net maar een van vele gevegte wat in die verlede plaasgevind het toe ons die Swartes se grond met geweld van hulle afgeneem het, soos die kommunistiese propaganda-masjien die opkomende geslag leer.

Te midde van die leuenpropaganda wat ons oorspoel, is diepgaande kennis en verstaan van die geskiedenis uiters belangrik om ons teen sulke propaganda weerbaar te maak en ons te laat besef dat ons volk ’n blywende verbond met God gesluit het, wat Hy aanvaar het toe Hy aan ons voorouers die wonder-oorwinning by Bloedrivier geskenk het.