1652: AANKOMS VAN JAN VAN RIEBEECK

...EN DIE GELOFTE VAN 1654

Die middag om 14:30 van 5 April 1652 word Tafelbaai gewaar deur die opperstuurman van die Drommedaris, een van die drie skepe waarmee kommandeur Jan van Riebeeck op 6 April 1652 aan Tafelbaai land om 'n verversingspos vir die VOC te stig. Die ander twee skepe was die Goede Hoop en die Reijger, wat hulle om vieruur die oggend by die Drommedaris aan die Kaapse kus aangesluit het.

  Die skepe het op 6 April naby die kus bly lê terwyl Adam Hulster, die boekhouer, en die onderstuurman, Aernt van Leveren, per sloep vertrek het om Tafelbaai te verken. Twee uur voor sononder het hulle berig dat daar geen skepe in die baai is nie en kon die Drommedaris en die Goede Hoop die baai binnevaar en by die "versse'-rivier anker gooi.

Twee weke lank sou almal slegs bedags aan land gaan en saans op die skepe slaap. Hoewel Jan van Riebeeck en sy geselskap dus nie finaal op 6 April voet aan wal gesit het nie, het hy self hierdie dag as die verjaardag van die nedersetting beskou.

In 1654 lê hulle 'n belofte af wat in sy dagboek so opgeteken staan:
"...om desen dagh, den 6en April wesende, tot Godes eer met danckseginghen te vieren ende voor altijt tot een vastblijvende danck ende bededagh in te stellen, ten eijnde daer bij des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons naecomelingen noit vergeten, maer altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden moge worden."

Hierdie geskrifinhoud word dan ook 'n gelofte genoem omdat dit as 'n biddag tot God ingestel is waarvan die erns aan die nageslagte oorgedra moes word om dit so te onderhou. Daarom behoort dit net soos die geloftes van Bloedrivier en Paardekraal jaarliks deur ons herdenk te word. Lees weer die Afrikaanse gelofte in die artikel DIE GELOFTE VAN JAN VAN RIEBEECK

Van Riebeeck moes 'n verversingspos aan die Kaap vir die skepe van die VOC oprig omdat hulle op hulle lang reis van Europa na die Ooste, in Tafelbaai vars voedsel sou kon inneem.

 Die oogmerke van die VOC was bloot prakties en ekonomies van aard, en die gedagte aan 'n volksplanting word nie by hulle aangetref nie. Tog sou hierdie daad oorgaan tot die vestiging van 'n nuwe volk aan die suidpunt van Afrika: 'n volk met 'n eie taal, beginsels, lewensbeskouing, filosofie en lewenswyse. Die immigrante moes hulle aanpas by gans ander omstandighede as waaraan hulle gewoond was. Vanuit ontwikkelde Nederland het hulle gekom na 'n onontwikkelde, ongetemde land. In hulle stryd teen die elemente sou die bodemgesteldheid beslissend inwerk op die vorming van 'n groep mense met 'n eie aard en die geboorte van 'n nuwe volk onvermydelik maak. Veral met die instelling van Vryburgers in 1657 is die volksplanting bevestig en het die nuwe volk sy eie tuiste gevind. Van Riebeeck en sy mense was die draers van sekere beginsels en 'n eiesoortige kultuur. Met die latere binnekoms veral van Duitse en Franse immigrante sou die volksaard vervorm word tot wat later die Afrikaner geword het.

Omdat hy die draer van 'n kultuur was, was Van Riebeeck ook die oorplanter van 'n kultuur. Hy was nie net die stigter van 'n verversingspos of die leier van 'n groep immigrante nie, maar die vader van 'n nuwe volk, uniek ter wêreld. Van Riebeeck se koms sou in die geskiedenis van Afrika 'n nuwe wending bring. As draer van die Westerse beskawing, het hy die Protestants-Christelike lewensbeskouing met hom saamgebring. Sy koms het aan die Christelike kerk 'n stewige vastrapplek op die vasteland van Afrika gegee. Uit sy koms het die sending voortgevloei waarby die hele Afrika baat kon vind. Hy het tegnieke, geloof en lewenswyse van die Westerling na Suid-Afrika gebring. Kaapstad se aanskyn sou spoedig verander met die oprig van Westerse geboue, bewerking van die aarde wat 'n meer produktiewe landbou tot gevolg gehad het, en die beëindiging van die absolute isolasie deur die aandoen van skepe by die verversingspos. Die Kaap het spoedig ontwikkel in 'n pos onafhanklik van Nederland, en daarmee saam het sy mense onafhanklik van Nederland geraak. In hulle gesamentlike stryd teen die bodem, barbarisme en later die kompanjie, het die mense van die verversingspos 'n nouer verbondenheid met mekaar begin ervaar en 'n nageslag voortgebring wat as nuwe volk onder die naam Afrikaner bekend sou staan en 'n Westerse staat aan die suidpunt van Afrika sou stig.