1877: BRITSE ANNEKSASIE VAN DIE ZAR

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 12 APRIL

Die meeste Transvaalse Afrikaners het die anneksasie as 'n onregverdige daad beskou maar was om verskeie redes nie by magte om dit gewapenderwys teen te gaan nie. Gevolglik het die regering van die Republiek skriftelik teen die anneksasie geprotesteer en 'n afvaardiging in hierdie verband na Londen gestuur. In afwagting van die uitslag het die burgers hulle rustig gedra. So het 'n wanindruk ontstaan dat die Transvalers in die anneksasie berus het. Dit het bygedra tot die besluit van die Britse  regering om die ware begeerte van die Transvalers te verontagsaam. Hierdie begeerte is beliggaam in 'n geskrif aan die Britse koningin waarin uit 'n moontlike 8 000 burgers, 6 591 hulle teen, en 587 hulle ten gunste van Britse gesag uitgespreek het. Ofskoon sommige burgers na die wapen wou gryp, het die leiers daarop aangedring dat in ooreenstemming met die protes eers alle vreedsame metodes aangewend moet word om die vryheid te herwin.

Nog 'n deputasie na Londen, onderhandelings met verskeie Britse amptenare in Suid-Afrika en 'n beroep op premier Gladstone was egter tevergeefs.

Intussen het die volksbyeenkomste wat gehou is om sake te bespreek, 'n innige saamhorigheidsgevoel en 'n vurige nasionalisme opgewek wat dwarsdeur Suid-Afrika weerklank gevind het. Indien daar enige hoop was om die Transvalers met Britse gesag te versoen, is dit verydel deur swak administrasie.

Uiteindelik het die burgers op 13 Desember 1880 hulle eie regering op Paardekraal herstel. Van Britse kant is dit nie erken nie en die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880 – 1881 het gevolg. Die anneksasie en wat daarop gevolg het, het meer as enigiets anders daartoe bygedra om Afrikanernasionalisme in Suid-Afrika te stimuleer en te bevorder.