13 NOVEMBER 1833: "NAG VAN DIE STERRE-VAL"

KULTUURDAGBOEK

Al het hierdie toneel in Noord-Amerika afgespeel, het dit tog op ons betrekking en kan ons in verwondering daarna kyk. Op hierdie dag in 1833 het die bewoners van Noord-Amerika die voorreg gehad om een van die grootste “sterre-val” ooit, te aanskou.

In daardie jare was daar nog nie elektriese straatligte nie en was die nagte besonder donker. Daarom was dit ‘n ongelooflike gesig toe ongeveer 72 000 meteore per uur grond toe val. Die omgewing was so helder verlig dat inwoners wat wakker was gedink het hulle huise is aan die brand.

Die volgende oggend toe die son opkom het die “sterre” steeds geval. Wanneer dit op die grond land het dit gebars en weggespat. Die gebeure is beskryf as die grootste meteore-val en die mees aanskoulike toneel in die geskiedenis. Daarom het dit die naam gekry “nag van die sterre-val”.