ONS VOLK KAN HERSTEL...

...SLEGS DEUR VERTROUE EN GEHOORSAAMHEID AAN GOD

Leuens en misleiding is kenmerkend van die politiek sedert die dood van dr Verwoerd, toe die meerderheid kiesers keer op keer suksesvol oortuig is dat afsonderlike ontwikkeling steeds die beleid van die NP was, terwyl daar daadwerklik beweeg is na volledige integrasie en totale oorgawe soos ons dit vandag ondervind.

Die verdeeldheid en die gepaardgaande stryd tussen Afrikaners en die noodwendige aanvalle op mekaar, het 'n onvermydelike negatiewe uitwerking gehad op die selfrespek van alle Afrikaners.

In teenstelling met die beeld van die Afrikaner in die verlede, het die geweldige toename in betrokkenheid van Afrikaners by misdaad 'n ernstige uitwerking op die selfrespek van die Afrikaner. In hierdie opsig het die oneerlikheid en korrupsie in die hoogste Afrikanerkringe sekerlik 'n uiters nadelige invloed op alle lae van die bevolking gehad.

Die geweldige toename in egskeiding en die vernietigende uitwerking op gesinne en veral op kinders, gepaardgaande met 'n grootskaalse verwerping van tradisionele morele waardes onder Afrikaners, kon nie anders as om die selfrespek van die Afrikaners te benadeel nie.

In hierdie opsig kan die ongeëwenaarde media-aanslag deur leuens soos ons nou weer met die virus-sage ondervind, die musiek, rolprente, radio, televisie, tydskrifte en koerante, en veral die Amerikaanse invloed, nie buite rekening gelaat word nie.

Die verdraaiing van geskiedenisonderrig op skool en die nalatigheid van ouers om hulle kinders enigsins in te lig aangaande ons geskiedenis, het 'n geslag voorgebring wat grotendeels sonder respek vir of belangstelling in hulle herkoms is. Gepaardgaande hiermee het die ongeëwenaarde wêreldwye anti-apartheidsveldtog gesorg vir 'n stroom van aftakeling van die Afrikanergeskiedenis waarteen die jong Afrikaner, weens 'n gebrek aan kennis, nie opgewasse is nie.

Daarby het die uitskakeling van die Christelike godsdiens as skoolvak sekerlik gedien as die heel grootste oorwinning wat ons volksvyande kon beleef.

Hierdie veldtog wat vir dekades lank teen Afrikaners gevoer is, het by groot getalle Afrikaners, veral van die jonger geslag, 'n skuldgevoel gekweek ten opsigte van ons volk se tradisionele oortuiging om Blank te bly. In hierdie veldtog het die Afrikaanse kerke, predikante en teoloë 'n groot rol gespeel en het die NP-regering ná die moord op dr Verwoerd opgetree as die effektiefste bondgenoot van die VVO se Anti-apartheidskomitee.

So suksesvol was hierdie gesamentlike aanslag dat daar by sommige Afrikaners, selfs in sogenaamde regse geledere, 'n huiwering is om enigsins van rassisme beskuldig te word. Vandaar dan ook die teensinnigheid om ras (Witmanskap) as fundamentele eienskap van 'n Afrikaner te erken.

Die verskrikllike verraad van die NP en sy leiers teen die Afrikanervolk, deurdat hulle die meerderheid deur misleiding meegevoer het op 'n pad na oorgawe aan 'n Swart kommunistiese bewind, het by baie Afrikaners so 'n veragting tot gevolg gehad dat dit noodwendig hul selfrespek afgetakel het.

As daarby gevoeg word die verraad wat binne regse kringe plaasgevind het waardeur weerstand teen die NP-optrede keer op keer geneutraliseer is, word die skade aan Afrikaners se selfrespek des te groter en begrypliker.

In teenstelling met die standvastigheid en beginselvastheid wat groot Afrikanerleiers soos dr Verwoerd en andere se optrede gekenmerk het, was die politieke optrede van sy opvolgers deurtrek van pragmatisme en gevolglike ongeloofwaardigheid. Hierdie voorbeeld het ook in die Afrikanersamelewing deurgewerk met baie nadelige gevolge en verlies aan selfrespek.

Die rol wat die media gespeel het om die Afrikaner se selfrespek af te takel, kan nie oordryf word nie. Op elke denkbare manier is die Afrikaner in die pers, oor die radio, op die verhoog, oor die televisie en in die letterkunde verkleineer, bespot en aangeval terwyl sy prestasies meesal 'n tweede plek moes inneem. Die geweldige mag van die media is in hierdie veldtog ten volle aangewend.

Sonder om die belangrikheid en noodsaaklikheid van kennis en geleerdheid enigsins te onderskat, kan die vraag tog gestel word of opvoeding – ontwikkeling van die karakter – in huis en skool nie in die afgelope dekades 'n te geringe plek ingeneem het nie.

Die grootste enkele oorsaak van die Afrikaner se verlies aan selfrespek moet waarskynlik gesoek word in die bloedlose en vernederende prysgawe van sy vryheid op 27 April 1994 aan die Swart kommunistiese regering. Hierdie gebeurtenis het ons vriende in die wêreld met verbasing en skok vervul en elke Afrikanernasionalis met skaamte en ongeloof.

Ons voer dus ‘n volksoorlewingstryd, een wat tans baie ver gevorder het. Ons het nie meer selfrespek nie. Ons gebrek aan kennis op alle terreine maak ons ‘n maklike teiken vir ons vyande. Hoe moet ons dan herstel; is dit enigsins moontlik?

Daar is net een manier van herstel wat vir ons oorgebly het: ons durf nie poog om uit eie krag, sonder God, ons stryd te voer nie, die erkenning van die soewereiniteit van ons Verbondsgod, Verlosser en Saligmaker is op alle terreine 'n voorvereiste. Ons moet erken dat alle groot leiers in die verlede gawes van God was en dat alle talente van Hom alleen afkomstig is; en dat alle groot dade en oorwinnings in ons geskiedenis alleen deur die genade van God moontlik was.

Ons volkstrots kan nie herstel word deur massa-optredes of deur groot getalle nie, maar wel deur 'n ware geloof en nederige vertroue en gehoorsaamheid aan die Almagtige God, 'n onverskrokke toewyding aan ons saak en 'n strewe na uitnemendheid op alle terreine. Nederige erkentlikheid van ons eie sonde en skuld en daarteenoor die almag en soewereiniteit van God oor alles moet die uitgangspunt van al ons beplanning en ondernemings in die toekoms wees. Dán alleen sal ons weer in ons eie land herstel word!