1901: MEV BETSIE VERWOERD

KULTUURDAGBOEK 17 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Elizabeth (Schoombee) Verwoerd is op 17 Mei op Middelburg in die Kaap gebore. Aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy die graad MA in Afrikaans verwerf het, het sy dr HF Verwoerd leer ken. Hulle is in 1927 getroud. Ondanks haar huislike pligte as moeder van 'n groot gesin, het sy tyd gevind om haar man in sy politieke loopbaan by te staan, veral in verkiesingstye. Sy was ook lid van die Vroueraad van die Nasionale Party in Johannesburg.

Nadat dr Verwoerd verkies is tot Eerste Minister in 1958 het sy hom op sy reise deur die land vergesel en kon sy saam met hom die heuglike Republiekwording op 31 Mei 1961 beleef – die hoogtepunt van 'n veelbewoë lewe.

Ná die moord op dr Verwoerd op 6 September 1966, wat vir haar 'n ontsettende skok was, het sy dapperheid aan die dag gelê wat by alle lae van die Suid-Afrikaanse bevolking bewondering afgedwing het.

Kalm en bedagsaam het sy gebly terwyl die hele Suid-Afrika saam met haar gerou het. 'n Voorbeeld het sy aan die volk gestel, waaroor die Cape Times onder meer geskryf het:
"Die stille waardigheid van mev Betsie Verwoerd was miskien die treffendste van alle huldeblyke."

Mev Verwoerd het die laaste jare tot haar dood in Orania by haar dogter Anna en haar skoonseun prof Carel Boshoff gewoon.