1948: NP MET DF MALAN KOM AAN BEWIND

KULTUURDAGBOEK 26 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Tweede Wêreldoorlog se nawerking op die ekonomiese en maatskaplike gebied het 'n invloed op die politieke gesindhede van mense gehad wat uiteindelik die Nasionale Party sou bevoordeel. In dié tyd het hierdie party ook sy kleurbeleid, in 1938 op 'n Uniale kongres gereformuleer, sterk op die voorgrond gebring en is die beleid van apartheid al sterker bepleit.

In die geledere van die Verenigde Party het 'n liberale vleuel onder leiding van JH Hofmeyr ontstaan wat apartheid teengestaan het.

In 1946 het dr Malan en mnr NC Havenga, leier van die kleiner Afrikanerparty, 'n samewerkingsooreenkoms gesluit wat in 1948 tot 'n verkiesingsooreenkoms uitgegroei het. In die algemene verkiesing op hierdie datum het die strydpunte van apartheid teen die gelykstelling van die rasse 'n belangrike rol gespeel naas ekonomiese vraagstukke en die Smutsregering se optrede tydens die oorlog en daarna.

Die Malan-Havenga-vennootskap het die verkiesing met 'n meerderheid van agt stemme gewen; met die stemme van die drie naturelleverteenwoordigers ook teen die Regering gekant, was die meerderheid in die Volksraad net vyf. In die Senaat was die Nasionale Party 'n tyd lank in die minderheid. In die Kabinet van elf lede het die Afrikanerparty een, mnr Havenga, gehad.

Die oorname deur die nuwe Regering het 'n groot ommeswaai in beleidsrigtinge in die land gebring, veral ten opsigte van die kleurkwessie. Apartheid op verskeie terreine is in wetgewing vasgelê, bv die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet. Die republikeinse ideaal is verder uitgebou, en in 1949 het dr Malan by die Statebondskonferensie in Londen dit help verkry dat 'n lidland 'n republiek kan word terwyl hy op versoek en met instemming 'n lid van die Statebond kan bly.

Die Regering het die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap laat aanneem, en dr Malan het hom sterk beywer vir nasionale eenheid tussen Afrikaans- en Engelssprekendes, bv in 'n belangrike toespraak in 1950 in Durban.

Dr Malan het onderhandelinge van vóór 1948 vir die nouer aaneenskakeling van SWA by Suid-Afrika voortgesit, in 1949 die Wet op Aangeleenthede van SWA laat deurvoer en 'n verkiesing vir Volksraadslede vir die Gebied op 30 Augustus 1950 laat hou.

Die Nasionale Party het al ses Volksraadsetels en al vier Senaatsetels vir SWA gewen en sodoende sy parlementêre krag finaal verstewig. Sy beleid van afsonderlike ontwikkeling het ook voorsiening gemaak vir die instelling van afsonderlike politieke instellings en liggame vir die groepe. Die Kleurlinge was nog in Kaapland en Natal op die gemeenskaplike kieserslys saam met blankes, hoewel hulle net vir blanke Volksraadslede kon stem, en in 1951 is die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers met 'n gewone parlementêre meerderheid aangeneem ten einde die Kleurlinge op 'n afsonderlike kieserslys te plaas en hulle vir vier lede van die Volksraad te laat stem, wat ook net blankes sou wees. Hierdie wet is op grondwetlike gronde in die howe aangeveg, en die Regering het stap vir stap in die howe verloor.

Uiteindelik is in 1955 na dr Malan se uittrede die ledetal van die Senaat verhoog wat die Regering verseker het van die vereiste van 'n tweederde-meerderheid vir die verandering van die kiesreg van die Kleurlinge. Die omstrede wet is vervolgens in 1956 volgens dié prosedure aangeneem en dit het 'n geldige wet geword.

Tegelykertyd is die soewereiniteit van die Parlement bo twyfel geplaas betreffende sy reg om wette met 'n gewone meerderheid aan te neem, uitgesonder die grondwetlike bepaling wat die gelyke regte van die twee landstale waarborg, wat steeds 'n meerderheid van twee derdes sou vereis.