1881: PROF DF MALHERBE

KULTUURDAGBOEK 28 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Daniël Francois Malherbe is op hierdie dag in Daljosafat naby Paarl in die Kaap gebore. Hy het grootgeword in 'n sfeer wat gedrenk was in liefde vir land, volk en taal. Sy vader, PJ Malherbe, was 'n wynboer wat op 14 Augustus 1875 een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners was. In die Gedenkschool der Hugenoten waar hy saam met AG Visser en Totius gestudeer het, is sterk nadruk gelê op vaderlandsgeskiedenis en Bybelkunde. Die pleganker van sy lewe en sy werke was godsdienssin en volksliefde.

Nadat hy die BA-graad aan die Victoria College op Stellenbosch verwerf het, is hy sonder enige voorkennis van Duits na Duitsland, waar hy na 'n aantal jare die D Litt-graad magna cum laude aan die Universiteit van Freiburg behaal het.

Terug in sy vaderland, was hy eers dosent aan die Hugenote-Seminarie op Wellington en sedert die begin van 1907 skoolhoof op Carnarvon.

'n Tyd lank het hy lesings aan sy alma mater op Stellenbosch behartig totdat hy op versoek van genl JBM Hertzog op 7 Februarie 1910 as professor in moderne tale met lesings in Frans en Duits, aan die Grey-Universiteitskollege begin het. Bloemfontein sou sy tuiste wees tot by sy heengaan op 12 April 1969.

DF Malherbe was 'n dinamiese mens, 'n vurige vaderlander, 'n meevoerende spreker en 'n besielende dosent. Na sy terugkeer na Suid-Afrika het hy hom met hooglopende geesdrif in die stryd om die erkenning van Afrikaans gewerp. Sy historiese lesing oor die onderwerp "Is Afrikaans 'n Dialek?" op 12 Oktober 1906 in die Goodnowsaal in Wellington het goot indruk gemaak en orals beroering gebring. Hy het 'n leidende aandeel gehad in die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging in Kaapstad, en in Bloemfontein het hy onverskrokke geveg vir die regte van sy moerdertaal. Sy eerste letterkundige werk was 'n digbundel 'Karoo-Blommetjies' (1909), wat hy geskryf het terwyl hy skoolhoof op Carnarvon was. Dit is opvallend dat sy laaste werk, 'Agterland', ook 'n digbundel was, geskryf toe hy al diep in die tagtig was.

Hoewel by uitstek 'n prosaskrywer, is sy werke gereeld in bloemlesings opgeneem, is sy toneelstukke en eenbedrywe nie sonder betekenis nie en het hy ook enkele verdienstelike kortverhale geskryf. Sy prosa het 'n sterk ritmiese inslag, is oorwegend liries en beeldend, met ruisende en sonore volsinne.

Hy is by uitstek simbolies en romanties by wie die klem altyd op die kern-idee val. Sy pragtige prosa wat bladsye en bladsye bevat wat niks anders is as 'n uitbundige loflied oor die adel van die arbeid nie, word gekenmerk deur meesleurende sfeeruitdrukking en gevoelige natuuruitbeelding.

Sy eerste roman, 'Vergeet Nie', was in baie opsigte 'n verrassing. Meteens het daar vernuwing gekom wat taal, styl en struktuur betref.

Met sy Bybelromans en sy Trekkertrilogie het hy aandag getrek en sy gewildste romans is waarskynlik 'Hans-die'Skipper', 'Die Bergstroom Ruis', en 'Die Hart van Moab'.

Die kritiek dat sy styl te oorlaai en te ornamenteel is, is egter nie sonder regverdiging nie.

As professor het Malherbe wye bekendheid verwerf.  In 1918 is hy aangestel as professor in Afrikaans aan die Grey-Universiteitskollege, waar hy ook van 1929 tot 1934 rektor was. Hy het 'n belangrike aandeel in die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie gehad en hy het dekades lank opgetree as redakteur van hierdie liggaam se 'Tydskryf vir Wetenskap en Kuns'. Van die Akademie het hy drie keer die Hertzogprys vir sy romans ontvang, die Stals-prys vir sy taalwetenskaplike werk en 'n erepenning vir sy waardevolle bydrae as taaladviseur vir die Bybelvertaing in Afrikaans.

Voorts het hy werke van Shakespeare en Schiller vertaal en af en toe resensies geskryf.

Van die FAK het hy die Erepenning vir Volksdiens vir sy kultuurwerk ontvang en vyf Suid-Afrikaanse universiteite het hom met 'n eredoktorsgraad vereer.