1619: SINODE VAN DORDRECHT AFGESLUIT

KULTUURDAGBOEK 29 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Verskeie sinodes is gedurende die 16e eeu in Dordtrecht, Nederland , gehou, maar die bekendste is ongetwyfeld die groot sitting van 13 November 1618-1619. Dit was van grondliggende betekenis vir die kerke van die Reformasie. Direkte aanleiding was die beroeringe oor die invloed van afwykende beskouinge ivm die leer van die uitverkiesing – bekend as die Remonstrantse standpunt, of die Armeense leer.

Hierdie Sinode het ook die Dordtse Kerkorde sy teenswoordige vorm gegee om as rigsnoer te geld vir 'n gesonde gereformeerde kerkregering.

Die Sinode is behalwe deur 37 predikante, 19 ouderlinge en 'n aantal politieke verteenwoordigers, ook deur 'n aantal teoloë uit die buiteland bygewoon – so byvoorbeeld uit Engeland, Duitsland en Switserland.

Na 'n heftige stryd en skerp woordewisselinge tussen die Remonstrante en Nie-Remonstrante, is die bekende Vyf Dordtse Leerreëls opgestel waarin die Armeense dwaling verwerp en die Skriftuurlike standpunt oor die predestinasie en daarmee enkele samehangende waarhede uiteengesit is.

Een van die belangrikste besluite van die Dordtse Sinode was dat daar opnuut 'n Bybelvertaling aangepak moes word. Verskeie geleerdes is aangewys om hierdie taak uit te voer. Dit moes 'n nuwe vertaling uit die grondteks wees. Dit is wenslik geag dat die vertalers op dieselfde plek moet wees, en so is Leiden as geskikste stad aangewys want twee van die vertalers, Festus Hommius en prof Walaeus, het reeds daar gewoon. Dit was 'n reuse taak wat jare in beslag sou neem. Immers, daar moes nie net vertaal word nie maar verklarende aantekeninge moes bygewerk word.

Negentien jaar ná die besluit tot die vertaling kon op 17 September 1837 die eerste eksemplaar van die nuwe Bybel aan die Staten-Generaal aangebied word. Dit was wel nie die eerste Hollandse Bybel nie maar dit was die eerste wat uit die grondteks vertaal is, en die oorsetting is op 'n voortreflike wyse gedoen – sodanig dat die Statevertaling in eie gesag verwerf het wat uniek is ten opsigte van vertalings van die Bybel. Selfs buite Nederland het die Statebybel hoë waardering ontvang en is dit ook met hierdie Bybel dat Van Riebeeck 15 jaar later in Tafelbaai aangekom het.

Die betekenis van hierdie Bybel en sy invloed vir ons voorgeslag kan moeilik oorskat word. Algemeen word ook toegestem dat die Statebybel die grondslag van die Afrikaanse volkslewe gevorm en die fondamentstene van die sielelewe van die volk gelê het.

Met die opkoms van ons eie taal het die behoefte aan 'n Bybelvertaling in die Afrikaanse taal ook gegroei en pleitbesorgers het plek gemaak vir eerste vertalers. Ná vertalings en proefuitgawes is die groot taak van die vertaling van die Bybel in ons eie taal in 1932 voltooi waarna Suid-Afrika gretig die eerste besending van 10 000 in 1933 vanaf Londen ontvang het.