1900: PAUL KRUGER VERLAAT PRETORIA AS BANNELING

KULTUURDAGBOEK 30 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Toe president Kruger die aand van 29 Mei in Pretoria van sy vrou Gezina, ander familielede en amptenare afskeid neem, was hy nie 'n vlugteling of was dit nie selfopgelegde martelaarskap nie. Dit was 'n selfgekose vertrek in oorleg met en byna in opdrag van die wettige Boereregering van die land asook ná onderhandelings met Boere-voormanne soos pres MT Steyn en andere van die Vrystaat. Hy moes eenvoudig nie in die hande van die aanrukkende Britse vyand val nie omdat dit 'n sielkundige neerlaag vir hom en 'n terugslag vir die volksgevoel sou beteken.

Verder moes hy in die buiteland gaan hulp soek: geld en begrip, goedere en steun aan die Boeresaak teenoor Brittanje deur die Europese regerings en nie langer net deur die Europese publiek nie.

Voorts moes Kruger dringend mediese aandag aan sy pynlike, chroniese ontsteekte oë gee en dit kon hy alleenlik in Nederland laat doen.

Uit vrees dat die Britse gepeupel 'n oproer op die stasie sou versoorsaak wanneer Kruger vertrek, het hy per vier-perdewa na 'n eerste halte op die spoorroete na Machadodorp gereis – saam met dr Heymans, Frikkie Eloff (jnr) en Manie Bredell.

Op 30 Mei het hulle Machadodorp bereik maar Kruger het feitlike dadelik vanweë die koue op die warme Waterval-Onder gaan woon en dáár met sy amptenare onderhandel. In die paar weke dat hy hier vertoef het was Kruger nog steeds uiters pessimisties, somber en swartgallig. Hy het gevrees dat die burgers net nie langer wou veg nie en het daarom self aanbeveel dat die oorlog gestaak moes word hoewel daar nie om vrede gevra moes word nie.

Dat hy tant Gezina nooit weer sou sien nie het hy genadiglik nie in hierdie dae reeds besef nie.

Danksy MT Steyn en CR de Wet se bemoedigende houding en hulle weiering om op enige wyse met lord Roberts te onderhandel, het ook Louis Botha en Kruger moed geskep.

Van Waterval-Onder af het Kruger op 28 Augustus 1900 na Nelspruit verhuis – hy het in sy spoorwegrytuig bly woon en dit was ook die hoofsetel van die regering.

Maar op 11 September is Kruger by Komatipoort oor die grens na Portugese gebied. Op Hectorspruit het hy en Steyn nog eers beraadslaag en afskeid geneem. Kruger het met trane in die oë gewag dat die trein moes vertrek. Op vaderlandsbodem sou hy nooit weer sy voete sit nie.