1902: VREDE VAN VEREENIGING

ONTWIKKELINGSFASETTE TOT REPUBLIEKWORDING

KULTUURDAGBOEK 31 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Hoofsaaklik as gevolg van die Britse beleid van verskroeide aarde teen die Boere in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902, het die Afrikaner tot onderhandeling met Engeland ingestem.

Op 15 Mei 1902 het dertig Vrystaters en dertig Transvalers onder genl Beyers as voorsitter by Vereeniging die kwessie van oorgawe bespreek. Eenstemmigheid het uitgebly maar op hierdie Saterdag in 1902 is besef dat die vernietiging van Boere-eiendom en die moord op vrouens en kinders die land en volk sal breek. Daarom is onvoorwaardelik oorgegee – 54 daarvoor en ses daarteen.

In George Heys se Melrose-woning in Pretoria is Smuts en Hertzog se oorgawe-dokument dié aand aan Milner en Kitchener oorhandig. Om 23:05 is dit onderteken.

Die Boererepublieke was daarmee heen maar die Afrikanervolk het bly leef en droom. Hy het polities sodanig na vore gekom dat hy die veertig jaar oue Londense ideaal van 'n verenigde Suid-Afrika in Konvensiedae van 1908/1909 sterk beïnvloed het.

Die Uniewording op hierdie dag in 1910 het gevolglik 'n Suid-Afrikaanse beslag gehad. Die vier aparte gebiede is as provinsies van 'n uniale owerheid saamgevoeg, en die Afrikaner se taal- en ander ideale wetlik bevestig, erken en verskans. Vreugdefeeste is landwyd gevier, en hoë ideale is gekoester.

Politieke samewerking tussen die twee blanke kultuurgroepe was die wagwoord. Maar eers in 1928 is die Unie se eie vlag op hierdie dag in Kaapstad na veel rusie en baie voorstelle amptelik laat wapper – saam met die Union Jack, die vlag van Brittanje, die soewereine heerser.

In 1938, die Eeufeesjaar van die Voortrekkers, is slegs die Unievlag op hierdie dag en daarna amptelik byvoorbeeld by militêre parades gehys en nie die Union Jack nie. Premier Hertzog het beweer dat die Britse vlag slegs op ons Statebondsverbintenis gedui het en net by sekere sodanige geleenthede gehys hoef te word.

Soortgelyk is ook Die Stem alleen by amptelike funksies gespeel omdat God save the King, die Britse volkslied, bloot 'n gebed vir die Britse koning was. Die eie vlag en volkslied het dan van 1938 af 'n eie nasionale gevoel uitgedruk.

Heelwat politieke onrustigheid het hieruit gevolg. In 1957 is daar egter deur eenparige parlementêre wetgewing bepaal dat Die Stem en die Unievlag ons enigste nasionale simbole van hierdie aard is. Van 31 Mei af het die gebruik gegeld en is God save the Queen en die Union Jack nie meer amptelik gebruik nie.

In 1961 is die Republiek van Suid-Afrika gebore. Oral is programme aangebied maar die hoogtepunt was op Kerkplein, Pretoria. Hier is CR Swart as eerste Staatspresident in die Bosmanstraatkerkgebou beëdig. Soos in 1910 en 1961 is verskeie gedenkstukke gepubliseer en vervaardig. Veterane van 1900 se jare het met trane in die oë gejuig want 'n Afrikanerdroom het in vervulling gegaan.

In 1966 is 'n omvangryke vyfjaarfees gevier. Veral die militêre vertoning in Pretoria was indrukwekkend en simbool van die tydsgees.

In 1971 is in Kaapstad die tienjarige bestaan van die RSA met groot aanbiedinge van algemene kulturele aard aangebied.  Hierdie datumdag is voorwaar onherroeplik deel van ons geskiedenis.