AFRIKANER-LIBERALISME (1)

Lees reeks by Afrikaner-liberalisme 

'n Volk wat sy geskiedenis vergeet en die waarde en ideale wat hom deur die geskiedenis gedra het, afsweer, is geen volk meer nie maar het geblus tot 'n massa individue.

DIE LIBERALISME (1)

Prof. P.S. Dreyer

Die woord liberalisme het 'n lang geskiedenis, ook hier in Suid-Afrika. In die Westerse wêreld het die woord oor die algemeen 'n gunstige betekenis. Mense hou van 'n liberale politieke beleid, liberale teologie, liberale beskouing oor sedelike sake en so meer.  Selfs die mense wat hulself konserwatief noem, is dikwels teologies en godsdienstig konserwatief, maar polities liberaal.  Daarby hoor ons dat in die VSA die Republikeine konserwatief en die Demokrate liberaal is, maar dit lyk asof ons onder die woorde heeltemal iets anders as die Amerikaners verstaan.

Onder ons behoudende Afrikaners het die woord liberaal meesal 'n ongunstige betekenis. Ons hou daarvan om onsself konserwatief te noem. As ons egter nou vir mense vra wat hulle onder liberaal verstaan, sien ons baie gou dat dit vir die meeste mense 'n vae begrip is.  Meesal gebruik ons die begrip in die vorm van liberalis: Ons sê iemand is 'n liberalis. Wat is 'n liberalis?

Die een sal sê dit is 'n mens wat nie kerktoe gaan nie, aan Sondagsport deelneem en allerlei aweregse opinies oor die kerk en die godsdiens het. 'n Ander een sal sê dit is 'n mens wat vrye liefde voorstaan. Die mening wat ons die meeste aantref, is dat 'n liberalis 'n voorstaander van integrasie tussen Wit en Swart in ons land is. Wat die beskouing ook al mag wees, as iemand deur behoudendes 'n liberalis genoem word, moet hy weet dat hy behoorlik sleg gesê is.

 

Die bedoeling van hierdie artikel is om die betekenis van die begrip liberalisme kortliks na te gaan en enkele van die implikasies daarvan aan te dui, veral soos ons dit in Suid-Afrika aantref.

Ons woord liberalisme kom van die Latynse liberalis wat weer van die liber af kom. Hoewel liber soms met 'n ongunstige betekenis  as sedelik losbandig gebruik word, is die betekenis van die woord oor die algemeen baie gunstig: liber beteken vry van dwang, ook vrymoedig, openhartig, onbeskroomd. In 'n politieke en sosiale verband word dit gebruik in die betekenis van vry in terme van die staat; met ander woorde, die wette van die staat is van so 'n aard dat 'n mens onder daardie wette vry is. In staatkundige sin beteken liber onafhanklik, dit wil sê, nie onderworpe aan 'n ander staat nie.

Van die woord liber word 'n hele aantal woorde afgelei. Die belangrikste vir ons doel is liberalis en liberalitasLiberalis beteken dit wat by 'n vry man pas, wat 'n vry man waardig is. Die selfstandige naamwoord liberalitas beteken die edele, vrysinnige denkwyse en handelswyse van 'n vry man en dit word aangedui as onbekrompenheid, edelmoedigheid, welwillendheid, vrygewigheid, beskaafdheid, en so meer.

Uit hierdie Latynse woorde het ons woord liberalisme te voorskyn gekom – 'n woord wat ons in alle Westerse tale aantref. As ons die betekenis en die geweldige trefkrag van die woord in die Westerse wêreld wil verstaan, moet ons in die geskiedenis teruggaan.

Die Middeleeue loop tot 'n einde in die dertiende eeu en word geleidelik deur die Renaissance vervang, wat op sy beurt duur tot aan die einde van die vyftiende eeu. Die einde van die vyftiende eeu word gewoonlik as die begin van die Moderne periode beskou. Die Moderne periode word van ons eie tyd onderskei deur woorde soos hedendaags, huidig en so meer te gebuik om ons eie tyd te beskrywe.

Die Middeleeue is gekenmerk deur die oppermagtige posisie van die Rooms Katolieke Kerk met die Pous wat op geestelike gebied die absolute oppermag besit het en op grond hiervan ook baie groot wêreldse mag gehad het. Die Pous was die verteenwoordiger van God op aarde en wanneer hy ex cathedra (dws in sy amptelike hoedanigheid as hoof van die Kerk) gepraat het, het sy uitsprake dieselfde gesag as die Woord van God gehad. Deur hierdie uitsprake het hy sy heerskappy direk uitgeoefen en indirek deur die hiërargie van geestelikes wat in neerdalende orde afgegaan het tot by die dorpspriester, die monnik en die non.

Op politieke gebied was die Middeleeue die tyd van die oppermag van die aristokrasie wat abolute heersers was. Die aristokrasie het ook 'n hiërargie gevorm, vanaf die klein, landelike landheer tot by die koning. Binne sy eie gebied, hoe klein dit ook al mag gewees het, was elke aristokraat egter 'n absolute maghebber, ondergeskik slegs aan die hoëre maghebbers. Die gewone volk het geen politieke seggenskap gehad nie en was geheel en al van die aristokratiese maghebber afhanklik.

Wat sosiale verhoudinge betref, was die Middeleeue die tyd van 'n strak klasse-indeling, wat van die landvolk (peasants in Engels) heel onder tot by die hoogste aristokrasie opgestyg het. Die orde is as 'n God-gewilde orde beskou en was daarom onveranderlik. 'n Mens is in 'n bepaalde status gebore, soos God dit beskik het en hieraan kon 'n mens geen verandering maak nie. Ekonomies was die Middeleeue 'n relatief statiese tydperk. Die aristokrate was die grondbesitters en het geleef van die belastings wat deur die mense op hulle grond betaal moes word. Veral die hoë aristokrate was daarom meesal ryk. Die grootste grondbesitter was egter die Roomse Kerk. Geleidelik het ook 'n geld-ekonomie ontstaan, wat vir etlike eeue heeltemal in die hande van die Pous was.

Die periode wat op die Middeleeue volg, word die Renaissance genoem, wat letterlik 'wedergeboorte'  beteken.  As 'n mens nou vra wat dit is wat wedergebore is, kry jy dikwels die antwoord dat dit die klassieke Griekse gees was wat weer ontwaak het. Dit is egter net ten dele waar. In die Renaissance het 'n geweldige belangstelling in en bewondering vir klassieke Griekeland, veral vir klassieke Athene, ontwaak. Die Griekse filosofie, kuns, regeringvorms en lewenswyse is intens bestudeer. In sommige kringe is selfs die meubels, kleredrag en lewenswyse van die Grieke nageboots.

Dit is egter maar 'n baie klein deeltjie van die prentjie. Die werklike betekenis van die Renaissance is dat dit die begin was van die vrywording van die Westerse mens – 'n vrywording wat met 'n geweldige stryd gepaard gegaan het en die hele Westerse kultuur omvorm het. Hierdie stryd duur in sommige opsigte tot diep in die negentiende eeu en baie mense sê dit is vandag nog aan die gang.

Die stryd het op ekonomiese gebied begin. Een van die gevolge van die Kruistogte van die Middeleeue was die ontstaan van 'n uitgebreide handel met die Naby Oosterse lande en later ook die Verre Oosterse lande. Hieruit het in die Weste 'n ryk middelklas ontstaan wat deur hulle geld al meer mag in die hande gekry het en al meer regte vir hulself kon koop en afdwing. Die ontdekkingsreise van die vyftiende eeu met die gepaardgaane verowering van oorsese gebiede en stigting van kolonies laat die handel in industrie geweldig toeneem. Hiermee het die ontwikkeling van die kapitalisme saamgegaan; ryk individue en maatskappye wat deur die handel hulle rykdom en mag steeds meer uitbrei. In die agtiende eeu het die Industriële Revolusie in Engeland plaasgevind en later hiervandaan na die Europese vasteland versprei. Teen die negentiende eeu het die  wêreld-omspannende finansiële en handelsmaatskappye ontstaan, maar daarmee saam ook die vakbondbewegings, wat vir die regte en die vryheid van die werkers gestry het.

Op politieke gebied het die stryd later begin maar baie feller gewoed. Reeds in die Renaissance het politieke onrus en allerlei vreemde politieke gedagtes kop uitgesteek. Op hierdie gebied het Engeland die voortou geneem. Sporadies het die stryd in die sestiende eeu reeds losgeraak maar in die sewentiende eeu in felheid toegenaam tot by die "Glorious Revolution" van 1688, waardeur 'n werklik effektiewe demokratiese regeringsvorm in Engeland tot stand gebring is. Dit het 'n groot invloed dwarsdeur die Westerse wêreld gehad. Dit was die filosofie en die voorbeeld van die Engelse politieke ontwikkeling wat byvoorbeeld ook die Amerikaanse Vryheidstryd van 1774 en die Franse Revolusie van 1789 inspireer het. Die Amerikaanse en Franse Revolusies het weer talle ander revolusies in Europa en sy kolonies inspireer, sodat die negentiende eeu dikwels die Eeu van Revolusies genoem word. Die gevolg was die politieke demokratisering van die grootste deel van die Westerse wêreld.

Op godsdienstige en kerklike gebied vind ons onrus dwarsdeur die Renaissance. Dit het op die kerkhervorming uitgeloop wat in 1517 met die optrede van Martin Luther begin het en waarvan Luther en Calvyn die grootste figure was. Die reaksie in die Roomse Kerk was die ontstaan van die Kontra-Reformasie, waarin die Jesuïte-orde, onder leiding van sy stigter, Ignatius Loyola, die belangrikste rol gespeel het. Ekonomiese en politieke faktore het meegewerk sodat die godsdienstige konflik op 'n wapenstryd uitgeloop het en die sogenaamde godsdiensoorloë het byna 'n eeu geduur. Die gevolg daarvan was dat Frankryk en Suid-Europa vir die Rooms Katolisme herwin is, terwyl die Protestantisme Noord-Europa in besit geneem het.

Hierdie historiese skets op die terrein van die ekonomie, politiek en godsdiens is genoeg om 'n aanduiding te gee van die geweldige veranderinge wat na die Middeleeue in die Weste plaasgevind het en die stryd wat daarmee gepaard gegaan het. Ons laat dit daar. Vir ons doel is dit belangriker om na die geesteshouding van die Westerse mens te kyk, want dit was die grond van die veranderinge wat plaasgevind het.

Grond van veranderinge:  vervolg...