'n Volk wat sy geskiedenis vergeet en die waarde en ideale wat hom deur die geskiedenis gedra het, afsweer, is geen volk meer nie maar het geblus tot 'n massa individue.
DIE LIBERALISME (2)
Prof. P.S. Dreyer
Die grond van die veranderinge was 'n ander mensbeeld en 'n ander lewenshouding wat in die Renaissance te voorskyn tree en mettertyd die hele Westerse wêreld verower. Dit is nie 'n nuwe filosofie wat deur filosowe uitgewerk is en toe die Westerse wêreld ingeneem het nie. Wat gebeur het, is dat die nuwe lewenshouding en lewensopvatting uitdrukking vind in die werk van filosowe, kerkleiers, kunstenaars, sakeleiers en politici en deur hierdie mense op talle maniere tot spreke gebring is. Dit dring eers later deur tot die man op straat, maar verower uiteindelik die Westerse gees so volkome dat baie skrywers juis dit as die tipiese kenmerk van die Westerling sien. Ons kan hierdie nuwe mensbeskouing en lewensopvatting soos volg saamvat:
In die eerste plek kom die mens in die middelpunt te staan. Nie meer God of die Kerk staan in die sentrum nie, maar die mens. Nie meer is die mens op die hiernamaals gerig nie, maar op die hier en die nou van hierdie wêreld. Die mens is nie meer niks voor die aangesig van God nie, maar 'n medewerker van God, 'n medeskepper naas God.
Galileo Galilei (1564 – 1642), die grootste matematikus en fisikus naas Isaac Newton, sien die natuur as 'n boek wat God in 'n geheimskrif geskryf het. Hierdie geheimskrif is die wiskunde. Wie wiskunde ken, kan al die geheime van God se natuur ontrafel. Deur middel van sy wetenskap kan die mens die heelal ken. Saam met die natuurwetenskap begin ook die tegnologie ontwikkel en gaan met geweldige spronge vooruit. Deur die wetenskap kan die mens dus die natuur ken en deur die tegniek is die mens die heerser oor die natuur. Dit geld egter nie net in die natuur nie, maar ook die lewe van die mens self. Die mens self beskik oor homself – oor sy eie toestand, sy samelewing, sy plek in die samelewing en sy toekoms. Wat nie na sy smaak is nie, kan hy verander of tot niet maak en met iets anders vervang. Kenmerkend van die Moderne Westerse mens tot by die Eerste Wêreldoorlog is sy geloof in vooruitgang in alle opsigte van die mens se bestaan.
Tweedens: tot sover het ons gepraat van "die mens". Vanaf die Renaissance word die mens egter gesien in terme van die individu, sodat ons ook kan praat van die opkoms van die individualisme in die Renaissance. Gedurende die Middeleeue het die individu verdwyn in die groter geheel van sy stand, sy werksverband, die kerk en so meer. Die besondere individu het so min getel dat baie skrywers en kunstenaars van die Middeleeue se werke vir ons bewaar gebly het, maar nie hulle name nie. Vanaf die Renaissance is dit net omgekeerd – individue op alle terreine is bekend en staan uit. Die groter gehele bepaal nie die individu nie, maar die individu bepaal die groter gehele: die individu kan deur sy eie bekwaamheid uit sy stand wegbreek en vir homself 'n ander lewenslot skep; hy is lid van 'n volk en burger van 'n staat, maar hy kan dit beëindig en homself by 'n ander volk en staat voeg; as hy lid van 'n kerk is, dan is hy dit omdat hy met die leer en praktyk van die kerk saamstem, maar hy kan ook sy lidmaatskap beëindig en by 'n ander kerk aansluit.
Die kern van die Moderne lewensopvatting is dat die individuele mens as die hoogste waarde in die middelpunt te staan kom. Intrinsiek, dit wil sê in sigself, bloot uit hoofde van die feit dat hy 'n mens is (dus nie omdat hy 'n skepsel van God of lid van 'n sosiale klas of iets dergeliks is nie), het die mens 'n waarde en waardigheid wat deur niks te nagekom of aangetas mag word nie. Hierdie waarde en waardigheid van die individu is slegs verseker en gewaarborg wanneer die vryheid van die individu gewaarborg is. Hierdie individu is van nature 'n sedelik-religieuse, maar veral 'n rasionele wese. Sy sedelikheid en godsdiens berus nie op iets buite homself (byvoorbeeld die kerk of die openbaring van God ) nie, maar is natuurlik, dws, dit is van nature in die mens ingebore. Bo alles staan egter die rede. Ook die sedelikheid en die godsdiens moet deur die rede ingesien en geregverdig kan word, anders is dit onaanvaarbaar. As redelike wese is die mens skepper van wetenskap en tegniek en dit is die middels waarmee die mens natuur en samelewing beheers en só ook sy eie lewenslot in sy hande het. Ook hiervoor is vryheid 'n absolute vereiste: slegs as hy vry is, kan die individu waarlik 'n sedelike, religieuse en rasionele wese wees. Vanaf die sestiende eeu word hierdie gedagtes op allerlei maniere deur talle teoloë, filosowe, kunstenaars en politici tot uitdrukking gebring. Reeds in die sestiende eeu het ons groot name soos Thomas Morus (1478 – 1535) met sy werk Utopia van 1516; en Desiderius Erasmus (1466 – 1536) wat met Luther in twisgeskryf was oor die vrye wil. In die sewentiende eeu was daar baie sulke mense. Die belangrikste was John Locke (1632 – 1704) wat 'n veldbrand loslaat met sy gedagte van natuurlike menseregte: van nature, bloot uit hoofde van sy menswees, het die individu sekere onaantasbare en onvervreembare menseregte. Hierdie regte is die vrye selfbeskikking oor jou eie lewe, persoon en eiendom wat deur arbeid verkry is. Locke self noem op verskillende plekke nog ander natuurlike regte, bv. gesondheid. In sy tyd en daarna is baie ander dinge genoem as natuurlike regte. Die belangrikste is vryheid van geloof, denke, spraak, beweging, arbeid en so meer. Die kern is egter altyd die vryheid van die individu.
Daarmee kan ons nou terugkom na die liberalisme. Ons kan ook nou sien waarom die liberalisme altyd met die individualisme verbind word. Al is liberalisme en individualisme nie dieselfde nie, is hulle so eng verbind dat daar dikwels van die liberale of liberalistiese individualisme gepraat word.
Ons kan ook nou sien dat die liberalisme nie 'n filosofiese sisteem was en is nie. Dit is 'n mensbeskouing en 'n lewensopvatting wat die waarde, waardigheid en vryheid van die redelike individu verabsoluteer, dws, bo alle ander dinge stel. Dit is die basiese beginsel waarvandaan alle aspekte van die mens se lewe benader word. Ons kyk kortliksna die belangrikste van hierdie aspekte:
Die individu is nie meer totaal verbonde aan 'n familie of sosiale groep nie. Die houvas van die groep verslap; die individu gaan sy eie gang; hy leef nie meer volgens die gewoontes en norme van die groep waarin hy gebore is nie, maar volgens die lewensreëls wat hy vir homself stel; en individue kan hulle eie, willekeurige organisasie (bv. klubs, verenigings, bonde, partye en so meer) vorm volgens hulle eie begeertes en belange.
Op ekonomiese gebied het die liberalisme 'n enorme invloed gehad. Die liberalistiese standpunt op ekonomiese gebied is dat vry onderneming toegelaat moet word. Staatsinmenging moet tot die minimum beperk word. Onderlinge mededinging en die meganisme van vraag en aanbod moet vrye spel toelaat omdat dit die beste stimulus vir ekonomiese ontwikkeling is en 'n natuurlike balans aan die ekonomie gee. Gekoppel aan die idee van die onaantasbaarheid van privaat eiendom vorm dit die grondslag van die kapitalisme.
Op sedelike en godsdienstige gebied maak die liberalisme 'n einde aan godsdiensvervolging en godsdiensoorloë. Dit bring in die Weste 'n verdraagsaamheid dat elkeen toelaat om te glo en sy godsdiens te beoefen soos hy wil en soos sy gewete van hom vereis, sonder dwang of inmenging van die staat of van een kerk teenoor 'n ander. Veral vir die Protestante was dit 'n groot oorwinning. Die liberalisme het egter ook (heeltemal konsekwent) meegebring dat sedelikheid en godsdiens 'n privaat aangeleentheid geword het. Sedelike en godsdienstige beskouings en die lewe wat 'n mens lei, is geheel en al 'n saak van die individu; niemand en ook niks (staat, samelewing, kerk en selfs die Bybel) kan vir hom sê wat hy moet aanvaar, dink, glo of doen nie, want dit is geheel en al sy eie saak. Al eis wat aan hom gestel kan word, is dat hy die privaatheid en vryheid van ander mense moet respekteer en hulle nie te na kom nie.
Op politieke en staatkundige terrein is die skerpste stryd gevoer en die ooglopendste veranderings te weeg gebring. Omdat die individue die draer van onvervreembare menseregte is, kan hy slegs regeer word in so verre hy dit toelaat. Dit beteken dat die individu, wat gesamentlik met ander individue die samelewing uitmaak, self sy regering moet aanwys, aan die regering doeleindes moet stel en allerlei waarborge moet instel sodat die regering nie buite sy magte handel nie. Die aanwys van die regering geskied deur vrye verkiesing. Die doelwit van die regering is om die regte van die individu te beskerm en te bevorder. Dit beteken dat die regering op geen wyse met die vryheid van die individu mag inmeng of dit kortwiek nie. Die enigste wat die regering mag doen, is om sy onderdane teen vyande van buite te beskerm, die een individu teen onreg en onderdrukking van die ander individue te vrywaar en om dienste aan die publiek te verskaf wat te duur en onwinsgewend vir privaat ondernemers is. Die waarborge wat ingestel is teen 'n moontlike magsoorskryding deur die staat, is talryk en ingewikkeld. Die belangrikste is dat die regering as geheel en elke individuele maghebber self aan die wet onderhorig is en net volgens die wet mag optree. Verder moet 'n regering deur 'n vry en geheime stemming verkies word en mag dit net vir 'n bepaalde tyd regeer, waarna die kiesers die reg het om 'n nuwe regering te kies. Die staatsgesag word ook verdeel in drie onafhanklike magte, nl. die wetgewende, uitvoerende en regsprekende mag. Die individu word verder beskerm deur talryke wette wat bepaal hoe die staatsgesag hom mag behandel, selfs wanneer hy van misdaad verdink word of reeds veroordeel is. Die vryheid van denke en spraak impliseer die vryheid van kritiek teen die regering en die vorming van 'n vry opposisie teen die regering, maar veronderstel ook die onderwerping van die minderheid aan die meerderheid en die handhawing van die wet. Hierdie groot klem op die wet is wat in Engels graag die "rule of law" genoem word.
Op hierdie stadium kan ons ons nou tot Suid-Afrika wend.
Suid-Afrika, Afrikaners en liberalisme: vervolg...