AFRIKANER-LIBERALISME (6)

Lees reeks by Afrikaner-liberalisme 

'n Volk wat sy geskiedenis vergeet en die waarde en ideale wat hom deur die geskiedenis gedra het, afsweer, is geen volk meer nie maar het geblus tot 'n massa individue.

DIE LIBERALISME (SLOT)

Prof. P.S. Dreyer

Die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika was die bereiking van 'n ideaal waarvoor ons eeuelank gestry het. Dit was 'n groote gebeurtenis maar dit het die Afrikaner gerus gemaak, asof die stryd nou klaar gestry is en ons nou maar kan verslap. Dit het die strak lyne van ons beginsels, waardes en norme laat vervaag, ons oë vir ander moontlikhede oopgemaak, die streng eise wat ons aan onsself gestel het, ligter gemaak en veral by die jonger mense groter klem op ander as die tradisionele waardes en norme gebring.

Hiermee hang die segetog van die Nasionale Party saam. Vanaf 1948 het die Party net sterker geword, en dertig jaar later was dit sterker as ooit tevore. Verder het die Afrikaner in die Party se beleid van afsonderlike ontwikkeling die resep gevind waarin hy onwrikbaar geglo het as die oplossing van die volkereverhoudingsprobleem in ons land.

Met die Party onoorwinlik en met afsonderlike ontwikkeling as die regte en onfeilbare oplossing, het die gevoel ons beetgepak dat ons gerus kan wees. Al was die beleid nog nie heeltemaal uitgevoer nie en al was daar allerlei praktiese probleme, het ons geglo dat dit net 'n kwessie van tyd was voordat alles in die haak sou wees.

 

Nog 'n belangriker faktor wat groot verandering meegebring het, is die welvaart wat ons ná die Tweede Wêreldoorlog beleef het. Binne enkele dekades het ons vir die eerste keer iets beleef wat in ons hele geskiedenis nie bestaan het nie nl. dat 'n groot aantal Afrikaners baie ryk geword het, dat groot Afrikaanse maatskappye tot stand gekom het, dat niemand hom oor werk hoef te bekommer nie en dat elkeen wat wou werk, goed kon verdien. Daarmee het moontlikhede en perspektiewe vir die Afrikaner oopgegaan wat nooit vantevore bestaan het nie: gevorderde onderwys vir haas elkeen met die nodige bekwaamheid, oorsese reise, materiële genietinge, en so meer. Ons het materialisties geword; baie geld verdien, vinnig ryk geword, die geld geniet – dit is die gees wat baie mense oorrompel het en almal in 'n mate aangetas het. Ook hier het die meeste gereken dat dit nie 'n einde sal hê nie.

Uit hierdie gerustheid en selftevredenheid is ons hard wakker geskud. Die ekonomiese insinkings het weer plaasgevind met 'n soberende effek.

Daarby het ook Swart terrorisme het 'n baie diep indruk gemaak. Terrorisme was lank reeds aan die gang. Deskundiges het seker anders geweet en soms waarskuwings laat hoor maar die publiek het terrorisme egter nooit baie ernstig opgeneem nie. Wat die oorgrote meerderheid in alle geval nie ernstig oorweeg het nie, was dat Blankbeheerde gebiede voor die terroriste kon swig en dat die terroriste vir ons 'n ernstige bedreiging kon inhou. Mosambiek, Angola, Rhodesië en die dood van so baie van ons jongmanne in Ovambo het dit totaal verander.

Hiermee gaan ook die uitgebreide binnelandse ontluste van die 70-80er jare gepaard. In hierdie hele ontwikkeling is die houding van die Westerse lande, die rol van Rusland en ander kommunistiese lande en die wêreldwye invloed van Swart Afrika-lande baie belangrik. Almal het geweet dat Engeland, Amerika en ander Westerse lande nie juis lief vir ons is nie en afkeurend teenoor Blanke en Blankbeheerde regerings in Afrika staan. Ons het ook baie hieroor te sê gehad. Baie min mense het egter werklik geglo dat kommunistiese lande daadwerklik met wapengeweld in suidelike Afrika sal ingryp, dat die Weste dit gelate sou aanvaar.

Al hierdie dinge het meegewerk dat daar later in Afrikanerkringe 'n selfondersoek, 'n herwaardering van ons posisie plaasgevind het. Wat het onder ons gebeur en wat het dit vir ons meegebring?

Die eerste wat verander het, is dat die erns van ons verhouding tot die buiteland en in besonder tot Swart Afrika, asook die erns van die kommunisties ondersteunde terrorisme op ons grense tot die breë publiek deurgedring het. Daar is baie wat toe kon sê: " Ek het dit sien kom, maar julle wou nie luister nie."  Daar is altyd baie slim mense as iets klaar gebeur het. Wat egter wel 'n feit is, is die publiek se besef van hierdie dinge en omdat die publiek dit besef, was almal besig om te soek na 'n oplossing. Omdat die tradisioneel geldige beskouings, waardes en norme vervaag het en omdat die Afrikaner in 'n mate uit sy ou bande los geraak het, was baie mense bereid om te luister na menings wat vroeër by voorbaat verwerp sou word.

Die tweede wat verander het, is die Nie-Blankes binne ons eie grense. Hulle was reeds baie anders as die Nie-Blankes van voor die Tweede Wêreldoorlog of selfs van 1948. Ons eie beleid van afsonderlike ontwikkeling het hulle onderwyspeil en ekonomiese posisie heeltemaal verander en bevoordeel en hulle politieke aspirasies aangewakker, sonder dat hulle noodwendig oor sake soos ons gedink het. Daarby was hulle sterk beïnvloed deur magte van buite ons land en ook sekere magte binne ons land. Hier dink ons gewoonlik aan kommunistiese opsweping, 'n werklikheid wat toe sy hele tol geëis het. Dit was egter nie die enigste faktor nie. daar was ook die natuurlike begeerte na politieke selfverwesenliking, waarvoor ons juis in die beleid van afsonderlike ontwikkeling voorsiening wou maak. Verder is hulle beïnvloed deur die sukses van die revolusionêre bewegings in die lande rondom ons en die houding van Westerse lande wat ons Blankes isoleer het en uiteindelik gesorg het dat die Nie-Blanke bewind van die land oorneem.

Dwarsdeur ons geskiedenis het ons volk nog altyd in tye van krisis laer getrek en ons geledere gesluit. Dit beteken dat ons saamgestaan het en dat ons die lyne tussen onsself en ander baie skerp getrek het. Wie nie saam met ons was nie, was teen ons. 'n Verraaier word uitgewerp, hy word nooit weer vergewe nie en hy is 'n groter vyand as die vyand self. Ons veg so hard ons kan en ons doen wat ons hand vind om te doen, maar bo alles kan ons uithou met 'n taai volharding wat baie kan ly maar nie gebreek kan word nie.

Die sameloop van omstandighede in die verlede was van so 'n aard dat dit 'n wesenlike gevaar was dat die Afrikanervolk òf in die Engelse kultuur òf in die Swart massas kon verdwyn. Om hierdie rede was die behoud van eie identiteit nog altyd een van die hoogste prioriteite en een van die belangrikste norme in ons sosiale en politieke siening.

Die skepping van 'n Blanke Suid-Afrika was vanaf 1948 hoogste prioriteit. Behoud van Blanke Afrikaner-identiteit het vereis die skepping van 'n Blanke Suid-Afrika. Dit was ook die hoofmotief agter die hele beleid van afsonderlike ontwikkeling.

Maar vandag staan ons met ons rug teen die muur. Hoe ons hier gekom het?  Verraad en liberalisme kan seker as die twee groot sondebokke gereken word. Aan die een kant het altyd gestaan die volksgebonde denke wat tiperend van die Arikaner was; en aan die ander kant staan steeds die Britse liberalisme wat in terme van die indivu dink. Daar het egter een verandering gekom: met die verdwyning van Brittanje as bedreiging is die liberalisme deur 'n hele aantal Afrikaners oorgeneem. Waar die verdeling vroeër Afrikaner teenoor Brit was, is die verdeling nou Afrikaner teenoor Afrikaner plus die Nie-Blankes.  Hierdie verdeling is veral duidelik op sosiale en kerklike vlakke.

'n Volk is egter altyd gebonde aan sy geskiedenis omdat 'n volk is wat sy geskiedenis van hom gemaak het. Wat die beste vir die volk is, kan net uit sy geskiedenis besluit word. 'n Volk wat sy geskiedenis vergeet en die waardes en ideale vergeet of afsweer wat hom deur die geskiedenis gedra het, is geen volk meer nie maar het geblus tot 'n massa individue.

Ter afsluiting: die liberalisme deur die geskiedenis heen was nog altyd 'n bedreiging vir die Afrikanervolk, nou meer as ooit omdat dit nie meer van buite kom nie maar vanuit Afrikaanse geledere self. Dit is ook 'n aanslag wat gedoen word in terme en onder vaandels van wat ons na aan die hart lê. Daarom is dit die gevaarlikste aanslag wat nog teen ons volk geloods is. Die enigste manier waarop hierdie stryd besweer kan word, is 'n grondplan wat die toekoms weer vir ons oop sal maak, wat ons die moontlikheid bied om ons toekoms as 'n Blanke, Afrikanervolk te herstel. Daarby moet ons volk se vertroue herstel word dat aan hierdie grondplan gehou sal word, anders het ons geen toekoms nie.

Einde