WAARHEIDS- MEMORANDUM (19)

TEMA 5: MISTASTINGS

Lees reeks by Waarheidstryders

U word vriendelik versoek om hierdie memorandum aan soveel persone moontlik te versprei. U word ook hartlik uitgenooi om u mening oor die inhoud te lig. Stuur dit gerus aan die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

TATOEËRING

Niks vernietig ʼn volk se gees soos bose, volksvreemde gebruike wat posvat nie. Baie mense, veral sportlui en verhoogkunstenaars, laat hulle tatoeëer; mense wat as rolmodelle beskou word.   Die ergste is dat baie van hulle lewens so verrot is, dat dit eerder ʼn waarskuwing moet wees oor hoe daar nie geleef moet word nie!

Tatoeëring is ʼn bewustelike ontering van die mens se liggaam as tempel van God. Dis ʼn baie ou heidengebruik.   Daar is selfs mummies met tatoeëermerke gevind. In Assirië, Egipte en Babilon het slawe-eienaars bv. ink onder die vel van hul slawe laat inwerk om, soos ʼn brandmerk, eienaarskap aan te dui.   Nie net slawe nie, maar ook eertydse misdadigers is met merke getatoeëer.

In die OT was sulke merke ʼn teken van afgodsdiens. Afgodedienaars het hulle graag laat tatoeëer en daarmee aangedui dat hulle aan ʼn sekere afgod behoort. Keiser Konstantyn het in die vierde eeu nC alle tatoeëermerke in die gesig verbied sodat die gesig die onbesoedelde beeld van God kon weerkaats.   In 767 nC het pous Adrianus alle tatoeëermerke verban, ook op die lyf. Dit word vertel dat die kruisvaders ʼn kruis op hul liggaam laat tatoeëer het sodat, indien hulle sou sterf en hul liggame gevind word, hulle ʼn Christelike begrafnis kon kry.

Israel het tatoeëermerke as ’n toewydingsteken aan afgode verag. Sommige het hul egter in tye van godsdienverval laat tatoeëer ten einde hul eenstemmigheid met die gees van die tyd te betoon. Dit gebeur vandag weer. Tatoeëring en afvalligheid gaan saam.

Wat sê die Bybel oor tatoeëring? “Julle mag ook ter wille van ʼn dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Lev.19:28).  

Sommige mense wil moderne tatoeëring regverdig deur Lev.19:28 as ʼn OT verbod en deel van die uitgediende seremoniële wette te beskou. Hulle sê dat die NT dit nêrens verbied nie. Dis gevaarlik om so te redeneer. Mense kan gevaarlike aannames maak. Bestialiteit, geslagsomgang met diere, word bv. slegs in die OT verbied. Beteken dit dat die NT dit goedkeur?   Allermins!  

Lev.19:29 sê bv. dat ouers nie hul dogters vir hoerery mag gebruik nie. Die NT sê niks daaroor nie. Is dit derhalwe toelaatbaar?   Nee, gelowiges durf nooit so redeneer nie. Wat in die OT verbode was, is ook in die NT verbode waar dit die geloof raak.   Slegs die Joodse seremoniële wette en Sabbat het na die opstanding van Christus met die Nuwe Verbond uitgediend geraak.  

Lev.19:28 verbied snye en tatoeëring. Heidene het hul gereeld stukkend gekerf as teken van rou en droefheid.   Die Baal-priesters is ʼn voorbeeld hiervan: “En hulle het hard geroep en hulleself volgens hulle gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het” (1 Kon.18:28).  

God noem in Lev.19:28 twee heidengebruike in een asem omdat beide oor die mens se liggaam gaan. Snye en tatoeëring is van meet af eie aan alle sataniese kultusse.   Lev.19:26-28 verbied sulke dinge.

Tydens die Middeleeue het baie mense hul in die geheim laat tatoeëer as ʼn teken van vereenselwiging met ʼn sekere belangegroep, amper soos bendes vandag. Wie met so ʼn merk gevang is, is dikwels deur die Roomse Kerk van heksery beskuldig en in sekere gevalle selfs op brandstapels verbrand.

Gelowiges dink baie anders oor hul liggaam as heidene. Omdat dit die siel huisves, is dit, solank as wat ons leef ʼn tempel van God: “Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? “ (1 Kor.6:19).  

God wil dat gelowiges verantwoordelik met hul liggame omgaan: “Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees…” (:20).   Heidense snye en merke is niks anders as liggaamskending nie en derhalwe sonde in die oë van die Here. “Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand ʼn tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.3:16,17).  

Die Bybel roep gelowiges op om alles tot eer en verheerliking van God te doen: “Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja! (Ps.150:6).   Jes. 61:3 sê dat ons ʼn planting van die Here tot sy verheerliking is.   Hoe kan mense met tatoeëerings van doodsbeendere, spinnerakke en demone God verheerlik? Is God dan nie lewe nie? en dit terwyl tatoeëerings van die dood getuig!

Gelowiges is anders as ongelowiges. Hulle volg hul leefwyse nie klakkeloos na nie. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome om nie soos die wêreld te wees nie, maar anders op te tree (Rom12:2). Gelowiges moet anders lyk. Hulle dra ook hulle hart op hul vel. As jou hart skoon is, sal jou vel ook skoon wees.

Gelowiges se gees kom in opstand teen tatoeëring. Dit pas net so min by ʼn gelowige as ʼn standbeeld van Adolf Hitler in Jerusalem!   Dit pas eerder by geweldenaars, misdadigers en onverskilliges.   Getuig tatoeëermerke enigsins van ʼn verloste siel?   Nee, eerder die teenoorgestelde!   Die losbandigheid, demone en wreedhede wat uitgebeeld word, gee aan mense ʼn misplaaste magsgevoel.   Geen oorlogskildery wen ʼn geveg nie!

Tatoeëring vlam in tye van geestesverval en die toename van heidendom op. Die geskiedenis van Suid-Afrika getuig baie duidelik daarvan! Toe die Christen grondwet in 1994 hier afgeskaf is, het die heidendom met al sy kentekens opgevlam. Dit getuig van sataniese verwarring en weerhou mense om die eer van hul lewens aan Jesus te gee.   Wie Hom minag, sal enigiets anders minag.

Die Heilige Gees lei nie mense om hul te laat tatoeëer nie. Hy lei hulle eerder weg van afgodstekens!   Navorsing toon dat baie mense wat tatoeëermerke laat aanbring het later bitter spyt daaroor was, veral na hul bekering toe die Gees hulle van sonde oortuig het. “Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek” (Spr.21:5). Tatoeëermerke met ongunstige assosiasies en/of herinneringe aan ʼn ou sondige lewe kan nie anders as om gelowiges te hinder nie.

Ons leef in ʼn tyd wat mense nie aanstoot wil gee nie. Die manie oor politieke korrektheid is een van die duidelikste bewyse daarvan. Desondanks skroom mens nie om God aanstoot te gee nie.  Tatoeëermerke het nog niemand nader aan God gebring of die geloof in Jesus vertrek nie.   Dit laat mense eerder in die geloof veragter.  

Lev.19 is geskryf toe Israel op pad na Kanaän was waar heidense leefwyses aan die orde van die dag was. Israel moes anders wees – ambassadeurs en advertensies vir God. So moet Christene ook vandag wees: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense” (2 Kor.3:2).

Israel het in die tyd van Josua die heidendom binnegetrek om die bose teen te staan en God se eer onder ʼn verloregaande heidendom te verkondig. In Suid-Afrika het presies die teenoorgestelde gebeur - die Satan het ʼn eens Christelike volk binnegetrek en sy slawe duidelik gemerk.    

Ongelowiges steur hul allermins aan God.  Hulle handel na goeddunke met hul liggame. Gelowiges is anders - hulle steur hul wel aan God en handel nie met hul liggame na eie wil nie. Hulle laat nie toe dat iets hul getuienis vir Jesus ondermyn nie.

Rom.14 gee ʼn aantal riglyne vir gelowiges in hul omgang met ongelowiges. Hulle mag nie aanstoot gee of mense laat struikel nie.   Daarbenewens moet hulle ander se gevoelens eerbiedig en nie onnodig die aandag op hulself vestig nie.   Dit wat gelowiges uitbeeld moet ʼn positiewe getuienis asook ʼn aanknopingspunt tot gesprek oor Jesus wees. “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ʼn lewende, heilige en aan God welgevallige offer....” (Rom.12:1).

Die heidendom spoel tans soos ʼn magtige stroom dwarsdeur ons land en sleur duisende volksgenote mee. Kyk hoe lyk baie van ons volksgenote - kleredrag, haarstyle, tatoeëermerke; net soos heidene!   Iemand op die verkeerde lewenspad het geen aansporing nodig nie. Net ʼn sondebesef laat so ʼn mens van rigting verander!