Die Waarheid bevry
Liewe Volksgenoot,
Die datalys van ons waarheidstryders groei steeds mooi, en ons sal hierdie uitnodiging nog vir 'n ruk lank aan u bly rig want ons beoog om 'n groot aantal lesers bewus te maak van ons nie-amptelike 'klub', die Waarheidstryders, vir wie daar weekliks 'n memorandum gestuur sal word om die leuens wat soos wolke om ons vorm, met die waarheid te belig. Dit beloof om 'n baie insiggewende en belangrike deel van Gelofteland te word en ons sal die memorandums op die eerste Maandag in Desember begin uitstuur; daarna elke Maandagoggend vroeg.
Ons volk word al vir baie jare vanaf politieke podiums en kansels met leuens mislei. Leuens wat herhaal word, word maklik as waarhede aanvaar. Hiervoor is daar een teenmiddel – die waarheid. DIE Waarheidstryders wil vir volksgenote 'n reguit stok (waarheid) langs die krom een (leuen) neersit om die verskil te sien.
As u Christus as u persoonlike Verlosser ken en oor ons volk se misleiding besorg is, nooi ons u uit om deel van die span Waarheidstryders te word. Dit kos u niks. Al wat ons vra is ons te help om baie getrou die inligting elektronies te versprei.
U sal weekliks 'n waarheidsmemorandum ontvang indien u u e-posadres verskaf. Die memorandum sal ook op Gelofteland verskyn waarvandaan u dit kan verlig, haal en plak in u eie dokument, of u kan die e-pos-opsie by die betrokke artikel gebruik en dit stuur na wie u wil, of die druk-opsie gebruik om dit uit te druk vir handverspreiding. Ons wil egter graag weet hoeveel stryders daar is wat erns met die saak maak, daarom, laat ons asb weet of u deel daarvan wil wees. Ons benodig nie u regte naam nie, u kan dit gee as u wil of u kan 'n skuilnaam gebruik. Ons benodig net u e-posadres vir die aanstuur van die inligting. U kan eenhonderd persent verseker wees dat u e-pos vir geen ander doeleindes aangewend sal word nie - ons is nie 'n bemarkingsagent nie, ons wil net hierdie waarheidsmemorandums versprei, iets wat u baie interessant en waardevol sal vind.
U kan ons ook weekliks laat weet wat u eie mening oor daardie week se onderwerp is – stuur dit gerus na die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Dan vra ons ook dat u dit aan al u ander vriende stuur met die versoek dat hulle dit ook elkeen aan hulle vriende sal stuur. Sodoende bereik ons etlike honderdduisende volksgenote met die waarheid as antwoord op die leuen.
Kom ons staan saam en beveg die leuens wat op alle gebiede besig is om ons volk te laat ondergaan. Stuur asb die memorandums getrou na u vriende sodat ons 'n sterk, ingeligte kern in ons volk kan word.
Vir Christus en ons volk!
Geloftelander.