Geloftelander
DIE WAARHEIDSTRYDERS wil jou help om aan die hand van kort memorandums die waarheid van die leuen te onderskei. Wie die waarheid saai, oes sielerus.
Ons volk word al vir baie jare vanaf politieke podiums en kansels met leuens mislei. Leuens wat herhaal word, word maklik as waarhede aanvaar. Hiervoor is daar een teenmiddel – die waarheid. Gelowiges word aan ʼn liefde vir die waarheid gekenmerk.
Dit getuig van God se beeld in hulle. Daarom swyg hulle nie oor leuens nie, maar konfronteer dit waar moontlik met die waarheid. Die waarheid is eenvoudig en sonder voorgee en in baie gevalle niks anders as gesonde verstand wat opgeklaar is.
Ongelukkig word mense gedurig met karikature van die waarheid mislei, veral deur dwaalleraars. Hulle teiken mense wat geen behoefte aan kennis van die waarheid het nie en gerieflikheidshalwe saam met die stroom swem.
Elke mens is op ʼn eie mening geregtig maar beslis nie op ʼn eie waarheid nie. Dit staan vir altyd vas. Gevolglik is feite leuens se grootste vyand. Sommige waarhede is egter so naak, dat mense dit opsetlik bedek om nie hulle vrede te versteur nie. Baie van hulle sal selfs met die waarheid saamstem, maar nooit die linie van die leuenaars verlaat nie. Gevolglik blaf hulle saam met die honde en huil saam met die jakkalse!
Daarenteen is gelowiges se ywer vir die waarheid ʼn lewenslange strewe met goeie gevolge. Vir sommige waarhede duik hulle soos vir pêrels baie diep. Ander lê weer vlakker. Leuens het egter geen diepte nie, maar word soos ʼn sneeubal groter hoe langer dit rol.
Die waarheid is nie altyd gewild nie. Sommige waarhede word selfs as haatspraak gebrandmerk. Desondanks durf gelowiges nie daaroor swyg nie. Alvorens leuens nie afgebreek word nie, sal daar geen beter toekoms wees nie.
Gelowiges durf nooit hul toekoms aan heidene se agenda oorlaat nie. Nog minder ontplooi hulle hul seile in verraderlike winde. Hul liefde vir God en hul volk is te groot om eerbied vir volksverraaiers en kerklike misleiers te hê!
Daar is niks met ons land verkeerd wat nie met dít wat reg is genees kan word nie. Volksherstel kan alleenlik op die pad van ʼn berouvolle terugkeer na Christus en liefde vir die waarheid geskied. ʼn Volksliefde wat op die waarheid gegrond word, sal genesend wees mits dit nie bloot ʼn blinde opwelling van gevoelens is nie.
Die geskiedenis getuig van mense wat met hul geloof in Christus en ʼn gesonde volksliefde uitsonderlike instrumente in God se hand was. Wat verhinder jou om een van hulle te wees? As ons nie meer verantwoordelikheid vir die toekoms neem nie, sal Suid-Afrika met iets anders as die nag donker word!
ʼn Liefde vir God en die waarheid is die gom wat ons verloopte volk aan mekaar gaan hou. Oral waar die waarheid seëvier, volg God se seën. U word daarom hartlik uitgenooi om u e-posadres vir ons aan te stuur sodat ons die memorandums weekliks aan u kan stuur. U hoef nie u naam te gee nie, en ons onderneem om nooit u adres aan enige ander instansie te verskaf nie; u is veilig by ons!
Mag ons as volk ons eerbied wat deur die volksvyand vertrap is spoedig herwin en die lug so suiwer raak, dat geen volksvyand daarin sal kan asem haal nie!