TEMA 5: MISTASTINGS
Lees reeks by Waarheidstryders
U word vriendelik versoek om hierdie memorandum aan soveel persone moontlik te versprei. U word ook hartlik uitgenooi om u mening oor die inhoud te lig. Stuur dit gerus aan die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
HIPNOSE
Hipnose word as ’n sielkundige tegniek (innerlike genesing) gebruik en het veral by ateïs wetenskaplikes soos Sigmund Freud, Carl Jung en Agnes Sanford steun geniet. Sielkundiges soos Norman Vincent Peale het dit selfs in die kerk te lande laat kom.
Gelowiges het ’n probleem met hipnose. Dit verplaas mense se vertroue van God na ’n mens. Die genesingsmetodes wat voorgeskryf word soos visualisering, joga, selfhipnose en geestesgenesing laat rooi ligte brand.
Hipnose word dikwels met godsdienstige terminologie versluier. Christelike visualisering is een daarvan waar die hipnotiseur ’n denkbeeldige beeld van Christus skep om die pasiënt soos ’n gids deur ’n moeilike tyd lei. Roomse hipnotiseurs maak ook graag van hierdie tegniek gebruik. Hulle vervang Christus net met Maria as geestelike gids.
Hipnose word as ’n doeltreffende oplossing vir angs, vrese, depressie en ander psigiese skete voorgehou, veral traumatiese ervarings. Genesing begin nadat die vinger op een of ander onaangename gebeure in die verlede gelê is waaroor geswyg word. Sulke seerkry lê in die onderbewussyn. ’n Hipnotiseur kan dit na die oppervlak bring. Voordat dit nie gebeur nie, kan die persoon nie gesond word nie.
Die blaam vir sondes word dus op iets in die verlede geplaas en nie op die mens self nie. Hier verskil die Bybel radikaal van hipnose. Eseg.18 laat juis die klem op die mens se eie persoonlike verantwoordelikheid val.
Hipnose is niks nuut nie. Dit word al vir duisende jare deur toordokters, hekse, spiritiste, Hindoes en Boeddhiste gebruik. Dis glo ’n toestand van verhoogde fokus. Alhoewel die meeste hipnotiseurs net ’n ligte tot medium transtoestand voorstaan, kan hulle nie verhoed dat ’n pasiënt in ’n dieper toestand versink nie. Dit kan tot verbeeldingsvlugte, sinsbedrog, buite-liggaamlike ervaringe, persoonlikheidsversteurings en ander ergerlike dinge lei. Ernst Hilgard wat deeglike navorsing oor hipnose gedoen het, het tot die gevolgtrekking gekom dat dit demoniese besetting en in sy dieper vlakke onmiskenbaar okkulties is.
Kan ’n hipnotiseur iemand dwing om iets teen sy wil te doen? Die meeste van hulle sê dat ’n persoon se wil nie aangetas word nie. Dis ’n leuen! Hipnose verlaag ’n persoon se wil tot op die vlak dat hy alles sal glo wat hom vertel word. Hy gaan in so ’n beswyming, dat hy selfs dinge waarneem wat nie bestaan nie!
Hipnose is gekunstelde beswyming. Dit verlaag ’n persoon se onderskeidingsvermoë so drasties, dat hy dinge aanvaar wat hy andersins nooit sou doen nie. Hy verloor bv. sy vermoë om rasioneel te dink en sal selfs dinge doen wat hy in ’n wakker toestand nie sou doen nie. Hipnose omseil die mense se wilsproses en verplaas die persoonlike verantwoordelikheid na iets buite sy persoonlike verantwoordelikheid.
Een van die gewildste tegnieke in hipnose is om die pasiënt tot in sy kinderjare terug te neem. Sommige pasiënte het in sulke beswymings selfs vorige lewens beskryf. Heidene juig natuurlik hieroor omdat dit glo die werklikheid van reïnkarnasie bewys. Reïnkarnasie is ʼn leuen. Heb.9:27 sê dat die mens net eenmaal op aarde leef en Salomo dat die mens na die dood na sy ewige huis gaan (Pred.12:5). Die siel word nie soos ’n motor se masjien oorgebou en daarna weer in ’n ander bakwerk geplaas nie!
Navorsing het getoon dat ’n gehipnotiseerde persoon nie tussen ware gebeure en indrukke wat onder hipnose geskep is, kan onderskei nie. Die kans dat hipnose ware en valse weergawes van gebeure na vore kan bring, is dus ewe groot. Die gevaar van hipnose is dat iemand wat hom oopstel vir misleiding ook ander vorms van misleiding ten prooi kan val.
Talle mediese dokters en sielkundiges maak van hipnose gebruik omdat hulle glo dat dit ’n mediese praktyk met ’n wetenskaplike grondslag is. Medies laat dit goed klink. Maar dit is nie. Ten spyte van jare lange navorsing oor hipnose, kon dit nog nooit onomwonde as wetenskaplik verklaar word nie.
Dr. Daniel Coleman, ’n kliniese sielkundige, het in 1977 ’n insiggewende artikel oor hipnose geskryf. Daarin skryf hy dat alhoewel hipnose al vir 200 jaar aan die Weste bekend is, dit steeds onseker is wat dit is en hoe dit werk. Hy sluit die artikel af deur te sê dat dit beslis nie wetenskaplik is nie.
Die toestande wat met hipnose meegebring word, verskil nie veel van dit wat jogi’s, hekse en toordokters doen nie. Net die prosedure verskil. Die resultaat bly dieselfde! Hipnose neem iets weg waarsonder gelowiges nooit durf wees nie en dis selfbeheersing. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal.5:22). “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim.1:7).
Enigiets wat die rol van die Heilige Gees in mense se lewens wil oorneem, is nie uit God nie. “Wees nugter en waaksaam, want hulle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind “(1 Pet.5:8). Gelowiges plaas niemand in beheer van hul gees nie! Hipnose is deel van die heidendom. God het Israel teen heidense gebruike gewaarsku (Deut.18,19).
Wie ken die mense se hart beter as die Here? “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit, wie kan dit ken? Ek, die Here, deursoek die hart…” (Jer.17:9,10). Enige ander poging om die hart te deursoek, lewer bedrieglike resultate op!
Mense plaas hul vertroue in hipnotiseurs i.p.v. God. “Vervloek is die man wat op die mens vertrou… terwyl sy hart van die Here afwyk” (Jer.17:5). Geen aspek van hipnose bevorder geloof en vertroue in God nie. Die onbewuste of dieper self ontvang al die aandag.
Wat sê die Woord van God? Dat Hy deur die rasionele verstand tot mense spreek. Daarom neem hulle wilsbesluite; alles kontroleerbaar. Hipnose daarenteen werk net met die onkontroleerbare – die verbeelding, hersenskimme asook sinsbedrog. Daar is geen Bybelse aanduiding dat enige priester, profeet of apostel ooit met onderdrukte gevoelens en herinneringe moes werk ten einde geestesgenesing te verkry nie. Daarvoor was gebed, Skrifstudie en die krag van die Gees genoegsaam.
Ten spyte van al die fisiese en emosionele beproewing wat Paulus moes deurmaak, was hy nogtans in staat om sonder menslike hulp voort te gaan en hom steeds in die Here te verbly. Hy kon die jammerlike verlede vergeet en hom op die dinge van die Here instel: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil.3:14).
Vir gelowiges is die onaangename dinge van die verlede nie meer belangrik nie. Paulus skryf aan die Korintiërs en sê dat die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het (2 Kor.5:17). Om dus in die verlede te bly vasval bots met die hele Skrif. Al wat saak maak, is die gelowige se verhouding met Jesus wat sê: “Kom na My toe almal wat belas en vermoeid is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28).