WYSHEIDSTORIES (1)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade

Wysheidstories is baie werd omdat dit 'n mens leer wat reg en wat verkeerd is. Ook leer dit iemand om vlug van begrip te wees en bied insig wanneer besluite geneem moet word. Die inhoud van 'n storie moet wysheid verkondig. Om net 'n storie te lees en dit dan weer te vergeet, is nutteloos. Sien jouself in die storie en doen wat die storie aan jou vertel. Sodoende sal jy tot 'n hoogs intelligente mens ontwikkel. Doen is baie beter as woorde omdat woorde net uitdrukkings is wat niks beteken as dit nie in dade omgesit word nie, dog eers moet die les in die storie begryp word. Vlak stories het egter geen diepte.

Toe vir 'n baie wyse man gevra is wat gedoen kan word om kinders tot groot leiers te laat ontwikkel, was sy antwoord:  "Vertel vir hulle stories. Die kinders en jongmense wat die stories onthou en doen wat die storie vertel, word die slimste."

Selfs volwasse geleerdes vind baat by wysheidstories omdat die eenvoud daarvan dikwels raakgesien, maar die waarde daarvan misgekyk word as hulle dink hulle is te geleerd om na eenvoudige opregtheid op te let.

Die stories in hierdie reeks het nie by die skrywer ontstaan nie. Sommige is donkiejare gelede al vertel waarvan die oorsprong onbekend is, of die samesteller hiervan het die oorsprong verloor. Dit is wel in sommige meer onlangse boeke weergegee, maar sonder dat dit die oorsprong was. Daar word geen aanspraak op oorspronklikheid gemaak nie.

Let op dat wysheidstories op alle gebiede van toepassing is, op politiek, godsdiens, taal, kultuur, onderrig en wat ookal. Gebruik jou diepte-insig om die lesse daaruit te kan toepas.

VERTELLER  SE  GEHEIM

'n Beroemde digter is eenkeer uitgenooi as eregas na 'n dinee. Na die ete was daar verskillende lofbetuigings oor die digter se roemryke loopbaan en ten slotte is hy gevra om een van sy gedigte voor te dra. Hy het gevra of daar 'n spesiale versoek uit die gehoor is.

Die mense was maar skaam teenoor die beroemde digter en ook nie so bekend met die digter se gedigte nie. Toe staan 'n ou man op. "Sal u vir ons Psalm 23 voordra asseblief?"  Die digter was effens uit die veld geslaan, want hy was eintlik bekend vir sy vertolking van ander gedigte, maar net vir 'n oomblik.  "Met plesier,"  sê hy vriendelik.  "Ek ken nog die woorde."  Toe hy met sy pragtige stem en suiwer klanke voordra, het die gehoor aan sy lippe gehang. Die klanke van die bekende psalm het vir hulle so mooi geklink. Toe hy klaar was, het spontane applous losgebars.

"Baie dankie, baie dankie."  Die digter was amper aangedaan deur die gehoor se waardering vir sy poging. Spontaan sê hy:  "Maar nou wil ek graag 'n guns vra. Sal die persoon wat die psalm versoek het, dit ook vir ons voordra?"

"Ek?"  vra die bejaarde man verbaas.  "Ek weet niks van die voordragkuns af nie. En my stem is al taamlik bewerig. Maar as u dit as 'n guns vra, kan ek nie weier nie."  Die digter beduie dat hy vorentoe moet kom, maar die ou man glimlag,  "Toe maar, ek staan sommer hier by my sitplek."  Toe begin hy met sy ietwat krakerige stem voordra.

Aan die einde van die psalm was daar geen applous nie, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit en min oë was droog.  "Sien julle die verskil?"  vra die digter, self bewoë.  "Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het julle harte geraak. Want sien, ek ken die woorde van Dawid se psalm, maar hy ken die diepere betekenis van die psalm."

Diepte in jou karakter en beginsels is meer werd as uiterlike vertoon. Kyk na jouself in 'n spieël om te sien of jy jou geloof in die Bybel in jou hart en verstand ook na jou volk se beginsels uitleef.

GRATIS  SKAT

'n Sterwende boer was bevrees dat hy sy seuns in hulle grootwordjare te veel bederf het. Hulle was nou nie juis die hardwerkendste jong boere in die omgewing nie. Toe besluit hy om aan hulle 'n boodskap na te laat wat hulle nie sou vergeet nie.

Hy het hulle geroep en gesê:  "My seuns, ek gaan binnekort sterf. Ek wil hê julle moet weet dat daar 'n skat in my wingerd begrawe lê. As julle diep genoeg en op die regte plek spit, sal julle dit ontdek."

Kort daarna is die pa oorlede, en dadelik het die volwasse seuns met graaf en pik die wingerd ingevaar. Elkeen se kop was vol drome oor die groot skat wat hulle daar sou vind. Hulle het die stuk land van kant tot kant deurgespit en omgedolwe op soek na die skat. Oor en oor het hulle dieselfde harde werk gedoen totdat elke stukkie grond omgedolwe was.

Hulle het niks gevind nie. Hulle bejaarde vader het vir hulle gejok, het hulle gedink.

Omdat die grond egter so deeglik omgespit is, het hulle dit bemes en daardie jaar is 'n druiweoes gelewer soos nog nooit tevore nie. Die seuns het groot wins gemaak, dit was die skat.

So het die boer sy seuns geleer dat harde werk gewoonlik nodig is om welvaart oor 'n tydperk te bekom. En dat 'n skat soms anders lyk as wat 'n mens verwag . . . Hou in gedagte, harde werk in alle opsigte, ook in die politiek, regering, taal, kultuur  ‒  nie om agteroor te sit en niks te doen nie. Waarvoor wag jy?  Dit sal nie self gebeur nie.