Skerp Waarnemer
Lees reeks by Wysheidstories
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
DIE JUDASGESIG
Teen die agterste muur van 'n saal in die klooster in Milaan in Italië is een van die beroemdste muurskilderye ter wêreld te sien: "Die laaste avondmaal" van Leonardo da Vinci.
Toe Da Vinci die eerste sketse vir die skildery aan die maak was, so word vertel, het hy 'n jong man gevind wie se gesig van soveel edelheid getuig dat hy hom gevra het om as model vir die Christusfiguur op te tree.
Daarna het Da Vinci meer as 'n jaar lank aan die apostelfigure geskets. Toe hy ten laaste by Judas kom, het hy rondgesoek na 'n gesig wat as model vir die verraaier kon dien. Dit moes onmiskenbare innerlike verraad en verval weerspieël. Na maande se soektog ontdek hy waarna hy soek in die gelaat van 'n jong man in 'n berugte kroeg.
Terwyl die man met die "Judasgesig" vir hom poseer, het Da Vinci hom beter leer ken. Tot sy verbasing moes hy uitvind dat dit dieselfde jong man was wie se edel gelaatstrekke hy byna twee jare tevore gebruik het om die Christusgesig te skilder.
Die verandering van die jong man se uiterlike weens innerlike verwoesting was so vinnig en so volledig dat Da Vinci hom nie herken het nie. Dieselfde jong man het heeltemal versleg. In plaas daarvan dat hy homself elke dag verbeter het, het hy al hoe luier geword. Hy was mos die beroemde gesig wat Christus uitgebeeld het. Almal moes na hom opsien.
Moenie dat roem tot jou ondergang lei nie, veral roem wat jy nie verdien het nie, maar wat deur die vyand opgeblaas word om jou uiteindelik te verneder. Ons weet van verskeie verraaiers in ons geskiedenis wat tot 'n val gekom het nadat hulle gunstig op vyandige komplimente reageer het en toe tot hul skande vewerp en verneder is. Bly nederig en opreg by jou volk.
DIE DRIE RINGE
'n Heerser het 'n buitengewoon kosbare opaalring besit wat die wondervermoë gehad het om die draer daarvan na geregtigheid te laat streef en by mense bemind te maak. In sy testament het hy bepaal dat dit altyd in sy familie moes bly. Hy het egter nie geweet aan watter van sy drie seuns om dit na te laat nie, want hy het almal ewe lief gehad. Toe maak hy die fout om die ring aan al drie te belowe, sonder dat hulle van mekaar weet.
Die koning het sy einde voel nader kom, en het besef dat hy iets moes doen om hom uit sy penarie te red. Hy laat maak toe nog twee ringe by 'n goudsmid wat net soos die oorspronklike ring lyk, maar natuurlik nie die wonderkrag besit nie. Selfs die pa kon nie die egte ring van die nabootsings onderskei nie. In die geheim oorhandig hy toe aan elkeen van die seuns 'n ring en hou dit as die ware artikel voor.
Na sy dood het hulle die bedrog uitgevind, en niemand kon bepaal watter opaalring wel die besondere eienskap besit nie.
Hulle wend hulle toe na 'n wyse regter. "Ek weet ook nie watter een is die egte ring nie," sê hy. "Julle pa het self nie eens meer geweet nie. Dis net die ring wat vir ons sou kon sê, en hy kan nie praat nie.
Maar wag, julle sê mos die ring bevat die wondervermoë om die draer daarvan na geregtigheid te laat streef en hom bemind te maak by mense. Nou ja, laat dit dan die beslissende faktor wees. Die twee ringe wat die draers daarvan nie tot geregtigheid en liefde aanspoor nie, is die onegtes.
My uitspraak is: Julle sê almal dat julle die ring by julle vader gekry het. Beskou dit dus as eg. Doen dan elkeen julle bes om die egtheid van jou ring te bewys deur regverdig te lewe en liefde te bewys: Deur verdraagsaam teenoor mense en goed te lewe. Dan sal die eienskappe ook in julle nageslagte sigbaar wees."
Soos te verwagte het aldrie broers na geregtigheid gestreef en geleef en by mense bemind geraak. Waarde lê nie in voorwerpe nie, maar in jou karakter wat jyself bepaal.
WOORDE IN DIE WIND
Die Middeleeuse verhaal word vertel van die jong man wat by 'n dominee gaan raad vra het: "Ek het gesondig deur skinderstories oor iemand te versprei. Wat kan ek nou daaraan doen?"
Die dominee het geantwoord: "Gaan sit 'n veer voor die deur van elke huis in die dorpie neer." Nadat die jong man so gemaak het, het hy by die dominee kom hoor of daar enigiets verder is wat hy kon doen.
"Gaan nou terug en gaan maak al daardie vere weer bymekaar," het die dominee beveel. Dit het die jong man hewig ontstel: "Dis mos onmoontlik! Teen hierdie tyd het die wind hulle al die hele dorp vol gewaai!"
Toe sê die dominee: "Net so onmoontlik is dit om jou skinderstories terug te trek. Vermy dit om skinderstories en leuens te vertel sodat jy rustig en kalm kan leef."
BARMHARTIGE PRESIDENT
Gedurende die Amerikaanse Vryheidsoorlog is 'n tienerseun so aangegryp deur die vryheid-ideale van president Abraham Lincoln dat hy by sy party aangesluit het.
Die seun was nog baie jonk, en toe hulle die eerste keer onder geweervuur deurloop, het hy so bang geraak dat hy weggehardloop het.
Hy is gearresteer, verhoor, skuldig bevind as 'n verraaier en veroordeel om voor 'n vuurpeloton te sterf.
Sy ouers het 'n pleitbrief aan die president geskryf. Toe Lincoln die feite hoor en ook hoe jonk die seun was, het hy die doodsvonnis teruggetrek en aan die kind volle vryspraak toegestaan.
In sy verslag oor hierdie saak het Lincoln onder meer geskryf: "Ervaring het my geleer dat 'n mens 'n jong seun nie juis moed en dapperheid leer deur hom dood te skiet nie!"
Aan die einde van die oorlog, toe dit duidelik was dat Lincoln se party sou wen - so lui 'n ander staaltjie oor Lincoln - het 'n joernalis hom gevra hoe hy sy vyande sou behandel. "Asof hulle nooit weggebreek het nie," was Lincoln se antwoord.
"Maar is dit nie veiliger om jou vyand te vernietig nie?" vra die onthutste verslaggewer.
"Heeltemal reg," sê Lincoln, " 'n Mens vernietig mos jou vyande as jy vriende van hulle maak!"