Skerp Waarnemer
Lees reeks by Wysheidstories
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
DIE WAARDEVOLSTE
Daar was eenmaal 'n belangrike koning wat al baie oud was. Hy het drie seuns gehad: Prins Hooghartig, Prins Ridderhart en Prins Goedhartig. Al drie was goeie, knap seuns wat verskillende opvattings gehad het, sodat dit moeilik was om te besluit wie die ou koning moes opvolg.
Eendag het die koning sy drie seuns laat roep en gesê: "Ek raak elke dag ouer en swakker, en om te kies watter een van julle by my moet oorneem, gaan ek julle toets. Julle moet kos vir net een dag saamneem en dan daardie week die hele koninkryk deursoek na Dit-Wat-Die-Waardevolste-Is. Julle moet self uitvind wat dit is, maar die een wat dit vir my bring, sal koning word."
Die drie prinse het hard gedink, want hulle het nie 'n benul gehad wat Dit-Wat-Die-Waardevolste-Is kon wees nie. Prins Hooghartig het in die koninkryk se reuse stede gesoek, want hy het gereken alles van belang sal daar gehou word. Prins Ridderhart is na die naburige kastele, want hy het gereken sy hoëklas vriende sou hom kon help. Maar Prins Goedhartig het buite die stad en ver van alle kastele af gaan soek, en by 'n kleinboer se seun uitgekom.
Teen die einde van die week het al drie prinse die koning in die troonsaal ontmoet.
Prins Hooghartig het 'n goue kissie onder sy mantel uitgehaal. Toe hy dit oopmaak, het die lig rooi en wit en pers van honderd edelstene af weerkaats. "Dis die oudste en rykste gierigaard in die koninkryk se skat, en ek het hom oorreed om dit vir Pa te gee," het hy trots gesê. Maar die koning het net hartseer sy kop geskud.
Prins Ridderhart het 'n waardevolle stuk fyn kant gebring. Dit was sag soos 'n wolk en ragfyn soos 'n spinneweb, met die pragtige patroon van 'n sneeuvlokkie. "Een van die buurprinsesse het dit self gemaak, en sy wou dit dra wanneer sy gaan trou," het hy gesê. "Ek het haar oorreed om dit vir die koning te gee." Steeds was dit ook nie Dit-Wat-Die-Waardevolste-Is nie.
Prins Goedhartig het egter niks saamgebring nie. "Ek het nie tyd gekry om te soek nie. Ek het eerste by die kleinboer se seun aangegaan om hom te vra wat hy dink wat baie waardevol is. Miskien kon ek by gewone en minder gegoede mense goeie wenke kry. Hulle is arm en sy pa is ernstig siek. Die landerye moes egter omgeploeg word sodat hulle betyds koring kon saai en hy kon net 'n klein rukkie met my gesels. Hulle nood was hoog en ek het hom die hele week gehelp ploeg en saai," het hy met trane in sy oë gesê. "Ek het my kans om koning te word, verbeur, maar dit was vir my die moeite werd."
"Kom hier, Goedhartig," het die koning gesê en sy seun se hand in syne geneem. Die palm van sy hande was hard en grof van heelweek ploeg. "Jy het Dit-Wat-Die-Waardevolste-Is vir my gebring - die lewer van onselfsugtige diens aan ons volkgenote wat dit die nodigste het."
WONDERLIKE WÊRELD
'n Vrou se dag het sommer op die verkeerde noot begin: Sy het verslaap en was dus laat vir werk, en dinge by die kantoor het haar net verder omgekrap. Teen die tyd dat sy die bus huis toe moes haal, het sy baie moedeloos gevoel. Soos gewoonlik was die bus laat en stampvol, en moes sy bly staan en rondskud. Die dag was besig om net so sleg te eindig as wat dit begin het.
Toe hoor sy 'n mansstem van voor uit die bus uit: "Pragtige dag, nè?"
Sy kon die man deur al die mense heen nie sien nie, maar sover hulle gery het, het hy met ‘n aangename stem aanhou kommentaar lewer op alles wat hom gelukkig maak: Die son skyn vrolik, roomys smaak altyd lekker, 'n mens kan goeie boeke in 'n biblioteek lees, vriendelike mense laat 'n mens gelukkig voel. Ons gaan nou na ons huise toe. Alles dinge wat die lewe "die moeite werd" maak.
Sy opmerkings het die atmosfeer in die bus aansienlik ligter gemaak. Almal het stil gebly om na sy strelende stem te luister. Die vrou se gemoed het kalmeer en die vrou se hart ook. Die man se entoesiasme en waardering van die alledaagse was so aansteeklik dat die vrou begin glimlag het. Sy het meer gelukkig gevoel.
Toe die bus by die vrou se halte stilhou, het sy deur die skare gedruk om by die deur uit te kom. Sy neem toe haar kans waar om te sien wie die opgeruimde "toergids" was - 'n aangename gesig met swart brilglase en 'n wit stok. Hy was blind.
Die wêreld word aan ons gebied om waardeer te word, al ervaar ons soms probleme. Lag en die wêreld lag saam met jou. Huil en jy huil alleen omdat jy ondankbaar is vir al jou voordele.