WYSHEIDSTORIES (5)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade

TWEE  VREEMDE  VRIENDE

 Die verhaal word vir die waarheid vertel dat daar in die ou dae in Rome 'n slaaf was met die naam Andreas. Sy eienaar was 'n wrede man wat sy slaaf so sleg behandel het dat hy oplaas weggeloop het. Andreas se plan was om in 'n woud weg te kruip totdat sy baas ophou soek na hom. Dan wou hy ‒ uit vrye wil en nie as slaaf nie ‒ vir 'n regverdige baas gaan werk. Maar hy was so uitgeput van harde werk, min kos, mishandeling en wegloop dat hy moeilik vir homself kon sorg, en hy het in 'n grot gaan lê met die idee dat hy moontlik daar sou sterf.

Daardie nag word hy wakker van 'n gebrul. Dit was 'n leeu wat die grot ingekom het.

Eers was Andreas te bang om te roer, maar toe merk hy op dat die leeu op drie bene hinkepink, en besef dat die leeu nie van woede so brul nie, maar van pyn. Hy het soveel pyn gehad dat hy nie daaraan gedink het om Andreas aan te val nie. Andreas se hart gaan oop vir 'n ander lewende wese wat net so swaar kry soos hy self.

Versigtig kruip hy nader en steek sy hand uit na die leeu se poot. Eers beur die leeu weg, maar toe Andreas sag en gerusstellend met hom praat, lê hy later stil. So kry Andreas dit reg om versigtig na die groot poot te kyk wat die ou grote so seer maak. Stadig en saggies het hy die yslike doring wat in die leeu se poot gesteek het, uitgetrek. Die leeu het eers sy poot begin lek en was so dankbaar dat die seer meer draaglik geword het dat hy die slaaf se gesig en hande soos 'n hond gelek het. 'n Paar dae het hulle so saam gebly, en tot Andreas se stomme verbasing het die leeu selfs vir hom van sy eetgoed uit die bos aangedra.

Maar eendag nadat die leeu se poot gesond was, kom 'n groep soldate verby wat ook in die grot wou oorslaap. En daar kry hulle die weggeloopte slaaf en leeu!  Hulle het geweet wie hy is, en het hom weer as gevangene na Rome saamgeneem. Die leeu is in 'n net gevang.

In daardie dae was die straf vir 'n slaaf wat gedros het, net een ding:  Hy moes in die arena tot vermaak van die keiser en 'n bloeddorstige skare homself teen 'n besonder uitgehongerde leeu verdedig. Tot die dood toe. Maar eers moes die slaaf goed versorg word sodat hy gesond word, want vir 'n siek man sou dit kastig onregverdig wees. Aangesien die slaaf kaalhande was, was dit geen geheim tot wie se dood die stryd sou lei nie.

Een middag is Andreas die arena binnegelei, waar hy doodsbeangs op die leeu staan en wag het. Van waar hy opgekyk het na die skare wat die skouspel in die Colosseum kom kyk het, kon hy geen barmhartigheid sien in die duisende oë wat hom daar van bo af dopgehou het nie.

Toe word die honger leeu losgelaat. Met enkele spronge was hy op Andreas en die skare bulder:  "Gaan vir sy keel!"

Skielik bars daar ook 'n kreet oor die lippe van die veroordeelde slaaf. Maar nie 'n kreet van angs nie ‒ van vreugde!  Want in plaas om die arme man te verskeur, het die leeu ‒ toe hy naby genoeg kom ‒ die man se hande en gesig begin lek. En daar voor die verwonderde skare slaan die slaaf sy arms om die leeu se nek, en die leeu vryf sy ou groot kop teen die slaaf se skouer asof hy verwag om gestreel te word.

So iets het die keiser verbaas. Hy staan toe op, steek sy hand uit om die skare stil te maak, en eis dat die slaaf verduidelik of hy 'n god is. (In daardie dae was die mense maar baie bygelowig!)

"Nee, edele keiser, ek is nie 'n god nie, net 'n skepsel met deernis in my hart vir ander mense en diere. En vandag het dit my lewe gered."  Toe vertel Andreas hoe hy, kort nadat hy van sy eienaar ontsnap het, 'n leeu se pyn verlig het; hoe hulle vriende geword het; en hoe dit nou juis sy dierevriend was wat hom vandag weer in die arena ontmoet het.  "U sien, Majesteit, terwyl geen mensekind ooit my vriend wou wees nie, het hierdie wilde dier my liefgekry soos 'n broer."

Selfs die keiser se harde hart is geroer deur die verhaal. Die skare wat minute tevore die man wou dood hê, was nou weer vurig aan die ander kant. Insiglose skynheilige mense, stem eers heelhartig teen en skielik vir, sommer sonder om te dink. Hulle skreeu:  "Laat hom leef en stel hom vry!"  En dit is presies wat die keiser gedoen het. En om beter te wees as sy onderdane, het hy sommer die leeu ook vrygestel en in Andreas se sorg gelaat. Hulle sê dat Andreas toe so bekend was dat hy maklik 'n goeie werk gekry het, en dat die mense daaraan gewoond geraak het om Andreas en sy vreemde vriend saans in die skemer deur die strate van Rome te sien wandel.

Hou by jou beginsels van goed doen en goeie vriende by te staan. Bly van die begin af weg van mooipraatjies net om jou te gebruik en te misbruik, dit is, moenie met huigelaars saamwerk as daar van hulle kant af niks aangebied word nie en net van jou verwag word om toe te gee. Saamwerk met jou eie vriende bring geluk. Saamwerk met ander volke wat eise stel, is verraderlik.