Skerp Waarnemer
Lees reeks by Wysheidstories
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
VRIENDE
"Kaptein, my vriend het nie uit die gevegsone teruggekeer kamp toe nie. Ek dink hy is gewond. Ek vra verlof om hom te gaan haal."
"Versoek geweier, manskap. Ek wil nie hê een van my manne moet hulle lewe onnodig in die gevaar stel nie. Die kanse dat jou vriend nog lewe, is byna nul."
Maar die soldaat het die bevel verontagsaam en tog sy vriend op die slagveld gaan haal. Op pad terug, met sy kameraad se dooie liggaam in sy arms, word hy self verwond.
Die offisier was woedend.
"Ek het jou mos gesê jou vriend is dood. Nou is jy ook nog onnodig raakgeskiet! Maar sê my," gaan hy met 'n bietjie meer sagter stem voort, "was dit die moeite werd om jou lewe te waag net om 'n lyk uit te bring?"
Die gewonde man se antwoord was: "O ja, Kaptein! U sien, toe ek by hom kom, het hy nog gelewe. Toe sê hy vir my: Ek was seker jy sou kom."
Dit is nie dat ons werklik ons vriende se hulp verwag nie, maar die rustige wete dat hulle met sekerheid op ons hulp kan staatmaak.
VRA ARM MAN VERSKONING
'n Sekere professor was 'n kenner oor geloofsake en beroemd vir sy insig in geestelike sake, maar ook vir sy gewoonte om soos 'n arm man aan te trek. So kon hy met arm mense gesels sonder dat hulle dink hy is 'n beroemde man en kon hy agterkom wat hulle behoeftes is en waar hy hulle kon help.
Eenkeer moes hy na 'n ander dorp toe gaan om 'n praatjie te gaan hou. Hy het op die trein geklim en gaan sit. Later klim twee welvarende mans in duur pakke ook op, en begin rondkyk vir twee sitplekke bymekaar. Toe hulle die arm man sien wat alleen reis, loop hulle na hom toe en jaag hom baie ongeskik na die agterkant van die wa toe.
Hy het maar versit, en hulle het hulle plekke ingeneem.
By hulle bestemming aangekom, sien die ryk vriende 'n reuseskare wat op die stasie wag. "Daar moet 'n beroemde persoon op die trein wees," sê hulle vir mekaar.
Hulle was verstom toe hulle sien dat die skare vorentoe beur om die arm man te groet! So ontdek hulle toe die "arm man" was sowaar die beroemde professor na wie hulle gekom het om te luister.
Hulle het aaklig gevoel oor hoe hulle die goedhartige professor behandel het, daarom het hulle 'n pad deur die skare tot by hom oopgebeur en groot om verskoning gevra:
"Ons het u verskriklik behandel! Maar hoe kon ons weet? Ons het nie bedoel om u te beledig nie. Ons het gedink u was net 'n arm man. Vergewe ons asseblief."
"Ek kan julle nie vergewe nie," het die professor gesê, "want julle het my nie beledig nie. Julle het 'n arm man beledig. Vra dus die eerste arm man wat julle raakloop om verskoning. Hy het net soveel reg om ordentlik behandel te word as ek en julle."