WYSHEIDSTORIES (7)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade

WARE  SKOONHEID

'n Vegvlieënier was op pad oorlog toe. Voordat hy na die front toe vertrek het, het hy 'n boek in die lugmagbasis se biblioteek gelees wat deur 'n private persoon aan die biblioteek geskenk is. Oral in die teks was opmerkings liggies met 'n potlood bygeskryf, en hoe verder hy gelees het, hoe meer het die kantaantekeninge hom beïndruk. Die skenker van die boek, 'n vrou se naam en posbusnommer, was nog voorin en in sy gedagtes het hy gedink dat sy jonk en mooi moet wees. Hy besluit om gedurende die oorlog met haar te korrespondeer, waarop sy gereeld geantwoord het. Mettertyd het hy 'n foto van hom aan haar gestuur, maar sy het nie, soos hy gehoop het, een teruggestuur nie. Sy het teen die einde van die oorlog wel ingestem dat hulle mekaar probeer ontmoet wanneer hy terugkeer.

Na vrede gesluit is, het hulle ooreengekom om mekaar onder die horlosie op die stasie te ontmoet. Op die afgesproke tyd was die vlieënier daar, in sy uniform, met 'n eksemplaar van die boek in sy hand. Die vrou sou 'n rooi roos op haar rok vasgespeld hê. Sy sou hom aan sy foto en uniform herken.

Skielik het hy 'n mooi jong vrou na hom toe sien aanstap. Sy het soos 'n prentjie gelyk:  lank en lenig, krullerige blonde hare, kobaltblou oë, pragtige glimlag, elegant aangetrek in 'n groen snyerspakkie. Vriendelik het sy hom gegroet asof sy hom ken, maar aangestap. Hy wou net saam met haar stap toe hy die ou dame met die roos op haar bruin jas raaksien. Sy het so 'n ent agter hierdie droommeisie geloop, 'n vrou wat oud was, haar grys gestreepte haartjies onder 'n afgeleefde hoed ingebondel. Sy was plomp.

Die mooi meisie in die groen pakkie was besig om in die skare te verdwyn, en die vlieënier het daaraan gedink om nader met haar kennis te maak eerder as met hierdie vrou wie se mooi briewe hom werklik deur die oorlog gedra het. Haar vaal pofgesiggie was teer en verstandig, haar grys oë warm. Sy sin vir verantwoordelikheid en waardering het hom egter die ou dame laat inwag.

Hy het nie verder getwyfel nie. Hy het sy skouers reguit gemaak, gesalueer en gesê:  "Ek is luitenant Jan Barnard, en u is seker my korrespondent gedurende die moeilike tye in die oorlog. Ek is so bly om u te ontmoet. Kan ons dalk iewers iets gaan eet?"

Die vrou het saggies geglimlag:  "Ek weet nie wat hier aan die gang is nie, my kind. Daardie meisie in die groen pakkie het my baie mooi gevra om hierdie roos op my jas vas te speld. En sy het gesê as jy vriendelik met my is en langer met my wil gesels, moet ek vir jou sê sy wag vir jou in daardie groot restourant oor die straat. Sy het iets gesê van 'n toets of jy die innerlike skoonheid waardeer of teen die uiterlike skoonheid vaskyk. Ek het ook twee seuns in die leër gehad, so ek doen graag vir haar die gunsie."

Die les:  Goeie bedoelings en 'n mooi hart is groter bates as net mooi van buite. Uiterlike skoonheid word dikwels gebruik om oppervlakkige denkers te ontspoor. Gelukkig het die mooi meisie in hierdie geval goeie bedoelings en 'n mooi hart gehad As dit andersom was, het hierdie man nogtans sy lewenstoets geslaag. Hy het albei dames genooi om saam met hom te eet.

GELD  OF  GASVRYHEID?

In 'n veraf land waar rasegte skape baie hoog geag is, maar gasvryheid net so belangrik was, het daar 'n man gewoon wat die mooiste skaapram in die omgewing besit het. Die ander skaapboere in die buurt het die skaap bewonder en feitlik elke dag het iemand vir hom 'n aanbod vir die dier gemaak. Maar watter prys hom ook al aangebied is, hy het dit altyd geweier. Geld kon sy ram nie koop nie.

Eendag kom die mense te hore dat die eienaar van die gesogte skaap geldelike probleme ondervind het. Een van sy vriende, 'n skaaphandelaar, kom toe op die gedagte om die skaapeienaar te besoek. Hy sou aanbied om die skaap teen 'n reusebedrag by hom te koop, sommer baie meer as wat die skaap werd was. Sodoende sou hy uiteindelik die begeerde skaap kry, maar hy sou ook die vriend op 'n mooi manier uit sy geldelike verknorsing kon help. Hy het goed besef dat hy nie vooraf van die skaapram melding moes maak nie.

In daardie kontrei was dit goeie maniere om 'n ete aan 'n besoeker voor te sit wanneer hy besoek aflê.  Toe die handelaar 'n besoek met die skaap se eienaar reël, het die skaapeienaar effens terughoudend voorgekom, maar toe tog die gebruiklike ete-uitnodiging tot hom gerig. Op die dag van die besoek was die skaap se eienaar gasvry soos gewoonlik en het hulle heerlik geëet, en toe kom die handelaar met sy goeie aanbod.

Nadat die eienaar van die skaap hom uitgeluister het, het hy 'n rukkie stilgebly.  "Baie dankie vir jou gul aanbod,"  sê hy toe.  "Dit sou my kon red, maar ek het ongelukkig nie meer die skaap om aan jou te verkoop nie."

"Moenie vir my sê jy het aan 'n ander koper voorkeur gegee nie!"  sê die handelaar teleurgesteld.  "Jy weet tog hoe graag ek jou skaap wou hê."

"Nee, ek het die skaap nie verkoop nie, maar omdat ek niks anders gehad het om vir die maaltyd aan jou voor te sit nie, moes ek die skaap slag."  Die handelaar was verstom. Tog het hy het ook verstaan:

Gasvryheid is belangriker as geld. Hy was kortsigtig omdat hy moes gedink het waar sou die eienaar kos vandaan gekry het. Uit skaamte gee hy toe vir hom nogtans 'n goeie bedrag vir sy gasvryheid en opoffering sonder om sy gasvryheid en gemeenskapverpligting prys te gee.