WYSHEIDSTORIES (8)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade

HELP  HULP?

Daar het weer 'n olietenkskip naby die kus op die rotse geloop. Die wit strande was kilometers aaneen met 'n swart laag olie bedek. Daar was ernstige skade aan die seelewe.

Die vrou met die oop hart vir mens en dier was al vroeg-oggend die volgende môre by die see, kniediep in die water. Elke oliebesmeerde seevoël wat sy kon bykom, is kant toe gebring en sorgvuldig skoongemaak. Maar dit het na 'n hopelose taak gelyk:  Vir elkeen wat gehelp is, was daar dosyne ander wat hulpeloos in hul swart oliejasse rondgespartel het. Dag vir dag het die vrou voortgegaan, al was die vordering skynbaar minimaal. Later het 'n klompie skoolkinders haar kom help, maar nog steeds was die aantal besmeerde seevoëls en pikkewyne nimmereindigend.

Een middag vra 'n siniese toeskouer:  "Hoekom gee julle nie maar die stryd gewonne nie?  Watter verskil kan julle moeite tog maak aan so 'n groot ramp?"

'n Jong seun het die antwoord gegee. Terwyl hy 'n seemeeu met wit gewaste vlerke die lug in stuur en dié koers kry oor die see, roep hy uit:  "Dit maak 'n verskil vir die een!  As jy help in plaas van rondstaan, kan jy vandag nog 'n paar help."

DIE  HOUTBAK

'n Seuntjie het saam met sy pa en ma in 'n huisie aan die rand van 'n woud gewoon. Alhoewel hulle nie ryk was nie, het hulle goed gelewe. Die seuntjie het nooit honger gaan slaap nie.

Naby hulle het ryk mense gewoon wat altyd deftig gelewe het. Eendag kom bly die ryk mense se oupa by die ryk mense omdat hy al baie oud was en nie meer alleen vir homself kon sorg nie.

Die seuntjie was baie bly toe die oupa daar kom bly het, want hy het hom gereeld besoek omdat die oupa mooi stories kon vertel. Hy het baie lief vir die goeie oupa geword.

Die ou man kon nie meer so goed sien nie. Die ouderdom het ook al in sy hande gesit. Hulle het soos blare in die wind gebewe, sodat hy gesukkel het om te eet omdat dit vir hom moeilik was om 'n lepel of vurk vas te hou. Die gevolg was dat daar altyd kolle op die mooi duur tafeldoek en krummels op die vloer rondom sy stoel was. Die ryk mense het niks daarvan gehou nie en gesê hy steek hulle in die skande by hulle vriende.

Hulle besluit toe om die oupa eenkant te laat sit. Ver van die hooftafel af, in die hoek van die kombuis ingedruk. Maar een aand glip die oupa se bord uit sy hande en val stukkend op die duur teëlvloer. Daar en dan besluit die ma dat sy nou genoeg gehad het van die ou man se alewige gemors ‒ en nou het hy boonop een van haar goeie duur porseleinborde gebreek.

Die volgende oggend gaan sy mark toe en koop vir die Oupa 'n houtbord; eintlik 'n diep houtbak. Van daardie aand af moes die Oupa in die hoek van die kombuis met 'n lepel uit sy houtbak eet. Die seuntjie se hart was seer oor die oupa so stief behandel word. Die oupa was sy goeie vriend en hy het geweet die Oupa is 'n wonderlike en wyse man wat maar net oud geword het.

Eendag sien die ryk mense hoe die seuntjie besig is om iets uit 'n blok hout te kerf. Toe hulle nader stap, sien hulle dat dit 'n houtbak is.

"Een bak is genoeg vir die oupa," sê hulle.

Die kind skud sy kop. "Maar dis nie vir julle Oupa nie. Dis 'n present vir julle. Eendag as julle oud geword het, kan julle hieruit eet."