WYSHEIDSTORIES (11)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade 

PLANT  'N  BOOM

Nadat dit gereën het, het 'n baie ou man gate in sy tuin begin grawe.

"Wat doen jy?"  vra sy buurman belangstellend.

"Ek gaan hier vrugtebome plant,"  kom die antwoord.

"Verskoon my, maar dink jy regtig jy sal nog van die vrugte van die bome kan eet?"  vra die buurman.  "Ek meen, jy is darem al diep in jou jare en so 'n boom groei stadig."

"Nee, natuurlik dink ek nie ek sal nog self daarvan eet nie," sê die ou man. "Teen daardie tyd sal ek seker al dood wees. Maar ek het alle hoop dat ander mense sal!  Ek het besef dat ek my lewe lank vrugte geëet het van bome wat ander mense geplant het. Dis nog nie te laat om my dankbaarheid teenoor hulle te bewys nie, daarom laat ek vir ander wat ná my kom 'n paar vrugtebome na."

Dit is nooit te laat om jou taal, kultuur en volk se bestaansreg te beskerm en uit te bou nie. Jou en jou volk se kinders sal die vrugte daarvan waardeer en met dankbaarheid teenoor jou daarop voortbou. Jy het geleef op wat jou voorouers aan jou nagelaat het.

ALTYD  BETER

Toe 'n wêredberoemde klavierspeler negentig jaar oud was, het hy nog steeds elke dag vier of vyf ure lank geoefen. Toe hulle hom vra waarom hy op sy ouderdom en met sy goeie spel nog steeds so hard werk, was sy antwoord:  Omdat ek elke dag probeer om nog beter te speel.

SONDER  OM  'N  OOG  TE  KNIP

Toe die vyandelike leër die dorpie binneval, het al die inwoners die berge in gevlug. Die verkenners het aan die oorwinnaar kom vertel dat daar niemand was om belasting te betaal nie.

"Is hier niemand in die dorp oor nie?"  vra die veggeneraal.

"Net een man. Hy het in sy huisie agtergebly en weier om hierheen te kom. Ons wou hoor of ons hom moet doodmaak of met geweld hierheen moet sleep."

"Neem my na hom toe!"  Die generaal is woedend omdat die man nie uitgekom het om met vrees en bewing eer te betoon aan hom as oorwinnaar nie.

Hulle tref die man aan waar hy rustig in sy huis sit en lees. Hy kyk skaars op toe die generaal die deur oopruk en dreigend sê:  "Weet jy nie dat jy voor jou iemand sien wat jou sonder om 'n oog te knip met 'n swaard kan deurboor nie?"

"Weet jy nie,"  antwoord die man kalm,  "dat jy voor jou iemand sien wat deurboor kan word sonder om 'n oog te knip?"

'n Oomblik kyk die generaal die moedige man ongelowig aan.  "Jy is die geestelike oorwinnaar. As ek jou doodmaak is ek die lafaard."  Uit respek buig die generaal laag en trek die deur agter hom toe met die bevel aan sy manskappe dat hierdie man goed versorg moet word.

So moet ons ons man teen stembus-getalle-oorwinnaars staan:  Weet julle nie dat julle ons kan doodstem nie, maar dat ons die geestelike oorwinnaars is en sal bly veg nie?  

DUURSAME  SKOONHEID

Een van die grootste skilders het in die laaste jare van sy lewe geweldig pyn verduur as gevolg van pyn in sy vingers en gewrigte. Hy was so te sê verlam en kon aan die einde nooit meer sy huis verlaat nie. In die tyd het sy groot vriend en vertroueling hom daagliks besoek.

Sy vriend was dertig jaar jonger as die skilder, maar het die grootste bewondering vir sy kuns gehad. Dag vir dag het hy kom kyk hoe die ouer man skilder. Al moes hy met elke kwasveeg die ergste denkbare pyn verduur, het die skilder nooit ophou werk nie.

Eendag, kort voor die skilder se dood, kyk sy vriend weer hoe die skilder op sy tande byt terwyl hy sukkelend die kwas na die palet bring. Toe bars hy uit:  "My magtig, hoekom hou jy aan en aan met skilder?  Dis nou al baie lank dat jy so teen die pyn veg met elke beweging van die kwas . . .  Jy kan mos nou maar ophou."

Die skilder het opgekyk van daardie skildery, wat een van sy beroemdste skilderye sou word, en eenvoudig gesê:  "Die pyn gaan verby, maar die skoonheid van die skildery bly."

As jy ouer word, verbeter jou vermoë as gevolg van ervaring en kan jy 'n groter erfenis nalaat. Hou aan om die goeie te doen. Doen dit nou, mȏre kan te laat wees.