WYSHEIDSTORIES (12)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade 

AS  JULLE  DIT  VAN  MY  DINK

'n Onderwyser het twee kinders met dieselfde naam in sy klas gehad.

Die een Pieter was 'n vrolike, hoogs intelligente kind met pragtige maniere. Die ander Pieter was 'n bietjie van 'n probleemkind. Nie dom nie, maar sonder selfvertroue, en daarom was hy die hele tyd daarop uit om aandag te trek. Sy werk het daaronder gely en die onderwysers was glad nie gelukkig met hom nie.

 By die eerste ouer-onderwyser-vergadering van die nuwe jaar kom 'n vriendelike ouerpaar na die nuwe onderwyser en vra hoflik:  "Hoe vorder Pieter in jou klas?  Kom julle darem oor die weg?"  Onder die indruk dat hulle die ouers van die voorbeeldige Pieter moes wees, antwoord die onderwyser:  "O ja!  Hy is hoogs intelligent. Dit is regtig vir my 'n plesier om hom in my klas te hê."

Die volgende oggend kom die  "stout"  Pieter na die onderwyser.  "Haai, Meneer, my ma het vir my gesê wat Meneer gisteraand van my gesê het. Ek het nog nooit 'n onnie gehad wat gesê het dis 'n plesier om my in die klas te hê nie!"  Die onderwyser het nie die hart gehad om hom reg te help nie. Maar die wonderlike ding is dat daardie Pieter van daardie dag af sy huiswerk klokslag ingelewer het. Netjies en goed gedoen. In die klas was hy stiller, en wanneer die onderwyser hom 'n vraag gevra het, het hy nie meer aandag getrek deur met 'n verspotte antwoord vertonerig te probeer wees nie, omdat hy die meeste antwoorde geken het. Dit was duidelik dat hy sy houding verander het.

Die twee Pieters was nou dieselfde goeie kinders. Die probleemkind het 'n sterleerling geword omdat hy onder die indruk was dat sy onderwyser in hom glo. 'n Mens kan goed word net omdat jy self glo dat jy goed van hart is en iemand anders sal dan ook in jou glo.

HOEVEEL  MUNTSTUKKE?

Daar is 'n baie ou storie van die brandarm seuntjie wat saam met sy ma op 'n karige inkomste geleef het. Baie dae hulle niks gehad om te eet nie. Eendag kry hy toe die groot geluk om iemand se beursie op die markplein op te tel. Hy hardloop huis toe om vir sy ma te wys.

Hulle het saam die beursie omgedop en vyftien goue muntstukke het uitgeval. Toe sy haar seuntjie se opgewonde blink ogies sien, het die ma amper besluit dat hulle maar die geld vir hulle kon neem - hulle het dit broodnodig gehad om brood te koop. Maar toe besef sy óók dat sy meer vir haar kind sal beteken as sy vir hom lewenswaardes leer. Sy het geglo dat eerlikheid 'n mens beter te staan kom in die lewe as 'n ekstra stukkie brood.

Daarom verduidelik sy toe vir hom dat dit nie hulle geld is nie, en dat hy die beursie met geld en al na die markplein moet neem, die eienaar moet opspoor en sy geld vir hom teruggee. Waarom?  Omdat eerlikheid een van die waardes is waarvolgens beskaafde mense lewe. Die seuntjie het so gemaak, die eienaar van die beurs gevind, en dit aan hom teruggegee.

Maar die man was nie so eerlik soos die ma en haar seuntjie nie. Hy het 'n geleentheid gesien om 'n ander te verneder en aan almal voor te gee hy is ryker as wat sy beursie getuig, en kom toe met die storie dat daar dertig goue muntstukke in die beurs was en nie net vyftien nie. Dit was sy woord teen die van die seuntjie, en aangesien hy 'n ryk inwoner van die dorpie was, het hy hof toe gegaan, oortuig daarvan dat die regter na hóm sou luister.

Die regter het goed na die man en die seun se weergawes van die gebeure geluister. Hy was beïndruk met die seun se getuienis, en hy het geweet dat die eienaar van die beurs 'n leuenaar was. Maar die regter kan net op getuienis sy beslissings maak. Toe kom die regverdige regter met die volgende uitspraak:

Omdat die man getuig dat hy 'n beurs met dertig goue muntstukke in verloor het, en die een voor die hof net vyftien goue muntstukke bevat, kan dit nie sy beurs wees nie. Toe verduidelik hy verder dat niemand 'n verlore beurs met vyftien muntstukke in gerapporteer het nie. Die seun kon dus die beurs en goue muntstukke hou omdat die eienaar nie opgespoor kon word nie.

Eerlikheid is altyd skaars. Reeds jare gelede was daar so min eerlike mense dat 'n man oordag met 'n lantern rondgeloop het. In sy ander hand was 'n plakkaat met die woorde: Ek soek een eerlike mens. Sal hy jou vind?