WYSHEIDSTORIES (13)

Skerp Waarnemer

Lees reeks by Wysheidstories

Soek elke storie se les

en omskep dit in dade

 

GERINGSTE  ONDER  ONS

 'n Houtkapper het die woud in geloop en die bome gevra om vir hom hout te voorsien om 'n steel vir sy byl te maak.

Die bome het die saak bespreek en die hout van die jong esdoringboompie aangebied. Die es was magteloos, en die houtkapper het hom afgekap en 'n steel vir sy byl van die stam gemaak.

Toe begin die houtkapper dadelik die hoogmoedige boomreuse een vir een afkap.

'n Ou eikeboom het weemoedig gesug:  "Ons het net aan onsself gedink deur ons broertjie maklik op te offer. Maar ons het ons eie ondergang bewerk toe ons versuim het om die swakste onder ons te beskerm. Nou word ons almal doodgemaak."

Gee vir mekaar om deur mekaar te help en by mekaar te staan in plaas van te verwag dat ander by ons moet inval. Jou volk het jou nodig.

EIE  KULLERY

'n Bakker het die boer wat botter aan hom verskaf het, daarvan verdink dat hy hom verkul met die gewig van die botter. 'n Hele paar dae namekaar het die bakker die gewig van die botter nagegaan, en sy vermoedens is bevestig:  Al die blokke het minder as die vasgestelde kilogram geweeg. Hoogs verontwaardig het hy die boer laat arresteer.

Gedurende die hofsaak het die regter agtergekom dat die boer eerlik is. Hy vra toe hoe die boer te werk gegaan het om die botter te weeg.

Omdat hy nie self 'n weegskaal gehad het nie, het die boer die brood wat die bakker aan hom verkoop het, gebruik om die botter dieselfde gewig as die kilogram brood te maak. Die brood moes 'n kilogram geweeg het, maar was ligter. Die bakker was dus die oneerlike mens!

Wees altyd eerlik en jy sal nooit van oneerlikheid beskuldig kan word nie. Eerlikheid is 'n noodsaaklike beginsel wat jy op alle gebiede moet toepas sonder om dit skeef te trek.

WAARHEID  WEN

'n Seuntjie van twaalf was die belangrikste getuie in 'n hofsaak. Die advokaat vir die verdediging van 'n ryk vrou, het die kind aan 'n strawwe kruisverhoor onderwerp. Maar die seun was oortuig van sy saak, en het voet by stuk gehou met sy getuienis ‒ wat tot die aangeklaagde se skuldigbevinding kon lei.

Haar advokaat probeer toe om die kind uit te vang met die vraag:  "Jou pa het jou mos voorgesê hoe jy moet getuig, né? " vra hy.

"Ja, Meneer."

"O so?"  sê die advokaat, tevrede dat sy strategie gewerk het.  "Sê nou vir ons presies wat het jou pa gesê moet jy in die hof sê?"

"Wel,"  antwoord die seuntjie,  "Pappa het gesê die advokate sal miskien probeer om my deurmekaar te maak, maar ek hoef nie bang te wees dat hulle my sal verwar nie. Hy het gesê as ek net die waarheid vertel, moet ek maar net elke keer presies sê wat regtig gebeur het. Dan sal ek geen probleme hê nie."

As 'n mens die waarheid praat, het jy nie nodig om te onthou waar jy gejok het nie.

BLINDE  VERTROUE

Twee beroemde kenners van plante was besig om deur die valleie van Skotland te reis op soek na skaars plante vir hulle versamelings en bewaring. Eendag sien een van hulle 'n werklik besondere blom raak. Ongelukkig het dit onder 'n baie hoë krans gegroei waar hulle glad nie kon uitkom nie.

Hulle gaan toe na die naaste dorpie en vra uit na 'n seun wat in die berge rondgeklim het en so 'n avontuur sou aanpak. Hy moes hom van bokant die krans oor die afgrond aan 'n tou laat afhys om die blom vir hulle te pluk. Hulle het hom 'n ordentlike vergoeding aangebied, maar hy wou nie. Hulle het hom verseker dat dit eintlik heeltemal veilig is aangesien hulle twee sterk manne is wat saam die tou sou vashou, maar hy het steeds sy kop geskud. Selfs toe hulle hom meer geld aanbied, en later 'n uitspattige bedrag, het hy bly weier.

Toe die plantkenners besef dat geld nie die probleem was nie, het hulle die seun gevra wat hom van plan sou laat verander.  "Ek sal dit net doen as my pa die punt van die tou vashou,"  het hy verduidelik. Hulle het die pa gaan soek. Hy was 'n gewone man en nie so sterk soos hulle altwee nie, maar hy was gewillig om te help. Hy het die tou vasgehou en sy seun teen die afgrond af gehelp wat met die skaars blom teruggekom het.

Toe hulle later, 'n bietjie dronkgeslaan, vra waarom sy pa dan die tou moes vashou ‒ hy was immers nie so sterk soos hulle twee saam nie. Toe gee hy 'n eenvoudige antwoord:  "Ek vertrou my pa."

Moenie enige vreemdeling vertrou nie, al is hulle baie sterk of baie ryk en vol beloftes. Vertrou jou vader en jou voorouers en vertroubare volksleiers wat hulle beginsels aan hulle nageslag oorgedra het wat jou nie in die steek sal laat nie. Hulle sal jou vertroue bevredig en jou op die pad van rotsvaste volksbeginsels lei.